Die ou groen vuurwapenlisensies uitgereik onder die vorige vuurwapenwet bly vir die oomblik geldig indien daar nooit aansoek gedoen is vir nuwe lisensies vir daardie vuurwapens nie. Indien die vuurwapeneienaar egter reeds ʼn hernuwingsaansoek (vir die wit lisensiekaartjie) ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) ingedien het, en die nuwe lisensie ontvang het, is die groen lisensie ongeldig. Indien die aansoek vir ʼn nuwe lisensie nie goedgekeur is nie kan die ou groen lisensie ook steeds geldig wees.
Daar is ʼn logiese aanname dat die ou groen lisensies een of ander tyd ongeldig verklaar sal word. Intussen raai SA Jagters sy lede met geldige groen lisensies aan om aansoek te doen vir vuurwapenlisensies (wit lisensies) ingevolge die nuwe wet. Dit vereis dat aansoekers geldige bevoegdheidsertifikate saam met die aansoek moet indien.
SA Jagters en die SAPD het in 2020 begin praat oor ʼn sinvolle proses om alle groen lisensies na wit lisensies om te skakel. Dit volg ná ʼn poging van die Staat om die hofbevel van die Gauteng Noord Hooggeregshof in 2009 ten gunste van SA Jagters, te laat herroep. In 2009 het die Hof beslis dat die ou groen lisensies geag word geldig te bly totdat die hoofaansoek van SA Jagters aangehoor en beslis is. Die hoofaansoek is egter nog nooit aangehoor nie omdat die SAPD nooit daarop gereageer het nie.
SA Jagters en sy regspan het die Staat se poging betwis en daarna ʼn plan by die SAPD ingedien vir ʼn proses om die ou groen lisensies na wit lisensies om te skakel.
Hierdie gesprek met die SAPD het doodgeloop en daar is ongelukkig geen verdere inligting oor die status van hierdie proses nie.
Vuurwapenwetgewing in Suid-Afrika van 2004 tot 2023
SA Jagters werk deurlopend om die belange van ons lede en wetsgehoorsame vuurwapeneienaars in die algemeen te beskerm. Die onderstaande samevatting skets die agtergrond rondom die Wet op die Beheer van Vuurwapens, pogings tot wysigings van die wet, frustrasie onder vuurwapeneienaars oor twee dekades en die prominente rol wat SA Jagters in hierdie prosesse gespeel het.
Vir bykans 20 jaar sedert die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) in Julie 2004 in werking getree het, ervaar vuurwapeneienaars – en enigeen wat graag ’n vuurwapen wil besit – een struikelblok na die ander weens die SAPD se gebrekkige implementering en oënskynlike onvermoë om die bepalings van hierdie wet te administreer.
Tussen 2005 en Augustus 2020, het die SAPD vier amnesties aangekondig met die doel om o.a. onwettige en ongelisensieerde vuurwapens wat met misdade verband hou, uit die gemeenskap te verwyder. Volgens syfers van die kommissaris van Polisie, is 122 783 vuurwapens in die 2005 en 2010 amnesties ingehandig waaruit nie een enkele vuurwapen met ʼn misdaad verbind kon word nie.
1 Julie 2004: Die Wet op die Beheer van Vuurwapens, Wet 60 van 2000 tree in werking met 30 Junie 2009 as die teikendatum vir volledige implementering. Die doel van die wet is om:
SA Jagters was instrumenteel in die deurbraak om die vorige konsep van bona fide jagter te omskep na toegewyde jagter- en toegewyde sportskutstatus wat geakkrediteerde jag- en sportskietverenigings aan lede kon toeken. Alle vuurwapeneienaars was veronderstel om teen die implementeringsdatum van 30 Junie 2009 aansoek te doen vir die heruitreik van bestaande vuurwapenlisensies ingevolge die nuwe wet.
Gedurende Junie 2009: Na raming (verskeie bronne waaronder die SAPD) het ongeveer 700 000 vuurwapeneienaars versuim om aansoeke vir hernuwing van hul vuurwapenlisensies in te dien, grootliks weens die Polisie se onvermoë om die proses te bestuur. Gevolglik kon hierdie vuurwapeneienaars op 30 Junie 2009 effektief as kriminele verklaar word en tot 15 jaar gevangenisstraf opgelê word.
23 Junie 2009: SA Jagters bring ʼn dringende aansoek in Noord Gauteng hooggeregshof om die skrap van ou groen lisensies op 30 Junie 2009 te stuit. Hiermee saam word ʼn hoofaansoek gebring wat handel met die grondwetlikheid van die oorgangsmaatreëls na die nuwe lisensies. SA Jagters versoek die hof om die ou groen lisensies steeds geldig te ag hangende die uitspraak in die hoofaansoek (oor grondwetlikheid).
26 Junie 2009: Wyle Regter Bill Prinsloo lewer uitspraak in die dringende aansoek in die guns van SA Jagters en bepaal dat alle ou groen lisensies waarvoor nog nie aansoek gedoen is vir herlisensiëring nie, geag word geldig te bly totdat die hoofaansoek beslis is. Die SAPD het nooit gereageer op die hoofaansoek oor die oorgangsmaatreëls nie en die hoofaansoek is nooit aangehoor nie. Die uitspraak in hierdie dringende aansoek bly dus geldig.
25 November 2009: Die SAPD kondig ʼn vuurwapenamnestie aan van 11 Januarie tot 11 April 2010 wat mense met ongelisensieerde vuurwapens die kans gee om vuurwapens in te handig of aansoek te doen vir amnestie met die oog op herlisensiëring. Niemand wat ʼn wapen inhandig sou vervolg word net vir die onwettige besit daarvan nie.
