(Kliek op die onderwerp van jou keuse in die maklike navigasie menu)

Augustus 2023

7 September 2023

Beste kollega

Die jagseisoen is verby en lente is in die lug. Die dae raak warmer maar snags is dit nog koelerig. Hier in die noorde begin ons nou uitkyk vir die eerste reën.

Hierdie nuusbrief het ‘n nuwe baadjie en stel terselfdertyd SA Jagters se herontwerpte nuwe webwerf bekend. Kyk gerus na die video waarin Basie Bergh, ons president sy siening oor die nuwe webwerf en nuwe formaat nuusbrief deel.

Daar is heelwat om na uit te sien voor die einde van die jaar. Bo en behalwe die Wêreldbeker-rugby en Erfenisdag, lê daar nog skietkampioenskappe en die jaarlikse kongres voor, asook die trekking om die wenner van die buffeljagkompetisie te bepaal.

Boodskap vanaf die president

SA Jagters neem vandag met trots sy nuutontwerpte webwerf in gebruik met die bekendstelling van die maandelikse nuusbrief in ʼn lesersvriendeliker formaat.

Die Vereniging se elektroniese en sosiale media platforms bied nou ʼn vars en moderne voorkoms wat soomloos inskakel by alledaagse tegnologiese toestelle en hulpmiddels. Lede kan in ʼn oogwink die jongste nuus lees in die volgorde wat by hulle prioriteite pas. Toepaslike skakels bied toegang tot addisionele inligting in hulle spesifieke belangstellingsvelde.

Dit is ewe maklik om die inligting met ander te deel. Stuur eenvoudig die nuusbrief met WhatsApp aan na vriende en familie.

Geniet die nuwe formaat op jou vingerpunte.

SA Jagters Kongres

Die amptelike kennisgewing van SA Jagters se kongres is reeds vroeg in Augustus uitgestuur. Dit word vanjaar in ʼn ander formaat aangebied.

Daar sal nie die Vrydagaand ‘n dinee en prysuitdelingsfunksie wees soos voorheen nie. Takvoorsitters kom op die Vrydag byeen, en die algemene jaarvergadering vind op Saterdag 4 November plaas.

Die amptelike kennisgewing en relevante dokumentasie is hier beskikbaar.

Buffeljagkompetisie

Benut die kans om hierdie fenomenale jaggeleentheid met ‘n waarde van meer as R600 000 te wen deur R100-kaartjies te koop in ons gelukkige trekking. Jy mag soveel kaartjies koop as wat jy wil.

Die grootste jagprys ooit in die geskiedenis van SA Jagters (5 diere is onlangs by die jaglys gevoeg)

Betaal R100 of veelvoude daarvan in SA Jagters se bankrekening met EFT. Die rekening is

Bank: Absa
Rekeningnommer: 01443990077
Takkode: 632005
Verwysiging: Selfoonnommer en Buffel

Stuur die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za

Vrouemaand

Vrouemaandvieringe is nou wel verby, maar SA Jagters gaan voort om op ons vrouelede te fokus. Ons geniet die stories wat julle instuur só baie, dat ons besluit het om die uitnodiging met nog twee weke te verleng. Stuur gerus julle stories aan dorothy@sahunt.co.za

Yvette Aggenbach is die eerste vrou wat in SA Jagters se skietkomitee dien. Yvette is ʼn kranige skut met ʼn bewese skietrekord en reputasie op die skietbaan. Sy is daartoe verbind om jong skuts te ontwikkel en aan te moedig om hulle volle potensiaal te bereik. Lees die stories hier

Sosiale media

Gedurende September verskuif die fokus na die Wêreldbeker-rugby. SA Jagters staan bankvas agter die Springbokke! Go Bokke!

SA Jagters maak toenemend gebruik van sosiale media om inligting te deel. Hierdie nuusbrief sal voortaan met WhatsApp aan lede gestuur word, terwyl die Vereniging ook meer aktief op Facebook sal wees.

Stuur gerus hierdie nuusbrief aan na vriende, familie en kennisse wat jou belangstellings deel.

