Die African Wildlife Consultative Forum het wetenskaplikes, regerings, jagverenigings en landelike gemeenskappe byeengebring om jag- en bewaringsverwante geleenthede en uitdagings in Afrika te bespreek. Lizanne Nel, bewaringsbestuurder van SA Jagters, het gewys hoe verantwoordelike jag van leeus en luiperds bewaringspogings ondersteun. Sy het ook die beduidende positiewe impak van hierdie bedryf op landelike ekonomieë oor Afrika heen gedemonstreer. Die forum het voorstelle ondersteun om die samelewing se siening en aanvaarding van jag te verbeter.
Lees die artikel hier
SA Jagters se Orde van die Buffel: Goud is met die Kongres van 2024 aan Eugene Troskie toegeken. Eugene maak ʼn daadwerklike bydrae tot die positiewe bewaringsbeeld van SA Jagters en jagters se impak op bewaring. Hy het die Snare Busters inisiatief begin waarmee lede van die Mopani-tak en PNHF gesamentlik weekliks beseerde diere red en strikke in die omgewing verwyder. Eugene en sy span het reeds 7000 strikke verwyder, talle stroperskampe ontdek en onwettige visfuike en nette vernietig. Die internasionale tydskrif, Patrol publiseer artikels, video’s en foto’s van Snare Busters se aktiwiteite.
Mpungini-tak se bydraes tot die Sightings App het aan hulle bewaringstrofee vir 2024 besorg. Die tak se lede het aktief deelgeneem aan die inlees van waarnemings wat waardevol is vir die bewaring van skaars en skugter spesies. Die groot aantal kolganse wat hul ingelees het, is veral nuttig omdat dit ‘n sinvolle bydrae maak tot jagproklamasies sodat boere die impak van hierdie spesie op gewasse beter kan bestuur.
Johan Marais, ʼn bekende reptielkenner van Suid-Afrika en outeur van talle boeke oor slange, het op 2 November 2024 SA Jagters se gesogte toekenning, die Orde van die Buffel: Goud, ontvang vir sy werk in die bewaring van reptiele en sy toewyding om mense bewus te maak van die waarde van reptiele in die natuur. Johan het sy loopbaan in 1979 by die Fitzsimons Slangpark in Durban begin. Hy is bekend vir sy wildlewefotografie wat fokus op reptiele.
Oor die afgelope 45 jaar het hy sy kennis met belangstellendes reg oor die wêreld gedeel in boeke, artikels in die hoofstroom gedrukte media, radio- en televisieprogramme. Johan het ook sy navorsing en ondervinding met reptiele by menige internasionale simposiums en kongresse gedeel. By uitstallings soos HuntEx, NAMPO en die Getaway Show het Johan ook demonstrasies aangebied oor die hantering van veral slange en besoekers bewus gemaak van die waarde van reptiele in die natuur. Sy fokus was om mense se wanopvattings oor slange te verander sodat slange nie summier doodgemaak word nie.
Lede van die wildbedryf word genooi om deel te neem aan die opname oor swartwitpense en bastergemsbokke om die status van hierdie spesies vir die nuwe rooidatalys vir soogdiere te bepaal.
Lees die artikel hier
Die Noordwes provinsie het in Oktober met sleutelrolspelers in die wildbedryf vergader om aktiwiteite te identifiseer wat die biodiversiteitsekonomie kan stimuleer. SA Jagters het ook deelgeneem en sy sienings gedeel oor die voordele wat veral die plaaslike Suid-Afrikaanse jagters vir landelike gemeenskappe inhou.
Lees die artikel hier