Die Wilger- en van die perskebome in my tuin word jaarliks deur die paar dae voor Lentedag op 1 September geflous deur die heerlike warmer dae. Oorgretig om eerste te wees met bloeisels en groen gekleed in nuwe blaardos maak hulle jaarliks die fout om September te vertrou . Hierdie jaar mag 1 September dalk weer vir ons ʼn verrassing inhou.
Jagtyd is vir die meeste van ons verby en dink ons terug aan die lesse wat die natuur aan ons geleer het. Dikwels wreed en onregverdig is sy nou maar verseker. Die oorlewing van die sterkstes, met geen simpatie met die swakkere en verloorder nie.
Om ons is ons wêreld ook besig om te verander. Die onsekerheid oor ons toekoms kom lê al nader aan ons siel en hoop ons soos die Wilger- en Perskebome te kan floreer in hoop. Ten spyte van die mens se onvermoë om in vrede met mekaar saam te lewe, rig ons tog ons hoop op die onbekende.
Die heimwee na kuier saam met jagmaats wat die natuur en gepaardgaande jagetiek naby aan hulle menswees koester, word sagkens in die toekomskluis gestoor.
Niks keer ons om vir die volgende jagseisoen te beplan nie. Jagmaats wat saam in die jagveld kan wees en meelewend teenoor mekaar optree sonder onnodige geraas en lawaai. Baie dankie dat daar nog sulke sielsgenote kan wees. Jagters wat die deernis kan verstaan en die jagskat wat so eie aan ons wese is, kan vertroetel en bewaar.
Dit is ʼn ware voorreg om aan SA Jagters te behoort waar ons mense kan inspireer om as jagters op te tree maar ook om die natuur te eer, te erken en te bewaar, en ons ons kinders – die volgende geslag jagters en bewaarders van ons jagskat – kan oplei en onderrig.
Algemene Jaarvergadering
Springbok-tak se algemene jaarvergadering vind plaas op Donderdag 7 September. Woon asseblief by. Daar is belangrike besluite waaroor ons moet stem. Wees daar en deel in die bestuur van jul tak.
Gholfdag
Die bestuur werk hard om vir die Gholfdag op 14 September voor te berei. Dit word gehou by die State Mines Country Klub. Registrasie is om 09:00 en afslaan om 10:30.
Projek Grootoog
Dit gaan goed met ons bewaringsprojek en Lionel en sy span laat “OPERASIE GROOTOOG” van sterkte tot sterkte gaan. Daar is nuwe uilkaste gebou en uile losgelaat in die natuur waar hulle hoort. Nuwe kuikens het die lewenslig aanskou in talle kaste. Die uilbevolking sterk goed aan. Baie dankie Lionel.
Vir kantooraangeleenthede:
Ronel: 073 794 9070
Vir foto’s ens:
Ons bied gereeld opleiding aan met elke skietdag. Skakel Ronel by die takkantoor om uit te vind oor opleiding vir baanoffisiere en toegewyde status.
Spanskiet
Met ons skietspan gaan dit van krag tot krag en wil ons namens die Springbok-tak se bestuur, vir Jors en die twee spanne geluk wens met hul deelname aan die nasionale Spanskietbyeenkoms by Sandveld, Bloemfontein. Geluk aan die manne. Julle is ysters!
Aktiwiteite
Skietdae is op elke eerste Saterdag van die maand (2 September) en ledevergaderings elke eerste Donderdag van die maand (7 September).