Takke wat hulp nodig het om hul eie Facebook bladsye op te stel, kan Marette kontak op +27 82 553 4719 of marette@sahunt.co.za

2023 Nasionale Intertak- en Presidentskietkompetisies

SA Jagters se beste skuts het in Augustus hul skietvernuf ten toon gestel tydens die 2023 nasionale Intertak en Presidentskietkompetisies wat by die Meerkatgat-skietbaan naby Bloemfontein gehou is. Die Duikerramme het die spankompetisie gewen, gevolg deur Baviaanspoort-buffels. 64 skuts het in verskeie kategorieë vir die Platinumtoekenning gekwalifiseer. Safari Outdoor en SA Jagters-winkel het die pryse geborg. Die volledige artikel vir die uitslae, met foto’s van die dag hier.

Nasionale skietkampioenskappe om na uit te sien vir die res van 2023:

  • Haelgeweer op 16 September 2023 op die Hippo Creek-skietbaan aangebied deur die nasionale kantoor
  • Junior kampioenskap op 6 en 7 Oktober 2023 op die Excalibur-skietbaan, Welkom aangebied deur Sandrivier-58-tak
  • Limited Bolt Action kampioenskap op 14 Oktober 2023 op die Riemland-skietbaan, Bethlehem aangebied deur die Riemland-tak
  • Multidissipline Sportskietkampioenskap op 20 en 21 Oktober 2023 op die Pretoria Military Practical shooting range, Eeufeesweg, Pretoria aangebied deur die Centurion en Pretoria-Oos-takke
  • Sportskietkampioenskappe op 27 en 28 Oktober 2023 op die Excalibur-skietbaan, Welkom aangebied deur Sandrivier-58-tak.

Multidissipline Sportskiet (MDS)

Inligting oor ʼn stelsel om MDS-tellings te prosesseer, opleiding van MDS-baanoffisiere en die MDS-handleiding is nou beskikbaar. Waar nodig, verskaf asb. inligting oor baanoffisieropleiers sodat ons ons inligting kan bywerk. Gaan na die MDS bladsy.

Internasionale grootkaliber skietgeleentheid

Die SSAA in Australië (SA Jagters se susterorganisaie in Australië) het die internasionale Grootkaliber skietgeleentheid uitgestel na 23 tot 25 Augustus 2024 in Darwin Noord-Australië. Sien die uitnodiging en die formaat van die kompetisie, sowel as handige aanvullende inligting hier.

BASA Skietdag

Die SA Big Bore Association het ook ‘n uitnodiging gerig aan SA Jagters om spanne in te skryf vir hulle korporatiewe grootkaliber skietdag op 11 November 2023. Kyk gerus vir meer inligting hier.

Toegewyde status

SA Jagters het nou 14 520 lede met Toegewyde Jagterstatus en 12 155 lede met Toegewyde Sportskutstatus. Hiervan het 8 756 lede reeds genoegsame aktiwiteite geregistreer om die Toegewyde Jagterstatus te behou en 5 801 om die Toegewyde Sportskutstatus te behou.

Onthou dat toegewyde status noodsaaklik is wanneer u meer as 4 vuurwapens besit. Sou u toegewyde status nie op datum wees nie kan u die behoud van meer as 4 vuurwapens op risiko plaas en u kan van u wapens verloor.

Vir die behoud van toegewyde status vir 2023 is daar kans tot einde Oktober 2023 om 3 sportskietaktiwiteite en 2 jagverwante aktiwiteite te registreer. Doen dit asseblief om u status in stand te hou. In geval van enige vrae of onsekerheid bel asseblief vir Petrus Swart by (012)8089300 of stuur ‘n e-pos boodskap aan petrus@sahunt.co.za

Goeie begin vir aanlyn winkel

Koop 'n geskenkbewys hier

Die SA Jagters se aanlyn winkel is nou oop vir inkopies. Die SA Jagters-winkel het ‘n groot verskeidenheid produkte van vooraanstaande vervaardigers in die jag- en skietbedryf.

