Bewaringsnuus

conservation bewaring

januarie 2026

Jag en die biodiversiteitsekonomie

Verantwoordelike jag is ’n noodsaaklike komponent van Suid-Afrika se biodiversiteitsekonomie. Dit genereer volhoubare finansiering vir bewaring, ondersteun die landelike ekonomie en dra by tot voedselsekerheid. Wetenskaplike bewyse toon dat jag wildbevolkings en habitatte help beskerm terwyl dit miljoene hektaar private grond help onderhou wat ’n sleutelrol speel in die beskerming van spesies en ekosisteme. Verantwoordelike jag ondersteun bewaringsdoelwitte, versterk die bio-ekonomie en hou beduidende sosio-ekonomiese voordele in.

Laai die SA Jagters App af

Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES)

Suid Afrika se voorstelle oor plant- en dierspesies aan CITES COP20 het gemengde resultate gelewer. Die goeie nuus is dat die bontebok verwyder is van Bylaag II en twee vetplantspesies is van Bylae II na Bylae I geskuif, terwyl die kameelperd se posisie egter onveranderd gebly het. Die suksesvolle bewaring van bontebok is die gevolg van samewerking binne die groter wild- en jagbedryf en die regering wat die beleidsraamwerk vir bewaring verskaf.

 

Laai die SA Jagters App af

Die feite oor die impak van lood op mense en wild

SA Jagters se bestuurders is deel van die nasionale loodtaakspan wat met ander bewaringsorganisasies, die regering en mediese kundiges saamwerk om ’n openbare webwerf te ontwikkel wat wetenskaplike feite oor die impak van lood op mense en die natuur verskaf. Tydens ’n besprekingsessie in die Laeveld onder jagters, boere, gidse en wildbestuurders is verantwoordelike karkasbestuur by die gebruik van loodgebaseerde ammunisie bespreek, asook die voordele om na loodvrye koeëls oor te skakel

Gesprek met die President, Cyril Ramaphosa

SA Jagters het tydens ’n multisektorale konsultasieproses in Noordwes die belangrikste uitdagings en prioriteite van die wildsektor met president Ramaphosa gedeel. Die fokus was op beleid, ekonomiese bydraes, handel en goeie regering, asook die belangrikheid van sinvolle openbare deelname in die formulering van wetgewing wat bewaring en volhoubare benutting raak.

 

Takke en Bewaring

Die bewaringstatus van die brulpadda (Pyxicephalus adspersus) is Least Concern wat beteken dat hul nie bedreig is nie. Vleilande en die spesies wat daarin voorkom is egter een van die mees bedreigde habitattipes. Dit is dus belangrik dat ons hierdie sensitiewe sisteme en hul spesies bewaar. Met die baie reën het brulpaddas weer hulle verskyning in die Heidelberg-omgewing gemaak. In die verlede is die paddas wat broei baie versteur. Lede van die Heidelberg-tak was in Desember 2025 baie bedrywig om te verseker dat die volgende generasie brulpaddas nie versteur of deur versamelaars weggedra word nie.

Verskeie takke was betrokke by die verskuiwing van swerms bye wat hulle in gebou se dakke tuisgemaak en mense ongemaklik laat voel het. Die swerms is met omgewingsvriendelike metodes na nuwe byekorwe oorgedra en na veilige habitatte verskuif. Die korwe word deurlopend gemoniteer.

Deelname aan volhoubaarheidsforum in die Oos-Kaap

SA Jagters het aan die Oos-Kaapse Volhoubaarheidsforum deelgeneem waar ons ‘n aanbieding gegee het oor die belangrike rol wat die wildbedryf speel in die bekamping van biodiversiteitsverlies en aanpassing vir  klimaatsverandering.

Lizanne, die bewaringsbestuurder, het verduidelik hoe die inkomste afkomstig uit die verantwoordelike benutting van wild direk teruggeploeg word in bewaring en rehabilitasie. Hierdie benadering verseker volhoubare finansiering vir inisiatiewe wat bydra tot ’n veerkragtiger toekoms vir mense en wildlewe.

Die positiewe terugvoer wat ons ontvang het, is ’n goeie aanduiding van die sterk steun vir die rol wat die private sektor, wildboere en jagters in bewaring speel. Dit was ook duidelik dat meer gedoen moet word om hierdie bydrae doeltreffender te kommunikeer en beter bekend te stel.

iziNdlovu – ʼn spesiale aanbod vir lede

iziNdlovu klein

Die pas-vrygestelde boek iziNdlovu, deur die natuurbewaarder dr. Div de Villiers en joernalis Adrienne Carlisle, vertel die epiese ware verhaal van die berugte Ndlovu-renosterstropers en die span wat hulle uiteindelik tot ’n val gebring het. Dit is ’n niefiksiewerk wat die wreedheid van renosterstropery ontbloot en wys hoe stropers verskeie metodes gebruik, waaronder vuurwapens en die verdowingsmiddel M99. Dikwels kap hulle die horings van renosters af terwyl die diere nog leef. Die suksesvolle ondersoek, inhegtenisnemings, vervolging en die uitspraak teen die sogenaamde “Ndlovu-bende” word volledig bespreek.

Ons bewaringbestuurder, Lizanne Nel, het die boekbekendstelling bygewoon, en dr. De Villiers het ingestem om die boek teen ’n spesiale prys van R200 plus posgeld aan lede beskikbaar te stel (R60 met PEP en R110 met PostNet). Lede kan dr. De Villiers direk kontak by div.devilliers1@outlook.com of 082-417-0155, en hul SA Jagters-lidnommer verskaf om vir die afslag te kwalifiseer.

Laai die SA Jagters App af
Laai die SA Jagters App af

Stuur vir ons kommentaar, vrae of voorstelle vir die maandelikse nuusbrief

error: Content is protected !!