Jou Jag en Sportskiet Gemeenskap – ons fokus
Takaktiwiteite is die hartklop van die Vereniging
Jou Jag en Sportskiet Gemeenskap – ons fokus
Takaktiwiteite is die hartklop van die Vereniging
Met meer as 80 takke wat verdeel is in 15 streke en diens verleen aan ongeveer 40 000 lede, berus die sukses van die takgedrewe model op die toewyding, sorg, en passie van sy lede wat hul tyd gee en hul kundigheid sonder vergoeding deel.
SA Jagters (SAJWV) is ‘n vrywillige, lede-organisasie wat deur lede op takvlak bestuur word. Elke tak organiseer ‘n verskeidenheid aktiwiteite om aan die behoeftes van sy lede te voldoen. Dit sluit georganiseerde skietdae en kompetisies, skietvaardighede en verwante opleiding, bewaringsaktiwiteite, jaggeleenthede, en sosiale byeenkomste in.
Gesinsdeelname is deel van takaktiwiteite waar elke lid van die gesin die SA Jagters-kultuur van vuurwapens, skiet, jag en bewaring kan ervaar.
Die 80+ takke is landswyd versprei in elke provinsie. Nuwe lede word dadelik verwelkom in die SA Jagters takgemeenskap en word uitgenooi om aan die aktiwiteite deel te neem om die volle spektrum van die Vereniging se dienste en voordele te ervaar.
Takke kommunikeer hul aktiwiteite en program in maandelikse nuusbriewe, WhatsApp en op hul Facebook-bladsye. Elke tak verkies ‘n bestuurskomitee met toegewyde portefeuljes vir die verskeie aktiwiteite wat dit aanbied. Lede kan direk skakel met die takvoorsitter of ander verkose komiteelede vir inligting en hulp om die volle voordeel van die SA Jagters se lidmaatskap en deelname op takvlak te geniet.
Individuele takke toon kreatiwiteit en innovasie om dienste aan hul lede te bied. Die Vrystaat Sandveld-tak by Soutpan is geleë in die hart van ‘n landbougemeenskap en bied hoofsaaklik dienste aan lede wat boere is. Skietdae by hierdie tak betrek die hele gesin en eindig gewoonlik met ‘n sosiale braai nadat die vergaderings en skietaktiwiteite vir die dag afgehandel is.
Stedelike takke struktureer hul aktiwiteite gewoonlik anders om by die lewenstyl van stedelinge aan te pas. Hul skietdae vind plaas op Saterdae en die sosiale aktiwiteite word op weekaande gehou. Elke tak struktureer sy aktiwiteite om aan die behoeftes van sy lede op die beste moontlike manier te voldoen.
Die jeug is ons toekoms. Hulle sal uiteindelik die verantwoordelikhede oorneem om die Vereniging te bestuur volgens lede se behoeftes en verwagtinge. As jagters en natuurliefhebbers is dit belangrik dat ons jongmense toerus om bewaring, jag, vuurwapens en die natuur te waardeer.
Dit bly ʼn uitdaging om hul belangstelling voldoende te stimuleer om by hierdie aktiwiteite betrokke te raak. Ouers wat hul kinders saamneem op kampvakansies, wildreservate besoek, jagtogte onderneem, en deelneem aan SA Jagters se aktiwiteite op takvlak, lê ‘n goeie grondslag vir jongmense om hul vaardighede te ontwikkel en hul passie vir die natuur en die wildlewe te kweek. Dit stel hulle in staat om die Vereniging se kultuur en bewaringserfenis in die toekoms te lei.
Die belangrikheid om jongmense op ‘n jong ouderdom by takaktiwiteite te betrek, kan nie genoeg benadruk word nie. Aktiewe lede sluit gewoonlik hul kinders by takaktiwiteite in. Sommige takke het sukses gehad om jongmense uit hul gemeenskappe wat geen band met die Vereniging het nie, te bereik. Met die regte mentors en voorbeelde, kan hierdie onverbonde jongmense waardevolle lede van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereningings en die leiers van die toekoms word.