Die aanlyn winkel bied een-stop-inkope aan lede en klante. Kyk gerus rond vir wonderlike aanbiedinge op gewilde items. Besoek die aanlyn winkel vir vuurwapens, ammunisie, herlaaitoerusting, teleskope en bykomstighede. Lede kwalifiseer vir 10%-afslag. Klik hier en laai jou trollie.

Kontak +27 12 808 9399 of shop@sahunt.co.za vir meer inligting.

Produk van die maand

Koop die Zastava M70 hier

Die Zastava M70, toegerus met ‘n okkerneuthoutkolf, is ‘n betroubare vuurwapen. Dit is bekend vir presisie, akkuraatheid, en duursaamheid. Beslis ‘n uitstekende keuse vir jagters en sportskuts. 

Spesiale aanbieding

Voorraad op die volgende ammunisie het pas opgedaag, maak gou om teleurstelling te voorkom. Beperkte voorraad!

Predasiebestuur SA

Predasiebestuur is ‘n nasionale prioriteit vir boeregemeenskappe wat gebuk gaan onder veeverliese en skade. Verskeie rolspelers, insluitend private instansies en provinsiale en nasionale instellings is betrokke om praktiese oplossings vir die probleem te vind.

Die bewaringsbestuurder, Lizanne Nel, het die algemene jaarvergadering van Predation Management SA (PMSA) in Port Elizabeth/Gqeberha bygewoon, waar sy met provinsies en ander organisasies oor predasiebestuur gesels het. Lees die artikel hier

Jagluiperd-opname

SA Jagters ondersteun ‘n nasionale opname oor jagluiperds en het lede en nie-lede genooi om daaraan deel te neem. Die resultate sal verskaf word aan betrokke instansies en statutêre liggame om strategieë te ontwikkel wat in die belang van jagluiperdbewaring is.

Soos belowe, gee ons terugvoer oor die Cheetah-opname wat SA Jagters ondersteun in samewerking met die Cheetah Trust, Universiteit van Stellenbosch en ASHIA. Lees meer hier.

Bewaring pronk by Presidentskiet

Bewaring bly ons prioriteit, selfs wanneer ons, ons nasionale Presidentskiet aanbied.

Oud en jonk praat bewaring terwyl die top skuts dit uitspook op die baan tydens die onlangse Presidentskiet op Meerkatgat. Grondeienaars en kinders lees waarnemings van ratels, rooiribokke, sekretarisvoëls en erdvarke in op die SA Jagters App sodat dit kan bydra tot bewaring. Kinders leer van slange en dat die ietermago ons bewaringshulp nodig het. Ons herwin die metaal van koeëls uit die sandwal agter die teikens. Die verskillende skietoefeninge op volgrootte diereteikens verbeter skootplasing sodat diere nie gekwes word in die jagveld nie.

Namakwa-tak gesels bewaring met skoolkinders

Die Namakwa-tak betrek die hele gemeenskap en veral kinders by bewusmakingsveldtogte oor die bewaring van ons natuurlike omgewing in die Springbok-area. Dit is ʼn voortgesette inisiatief wat die ondersteuning van verskeie ander plaaslike owerhede geniet. Lees die artikel hier.

SA Jagters ondersteun veldwagters

SA Jagters ondersteun Wêreld Veldwagterdag wat jaarliks op 31 Julie gevier word. Vanjaar het Namakwa-tak  die veldwagers genooi na ʼn pretskiet en braai, en ook die kans benut om toerusting aan die Namaqua Nasionale Park te skenk wat die veldwagters kan bystaan. Lees artikel hier.

Snare Busters

Strikke van alle soorte word gebruik om wild in hoofbewaringsgebiede aangrensend aan die Kruger Nasionale Park te vang. Dié diere ly en sterf ‘n gruwelike dood. SA Jagters se Mopani-tak in samewerking met die Phalaborwa Natural Heritage Foundation (PNHF) verwyder maandeliks strikke, red en rehabiliteer diere in groot dele in die Phalaborwa-omgewing. Die volledige artikel en foto’s hier.

