SA Jagters se jaarlikse kongres is op 2 November 2024 by die WNNR se Internasionale Konferensiesentrum gehou.
Dave Hayter is tot VP Jagsake verkies vir ʼn termyn van twee jaar. Baie geluk Dave, ons wens jou ook sterkte toe met die werk vir die termyn wat voorlê.
Verskeie toekennings is tydens die kongresdinee op 1 November by die WNNR se Internasionale Konferensiesentrum oorhandig. Basie Bergh, President van SA Jagters het die toekennings oorhandig, behalwe vir die Jagtoekennings wat deur Trofeemeester, Andy Sutton oorhandig is.
SA Jagters se Orde van die Buffel: Goud is met die Kongres van 2024 aan Fred Camphor toegeken vir uitstaande dienslewering aan die Vereniging op verskeie vlakke. Hy het onder andere gedien as adjunkpresident, president en sedert 2014 as die uitvoerende hoof van die Vereniging en sy plig nougeset nagekom in belang van die Vereniging en die lede. Fred is veral bekend vir sy toewyding en sukses in regsaksies en gesprekvoering met die SAPD om die regte van vuurwapeneienaars te beskerm. Wat SA Jagters se sakebelange betref, het Fred hom uitstekend van sy taak gekwyt om verskeie kommersiële ondernemings onder die vaandel van SA Jagters met toewyding en kundigheid te bestuur.
SA Jagters se Orde van die Buffel: Goud is met die Kongres van 2024 aan Eugene Troskie toegeken. Eugene maak ʼn daadwerklike bydrae tot die positiewe bewaringsbeeld van SA Jagters en jagters se impak op bewaring. Hy het die Snare Busters inisiatief begin waarmee lede van die Mopani-tak en PNHF gesamentlik weekliks beseerde diere red en strikke in die omgewing verwyder. Eugene en sy span het reeds 7000 strikke verwyder, talle stroperskampe ontdek en onwettige visfuike en nette vernietig. Die internasionale tydskrif, Patrol publiseer artikels, video’s en foto’s van Snare Busters se aktiwiteite.