Alhoewel lede besorgd is oor wildlewe, neem konflik toe top plekke waar mense en wilde diere in dieselfde omgewing voorkom. Dit het beduidende gevolge en finansiële verliese vir lede en gemeenskappe in verskeie dele van Suid-Afrika. Hierdie uitdagings is onlangs by ʼn vergadering van die Predasiebestuursforum van Suid-Afrika bespreek om betekenisvolle en omgewingsvriendelike oplossings hiervoor te vind. Die stigting van plaaslike predasie- en wildbestuursforums is een strategie om samewerking tussen belanghebbendes te verbeter en oplossings te vind. In die Namakwaland-streek het ons saam met verskeie rolspelers gewerk om vyf jagluiperds te vang en te hervestig ten einde die impak op mense se lewensbestaan te verminder en by te dra tot die bewaring van die spesie. Vir meer inligting, klik hier.
Inligting van die nasionale jagluiperdopname waaraan lede deelneem, klik hier.
Die minister van bosbou, vissery en die omgewing, dr. Dion George, het aangekondig dat hy vir eers nie uitvoerkwotas vir olifante, renosters en luiperds vir die 2024-2025 CITES-byeenkoms sal aanbeveel nie. Dit volg na die hofaansoek in die Gauteng Hooggeregshof wat Wildlife Ranching South Africa (WRSA), ten opsigte van die kwotastelsel aanhangig gemaak het. Die minister het bekend gemaak dat hy van voorneme is om ʼn zero kwota te stel vir die uitvoer van leeubene van leeus wat in aanhouding geteel is. Hy het die publiek genooi om kommentaar te lewer.
Baie tyd is oor die afgelope paar maande bestee in verskeie prosesse ten opsigte van olifantbewaring en -bestuur. Dit het insette ingesluit vir die ontwikkeling van die Nasionale Olifant-erfenisstrategie, die Nasionale Olifant-Indaba en kommentaar oor die bestuur van olifante in Madikwe en Mapungubwe.
Ons is ten gunste van ʼn ekostelsel benadering vir olifantbewaring en -bestuur wat verder strek as die monitering van olifantgetalle. Hierdie benadering sluit die monitering in habitatbenutting; die impak van olifante; klimaat; veldtoestande; plant- en herbivoorbiomassa; en die bedreigde spesies.
Grondeienaars wat olifant-habitat en -populasies bestuur, behoort groter outonomie te kry. Daar is aanbeveel dat die bestaande Olifant-norme en -standaarde, wat aanpasbare bestuur belemmer, verander moet word.
Die menings van gemeenskappe wat saam met olifante leef, moet ook groter aandag kry. Hoewel die uitkomste van die verskillende konsultasieprosesse nog nie gepubliseer is nie, is SA Jagters se insette ingesluit in die aanvanklike verslag wat aanbevelings van die Olifant-Indaba opsom. Dit maak onder andere voorsiening vir beheermaatreëls soos uitdunning en jag.
SA Jagters is ʼn lid van die nasionale bestuurskomitee van die International Union for the Conservation of Nature (IUCN), wat saam met ander vooraanstaande bewaringsorganisasies die volgende tematiese onderwerpe bespreek:
Die IUCN-lede het aan die einde van Augustus hul werksaamhede met minister Dion George (DFFE) bespreek en verduidelik dat dit inpas by die doelwitte van die Wêreld biodiversiteitsraamwerk (GBF) en Suid-Afrika se nasionale biodiversiteitstrategie en aksieplan (NBSAP). Die IUCN-komitee het nouer samewerking en sterker vennootskap bepleit tussen die IUCN se nasionale komiteelede en die departement van bosbou, visserye en die omgewing. Daar is ook geleenthede vir samewerking tussen Suid-Afrika se lede en die IUCN. Die volgende internasionale IUCN-kongres vind van 9 – 15 Oktober 2025 in Abu Dhabi plaas.