PERSVERKLARING DEUR DIE SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING
10 Mei 2024
SA Jagters reageer op bewerings van bedrog
Bewerings van bedrog en ander klagtes teen kaptein Karel du Toit, bevelvoerder van die SAPD op Springbok, Noord-Kaap het op Vrydag, 10 Mei 2024 in die media verskyn.
Die berigte beweer verder dat kapt. Du Toit ‘n lid is van die raad van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) en dat die vereniging bevoordeel is deur boetes betaal in vorige hofsake of pleitooreenkomste wat beskuldigdes mag aangegaan het.
Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters het bevestig dat Karel du Toit nog nooit ‘n lid was van SA Jagters se raad nie, maar ‘n gewone lid is van die bestuur van die Namakwa-tak op Springbok waar hy ook die bewaringskoördineerder is.
“SA Jagters is geensins bevoordeel deur boetes wat betaal is in vorige sake nie. SA Jagters tree wel op as die voertuig om geld vir bewaringsinisiatiewe aan te wend en bestuur die fondse asof dit trustgeld is. In hierdie stadium het SA Jagters geen verdere feite oor enige van die beweerde klagtes nie en sal ons geensins spekuleer oor enige optrede nie. Die gereg sal doodgewoon sy gang gaan,” het Camphor gesê.
Uitgereik deur die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging.
Navrae: Fred Camphor op 082-445-0498