Wildvleisresepte

Indien jy jag of die gesinslid is van iemand wat jag, het jy verseker ‘n gunstelingresep waarvoor jy bekend kan word. Jy kan die eerste SA Jagters wildsvleis-sjef wees. Hierdie is ‘n langtermyn projek met die doel om ons lede as ‘n gemeenskap betrokke te kry.

Ons beplan ‘n toegewyde afdeling op die webwerf en op Facebook om lede se talent in die bos of kombuis te deel. Stuur jou resep saam met ‘n kort agtergrondstorie (bv. was dit jou ouma se resep), foto van jou en jou gereg, die bestanddele en voorbereidingsmetode in. Enige resep is welkom, solank dit wildsvleis bevat. Stuur dit na boetiek@sahunt.co.za of marette@sahunt.co.za

Freddy Hirsch-produkte

Die Freddy Hirsch Group het vir ons ‘n paar geskenkpakke/hampers geborg om uit te deel gedurende die tydperk van die wêreldbeker rugby. As jy eerder gouer as later jou resep inskryf, staan jy ‘n kans om een van hierdie pakke te wen. Die Freddy Hirsch Group ondersteun SA Jagters en die Springbokke. Besoek gerus hulle webwerf

Freddy Hirsch gaan ‘n spesiale SA Jagters pakket bymekaar sit, wat ons lede teen afslag sal kan aankoop, net betyds vir die feestyd. Hou die kommersiële aanbiedinge en sosiale media bladsye dop!

Kommersiële sake

Kommersiële aanbiedinge vir lede hier

Ons het ‘n paar nuwe en opwindende aanbiedinge by kommersiële aanbiedinge bladsy gevoeg en sommige val perfek in by die Wêreldbeker- en Erfenismaand/Braaidag.

Hierdie spesiale aanbiedinge word jaarliks ​​in Julie hersien om te verseker dat ons kwaliteit produkte en dienste aan ons lede bied. Ons nuwe webwerf maak voorsiening vir beter blootstelling, wat groot geleenthede bied vir bykomende bemarking. Die kommersiële voordele sal vanaf September 2023 weekliks op ons sosiale media-bladsye geplaas word

Individue wat belangstel om hul produkte aan lede aan te bied, kan Marette kontak by marette@sahunt.co.za

Kyk rugby saam met Hennie le Roux

Hierdie opwindende en eksklusiewe aanbod aan SA Jagters-lede word moontlik gemaak deur oud-Springbok Hennie Le Roux, 1995 Rugby Wêreldbeker-speler en Crown River Safari.

‘n Ekstra vlakvark is by die pakket gevoeg!

Promosiekode: SAH/10

Meer inligting hier beskikbaar

Presidente-reeks messe

Die eerste reeks van slegs 25 genommerde messe in hierdie reeks na die keuse van Oom Nic van der Merwe is reeds gemaak en is beskikbaar vir bestelling. Lede wat die mes bestel kan kies tussen ʼn hef uit kameeldoringhout of ivoor.

Oom Nic van der Merwe is ʼn Karoo-kind uit Britstown, en ʼn legende in die jag- en skietgeledere wat diep spore getrap het in die georganiseerde jagsektor sedert die vroeë tagtigs. By SA Jagters, het hy ʼn besondere bydrae gelewer tot o.a. sportskietontwikkeling en vuurwapenopleiding, ontwikkeling van opleiding vir toegewyde jagters, opstel van handleidings en reëls vir trofeemeet, en onderhandelinge rondom vuurwapenwetgewing. Hy is o.a. twee keer deur SA Jagters vereer met die hoogste toekennings, die Pour le Merite. Oom Nic se impak op die jagbedryf in Suid-Afrika is onmeetbaar groot.

Lees meer oor Oom Nic in die gedenkboek.

Betaal R2500 in SA Jagters se bankrekening met EFT.

