Augustus was ʼn bedrywige maand op die VS Sandveld kalender, met die Nasionale Intertak Spanskiet en Nasionale Presidentskiet wat op 18 en 19 Augustus by VS Sandveld aangebied is. Dit was twee suksesvolle skietdae met besoekers van oraloor Suid-Afrika wat die dag bygewoon het.
Die Tak-bestuur fokus op verbeteringe van ons fasiliteite en om ʼn goeie klimaat te skep vir gesinsdeelname aan ʼn verskeidenheid van aktiwiteite, en om algemene ledebelange te bevorder. Verskeie ondernemings in en om Bloemfontein, Bultfontein en omgewing betaal vir advertensieborde wat ons by die tak oprig. Die inkomste hieruit word gebruik om verbeterings aan die klubhuis en fasiliteite aan te bring.. Die inisiatief is suksesvol en behalwe vir takfondse wat verbeter, is daar voortdurend nuwe belangstellende skuts wat by die tak betrokke raak.
VS Sandveld-hemde en -hoede is deurentyd beskikbaar op bestelling. Nalize hanteer die bestellings, en taklede is welkom om haar te kontak.
Met die jaar wat vinnig einde toe loop, is daar slegs drie takskietgeleenthede vir 2023 oor.
Die bestuur beplan ʼn heerlike skietgeleentheid in Oktober, met ʼn Oktoberfest-tema. In November sal ons ʼn jaarafsluitings-geleentheid aanbied. Dit sluit ʼn aandete en prysuitdelingsgeleentheid in.
Geen formele opleiding was aangebied nie, maar gekwalifiseerde baanoffisiere kon voor die Presidentskiet op 17 Augustus 2023 ʼn sessie bywoon. Basie Bergh het ʼn inligtingsessie vir baanoffisiere aangebied. Dit was ʼn insiggewende geleentheid vir ervare en nuwe baanoffisiere.
Takbestuur kry voortdurend navrae rakende die Toegewyde Sportskut kursus wat aanlyn deur SAJWV aangebied word. Verskeie taklede het reeds hierdeur as sportskuts gekwalifiseer.
Op 26 Augustus het VS Sandveld die agste takskiet vir die jaar aangebied. 55 taklede en 14 nie-lede het dit bygewoon. Verskeie skietaktiwiteite was aangebied, insluitend die handwapen-, randslag-, windbuksoefeninge en ʼn ghong-baan.
Sandveld ranglyste is vanaf Januarie 2023 deur takbestuur ingestel. Ranglyste vir die Randslag, PCP, Windbuks, Handwapen en Presidentskiet-skietoefeninge word bygehou, en na elke skietgeleentheid opgedateer. Dit bevorder goeie en gesonde kompetisie tussen skuts in takverband.