Die jagluiperd-sensus wat deur die Ashia Cheetah Conservation, die Cheetah Outreach Trust en die Universiteit van Groningen uitgevoer is, dui daarop dat Suid-Afrika se vrylopende jagluiperdbevolking 70% laer is as vorige beramings. Slegs 83 volwasse diere en 36 welpies is buite beskermde gebiede aangetref, ondanks ’n opname wat oor vier jaar gestrek het.
Die studie dui daarop dat die spesie se bewaringstatus van Kwesbaar na Bedreig hersien behoort te word. Verdere uitdagings sluit in genetiese isolasie, wanopvattings oor veeverliese weens jagluiperdaanvalle, en swak wetstoepassing. Hierdie faktore beklemtoon die behoefte aan dringende, gekoördineerde bewaringsaksies.
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) was ’n operasionele vennoot in die studie en het gehelp om toegang tot grondeienaars vir die navorsing te fasiliteer.
Lees meer oor die studie se bevindinge hier.
SA Jagters se Tafelberg-tak het onlangs ʼn werkswinkel in die Paarlberg Natuur Reservaat aangebied om leerders van die Desmond Tutu Sekondêre Skool en die Mbeko Eco Club op die dorp bewus te maak van die belangrikheid om strikke te verwyder.
Dr. Katy Williams, direkteur navorsing en bewaring by die Cape Leopard Trust, en Lindsay Lewis, bewaringsbeampte van die Drakenstein-munisipaliteit, het onder andere uitgebreide navorsing oor die gebruik van strikke in onwettige jag bespreek, asook praktiese opleiding in die opsporing en verwydering van strikke.
Leerders en lede van die Tafelberg-tak het met groot geesdrif aan die werkswinkel deelgeneem. Die leerders het ook waardevolle opvoedingsmateriaal ontvang wat hulle in hul skole kan gebruik.
Die werkswinkel, wat gedeeltelik deur die Rotariërklub van die Paarl geborg is, was ’n goeie voorbeeld van samewerking tussen verskillende instansies met die doel om die boodskap van natuurbewaring na gemeenskappe uit te dra.
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) het die Konstitusionele Hof versoek om ’n omstrede definisie van “dierewelstand” uit die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (NEMBA) te skrap. Die vereniging voer aan dat die definisie, wat vereis dat die fisiese, fisiologiese en geestelike gesondheid asook die lewenskwaliteit van individuele diere in ag geneem moet word, vaag, subjektief en operasioneel onwerkbaar is. Volgens SA Jagters is die wysiging sonder behoorlike raadpleging van die wild-, landbou-, vissery- en bewaringsbedrywe deurgevoer en kan dit verreikende regs- en praktiese gevolge vir die volhoubare bestuur en benutting van natuurlike hulpbronne in Suid-Afrika inhou. Kliek hier vir die volledige verklaring.
Ons span vir bewaring en jagaangeleenthede is aktief betrokke by die Noordwes se konsepwysigingswet vir biodiversiteit om die regte van verantwoordelike jagters te beskerm. SA Jagters se formele en praktiese kommentaar verseker dat nuwe provinsiale wetgewing ’n gunstige regsraamwerk vir betekenisvolle bewaring en verantwoordelike benutting skep, eerder as om die publiek met onpraktiese bepalings en onnodige rompslomp te belas. Ons voorstelle fokus daarop om die voordele vir uitgebreide Natuurares te versterk, permitprosesse te vereenvoudig, billike regulasies vir wildbestuur te verseker en verantwoordelike benutting van wildlewe te bevorder. Voorspraak beskerm ons jag- en bewaringserfenis en verseker dat jou stem tel vir voordelige bewaringswetgewing in die Noordwes-provinsie.