Gedurende Vrouemaand het ons lede gevra om hulle stories met ons te deel. Die jagveld en skietbaan is ‘n manswêreld, maar daar is ook vroue wat hulle man kan staan.
Yvette Aggenbach is die eerste vrouelid wat op SA Jagters se skietkomitee dien.
Yvette Aggenbach het in Meyerton groot geword en haar skoolloopbaan by Hoërskool Dr Malan voltooi. Sy is ʼn gekwalifiseerde somatoloog (kosmetiese wetenskap).
Na die geboorte van haar eersteling, ʼn dogtertjie, het Yvette en haar eggenoot, Marinus, hulle eie onderneming in staalkonstruksie begin. Sy het vanaf die huis gewerk sodat sy ook haar aandag aan die kinders kon gee. Yvette het ʼn mededingende geaardheid en hou van uitdagings. Sy help ook graag ander mense.
Sy het grootgeword in ʼn gesin waar jag en skiet tweede natuur was. Yvette en Marinus het in 2012 aktief by skietsport betrokke geraak en in 2014 by SA Jagters begin skiet.
Sy het uitstekend gevaar en gou onder die Top-10 op nasionale vlak gevorder en was tweede onder die vroueskuts. Van 2016 tot 2019 – vier jaar agtereenvolgend – was Yvette die nasionale vrouekampioen.
ʼn Rugoperasie het haar egter gedwing om dit rustiger te neem, maar sy het haar fokus verskuif op haar drie dogters wat aan die PCP-skietoefeninge deelgeneem het.
Yvette help graag kinders om hulle potensiaal te bereik. Sy sou ook wou sien dat meer skole by sportskiet betrokke raak waar jong mense ook erkenning kan kry vir hulle skietprestasies – net soos in ander sport. Yvette wil haar beywer om meer jong mense by SA Jagters betrokke te kry waar hulle skietvaardighede kan aanleer en aan sportskiet kan deelneem.
Die geleentheid om deel te wees van SA Jagters se skietkomitee is beslis ʼn nuwe uitdaging vir Yvette. Sy is egter vuur en vlam om ʼn positiewe bydrae tot jong opkomende skuts se ontwikkeling te lewer.
Jag is in my bloed – Mia Vermeulen
Ek het grootgeword in ‘n jagtershuis, en was dus van kleins af blootgestel aan die veld, die skiet, die slag, die vleis. Ek het self eers na skool begin belangstel en deelneem. Maar toe daai gogga my eers gebyt het, kon ek hom nie afgeskud kry nie.
Ek het heelwat lekker en spesiale jagstories, maar die een wat uitstaan bo die res was toe ek my eerste Waterbok geskiet het. Dit het begin toe my broer, Fanie, in 2012 ‘n Waterbok geskiet het en ek, na my mening, die lekkerste wildsvleis ontdek het. Van daar af wou ek graag my eie Waterbok laat val. Jaar in en jaar uit het ek kilometers vêr gestap opsoek na my Waterbok, maar sonder sukses (gelukkig het daar darem ‘n paar ander tipe bokke voor my loop kom staan).
In 2015 het ek my eerste eie jaggeweer gekoop – ‘n Howa 6.5 x 55 Sweedse Mauser. Aan die einde van daardie jaar het ek my lisensie gekry en begin oefen vir die 2016 jagseisoen. Die lood en bokke het behoorlik geval daardie jaar, maar ek was nog steeds opsoek na my Waterbok. Die laaste dag van ons familiejag loop en kruip en wag ek en begin amper moed verloor. Die son was besig om water te trek, toe ons skielik op ‘n trop Waterbok-koeie afkom. Ek en my gids, Samuel, is dadelik agter die trop aan. Ons het redelik naby gekom en die trop het geloop en wei. Ek het ‘n skietgeleentheid gekry op ‘n koei en die sneller gedruk. Die beste deel was toe ek sien hoe die skoot klap op die blad. Ek en Samuel was in ekstase! Ons het daardie jaar die heerlikste geregte gemaak met die vleis waarvoor ek so hard gewerk het.
Ek sien uit na die volgende Waterbok wat voor my kom staan.
Jy is sterker as wat jy dink jy is, is Nicky Uys se filosofie
Met die kinders amper uit die huis, het ek gedink dit is dalk tyd vir ʼn nuwe stokperdjie! Ek en my man het van jongs af sport geniet en het onder andere die Cape Argus gery, 21km Two Oceans Marathon gehardloop en driekamp aangepak.
So paar jaar terug het ek ʼn Biathle (hardloop, swem en laser gun) probeer en natuurlik my vriendin Dorothy ook saamgesleep! Ek het besef ek geniet regtig die skietgedeelte van die Biathle – en ek skiet darem raak!
Sowat ʼn jaar terug het MDS by SA Jagters gewild begin word en ná ʼn paar skietdae het ons MDS aangepak! Jacques van Pretoria-Oos-tak se passie vir die sport is aansteeklik. Nadat ons die inleidingskursus gedoen het, het ons al ʼn paar keer gaan skiet.
Behalwe vir die adrenalien rush het dit my baie vinnig geleer om my wapen te ken en gemaklik rondom wapens te wees. Hierdie was ʼn besige jaar en daar was min tyd om te oefen. Gelukkig is dit nou rustiger en sien ek baie uit daarna om meer betrokke te raak by die sport.
ʼn Mens is nooit te oud om te leer nie en die volgende spreekwoord hou vir my baie waarheid in: “growth does not happen in your comfort zone”. Mag hierdie vrouemaand elkeen vrou herinner aan haar waarde en om opnuut in haarself en haar vermoëns glo.