Die rekening is

Bank: Absa
Rekeningnommer: 01443990077
Takkode: 632005
Verwysiging: Lidnommer en Nicmes

Stuur die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za

Gedenkboek

Meer as sewentig jaar het verloop sedert ‘n klompie jagters op 1 Oktober 1949 by die Pretoria Dieretuin bymekaar gekom het om die moontlike stigting van ‘n jagtersvereniging te bespreek. Sedertdien het die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging gegroei tot een van die grootste nie-regeringsorganisasies in die land. Met meer as 40,000 lede in meer as 80 takke landswyd speel SA Jagters ’n prominente rol in die bestuur en bewaring van ons jagkultuur, vuurwapeneienaarskap en ons natuurerfenis. Die gedenkboek vertel die storie van dié ontstaan en groei van hierdie besondere vereniging.

Beperkte kopieë van hierdie stuk erfenis is steeds beskikbaar teen R300 (plus koerierkoste).

Betaal R300 in SA Jagters se bankrekening met EFT.

Die rekening is

Bank: Absa
Rekeningnommer: 01443990077
Takkode: 632005
Verwysiging: Lidnommer en Boek

Stuur die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za

Werf lede vir kommissie

SA Jagters se ledetal staan nou op 41 692

Elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, ontvang kommissie van tussen R100 tot R150 per lid. Meer inligting is beskikbaar

Takke wat lede wie se lidmaatskap weens wanbetaling opgeskort is, oortuig om te betaal, ontvang ook die bostaande kommissie. Meer inligting hieroor is reeds aan Takvoorsitters gestuur.

SA Jagters het weer aansoekvorms vir lidmaatskap aan ʼn verskeidenheid handelaars verskaf. Aansoekvorms is hier of by Dorothy Els by dorothy@sahunt.co.za

SA Jagter en Magnum Tydskrifte

Daar is steeds onduidelikheid by lede oor hoeveel tydskrifte hulle behoort te ontvang en daar word ook by enkele geleenthede probleme ervaar met handaflewering.

Waar enige probleme ervaar word met aflewering, laat weet asseblief vir Michel Schoeman by (012) 8089300 of per E-pos by michel@sahunt.co.za

Onthou ook dat die SA Jagter agt uitgawes per jaar het. Jan/Feb, Maart/Apr, Mei, Junie, Julie, Augustus, Sept/Okt en Nov/Des.

Magnum het slegs 6 uitgawes per jaar. Jan/Feb, Maart/Apr, Mei/Jun, Jul/Aug, Sept/Okt, Nov/Des.

Rapporteer probleme met handaflewering aan OntheDot by 0873531291

Indien die probleem met handaflewering nie die nodige aandag kry nie, stuur ʼn e-pos aan fredc@sahunt.co.za

Amateur Fotografie Kompetisie

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die fotokompetisie, het twee van ons lede Platinum-toekennings ontvang. Baie geluk aan Pierre van der Berg en Koos Marais, beide van Pretoria-Oos-tak. Julle foto’s is uit die boonste rakke. Die 2023-album is hier op die webwerf.

Die kategorie vir Fauna en Flora DSLR/spieëlloos lok altyd die meeste inskrywings en sorg vir strawwe kompetisie. Die ander kategorieë is minder gewild, maar bied volop geleenthede aan lede om mee te ding vir die kategoriewenner van die jaar.

Vanjaar se kompetisie sluit op 30 September 2023. Maak ten volle gebruik van die geleentheid om jou foto’s in te stuur voor die sluitingsdatum. Vergewis jou van die reëls om seker te maak elke foto tel. Lees die fotokompetisie se volledige reëls hier.

Fotografieklub

Die Fotografieklub se foto-uitdaging #agterpaaie het omtrent gewoel. Nog nooit was daar só baie inskrywings nie. Dit het gesorg vir ʼn besondere aangename twee maande op die groep. Die #agterpaaie top 50-plus album is hier op die groep se blad en hier op die webwerf. Die wenner van die uitdaging sal op die groep se blad bekendgemaak word.

Die September/Oktober foto-uitdaging #benut, bied weereens ʼn wye interpretasie vir fotokeuses. Lees die reëls hier.

Nooi gerus vriende, familie en kollegas uit wat dieselfde waardes deel as SA Jagters, om ook by die groep aan te sluit hier.

Vertel ons wat jy dink van die interaktiewe nuusbrief

error: Content is protected !!