Gedurende 2011: Die eerste lisensies wat uitgereik is ingevolge die nuwe wet, het begin verval (5 jaar vir artikel 13 wapens vir selfverdediging). Twee groot probleme het opgeduik, nl. die geldigheid van bevoegdheidsertifikate en die voorwaarde dat lisensiehouers hernuwingsaansoeke moet indien meer as 90 dae vóór hulle lisensies verval. ʼn SAPD-direktief (10A) verklaar dat ʼn bevoegdheidsertifikaat geldig is so lank as wat die lisensie van die betrokke tipe vuurwapen geldig is. Vir laat hernuwingsaansoeke (binne die 90 dae tydperk voor die lisensie verval) is verskeie ander voorwaardes ingestel wat tot meer verwarring gelei het.
Maart 2015: Die Konsepwysigingswet op die Beheer van Vuurwapens word vir kommentaar gepubliseer. Die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie hou ʼn beraad om aspekte rondom die wet te bespreek. Anti-vuurwapen aktiviste/groepe plaas druk op die regering vir beter beheer oor vuurwapens. Die wetsontwerp word later teruggetrek en ʼn taakspan word aangestel om ʼn ‘omvattende hersiening’ van die wet te ondersoek.
26 April 2017: SA Jagters versoek die Noord-Gauteng Hooggeregshof om Artikels 24 en 28 (onderskeidelik die hernuwing en verval van lisensies) van die vuurwapenwet ongrondwetlik te verklaar en die staat opdrag te gee om dié twee artikels te hersien en die lisensies wat verval het, geldig te ag totdat ʼn nuwe hernuwingsproses in werking tree.
4 Julie 2017: Die aansoek slaag en die hof lewer uitspraak in SA Jagters se guns. Die SAPD reageer deur appèl aan te teken in die Konstitusionele Hof.
8 Junie 2018: Die Konstitusionele Hof lewer uitspraak in die guns van die SAPD dat Artikels 24 en 28 van die vuurwapenwet nie ongrondwetlik is nie.
27 November 2019: SAPD kondig ʼn vuurwapenamnestie aan wat vuurwapeneienaars ses maande tyd gee om ongelisensieerde vuurwapens in te handig.
4 Desember 2019: SA Jagters versoek die minister van polisie in ʼn ope brief om sekere aspekte van die amnestie te verduidelik en die amnestie terug te trek in ruil vir ʼn nuwe ronde gesprekke met belanghebbendes.
28 Maart 2020: Covid-19-inperkings ruk die land tot stilstand en aanvanklike inperkings belemmer individue wat die amnestie wou gebruik om wapens onder die amnestie in te handig.
1 Augustus 2020: SAPD kondig ʼn verdere ses maande vuurwapenamnestie aan tot 31 Mei 2021.
8 September 2020: Die staatsprokureur lig SA Jagters in dat die hofinterdik van Junie 2009 (geldigheid van groen lisensies) herroep gaan word en versoek die Vereniging om die hofaansoek te onttrek. SA Jagters reageer dat die Vereniging eerder in gesprek wil tree oor ʼn proses om die groen lisensies om te skakel na “nuwe lisensies”. Die staatsprokureur stem in tot so ʼn proses.
1 Junie 2021: ʼn Nuwe konsepwysigingswet op die beheer van vuurwapens word gepubliseer met die spertyd vir kommentaar op 4 Julie 2021. SA Jagters moedig lede en die publiek aan om kommentaar in te dien. SA Jagters loods ʼn omvattende multimedia bewusmakingsveldtog om die impak van die voorgestelde wysigings te ontleed en te bevraagteken. Talle petisies teen die implementering van hierdie wysigings word landwyd ondersteun. Ongeveer 118 000 kommentare is van die publiek ontvang.
1Julie 2021: Die sperdatum vir kommentaar op die konsepwysigingswet word verleng tot 2 Augustus 2021.
November 2021: Die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie kondig aan dat die konsepwysigingswet teruggehou word vir verdere konsultasie. Daarmee sterf die proses rondom hierdie voorgestelde hersiening van die wet ʼn natuurlike dood.
27 Mei 2022: Die Konstitusionele Hof lewer uitspraak ten gunste van Fidelity sekuriteitsfirma in sy hofaansoek teen die SAPD oor 700 vuurwapenlisensies van Fidelity wat verval het.
Hierdie uitspraak bring ʼn dramatiese verandering in die landskap mee. Dit kom daarop neer dat enige individu kan aansoek doen vir ʼn nuwe lisensie vir enige wapen waarvan die lisensie verval het.
Julie 2022: Die SAPD kondig aan dat vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, nie die vuurwapen by die Polisie hoef in te handig nie, maar die wapen na die betrokke aangewese vuurwapenoffisier moet neem vir verifiëring en die uitreik van ʼn voorgeskrewe sertifikaat. Die aansoek word as ʼn gewone aansoek vir ʼn nuwe lisensie hanteer en die aansoeker moet in besit wees van ʼn geldige bevoegdheidsertifikaat voordat die aansoek vir ʼn nuwe lisensie ingedien kan word In beginsel beteken dit so te sê ʼn permanente amnestie. Daar kan dus enige tyd aansoek gedoen word vir ʼn nuwe lisensie vir ʼn vuurwapen waarvan die lisensie verval het, sonder die noodsaak om die wapen by die Polisie in te handig.
12 September 2022: Die SAPD gee opdrag aan polisiestasies dat hulle tydelike permitte aan vuurwapeneienaars moet uitreik wie se lisensie-aansoeke goedgekeur is, maar wat nog nie lisensiekaarte ontvang het nie.