SA Jagters het kommentaar gelewer op DFFE se aankondiging in Februarie 2026 oor die uitvoerkwotas vir 300 olifanttande van 150 olifante, 12 swartrenoster en 11 luiperd jagtrofeë vir 2026 en 2027. Die openbare kennisgewing het nie besonderhede verskaf oor hoe die kwotas bepaal is nie. Derhalwe het SA Jagters beskikbare data, wetenskaplike publikasies en inligting van die CITES-prosesse oor die drie spesies bestudeer, en tot die gevolgtrekking gekom dat ons dit kan ondersteun. Die volledige verslag is hier beskikbaar.
Die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing het ’n proses begin om regulasies oor die welstand van diere ingevolge NEMBA te ontwikkel. SA Jagters en verskeie ander belangegroepe is genooi om insette hieroor aan die departement te stuur. Aangesien die beduidende implikasies van die insluiting van ’n definisie van dierewelsyn waaronder die beoordeling van ʼn dier se geestesgesondheid, nie as deel van die NEMBA-hersieningsproses oorweeg is nie, het SA Jagters die saak na die Konstitusionele Hof geneem. ’n Finale uitspraak oor die meriete van so ʼn regsaksie is steeds uitstaande. Gevolglik is SA Jagters van mening dat regulasies oor dierewelsyn in hierdie stadium voortydig en sinneloos is.
Ten spyte van hierdie standpunt het SA Jagters kommentaar gelewer op die ontwikkeling van welstandsregulasies, benewens dié wat op 26 Februarie 2026 by ’n vergadering met die departement gemaak is. Indien hierdie tegniese praktiese oorwegings geïgnoreer word, bied dit vir SA Jagters verdere gronde om die regulasies self in toekomstige litigasie as “irrasioneel” of “arbitrêr” te betwis. Die volledige voorlegging is hier.
Lede van SA Jagters wat grond besit of bestuur wat bewaring bevorder, word geraak deur die ontwikkeling van norme en standaarde vir geografies-gedefinieerde gebiede wat effektiewe, langtermyn bydraes lewer tot bewaring sonder dat dit primêr as ‘n beskermde gebied of reservaat verklaar is. Hierdie areas staan bekend as Ander Effektiewe Areagebaseerde Bewaringsmaatreëls / Other Effective Area-based Conservation Measures of OECMs. SA Jagters het kommentaar gelewer op die proses waardeur DFFE, ingevolge NEMBA, erkenning wil gee aan die langtermyn-bewaringsbydraes van gemeenskappe en private grondeienaars sonder dat die grond noodwendig in ’n formele reservaat omskep hoef te word, of hoofsaaklik vir bewaring bestuur moet word. Goedbestuurde weivelde, bewareas, wildsplase, wateropvanggebiede en vele ander areas kan kwalifiseer. Hierdie proses help lande om die globale 30×30-teiken te bereik om teen 2030, 30% van die aarde se land en see te bewaar.
Vir gebiede om te kwalifiseer, moet dit geografies duidelik afgebaken wees; nie amptelik as ’n reservaat of park verklaar wees nie; en doelgerig bestuur word om voortgesette bewaringsuitkomste deur verantwoordelike bestuurspraktyke te verseker. SA Jagters het onder meer voorgestel dat wanneer ‘n gebied geregistreer is as ‘n OECM, ʼn omgewingsimpakstudie vereis moet word indien mynbou-aktiwiteite beplan word. Alhoewel dit nie noodwendig ontwikkeling sal stop nie, sal dit verseker dat die bewaringswaarde van die gebied behoorlik in ontwikkelingsbesluite in ag geneem word.
Die volledige kommentaar is hier.
Boere en jagters se gedeelde belange ten opsigte van vuurwapeneienaarskap, skietvaardighede, bewaring en jag, was onlangs onder die loep by ʼn gesamentlike inligtingsdag naby Grootvlei. Drie takke van SA Jagters (Duiker, Heidelberg en Suikerbosrand) en drie boereverenigings (Bloekomspruit, Suikerbos en Grootvlei) het die inligtingsdag op 18 Maart aangebied. SA Jagters se uitvoerende hoof, Basie Bergh, het gaste ingelig oor die nuutste verwikkelinge in vuurwapenwetgewing. Die adjunkpresident van die vereniging, Glen Matthews, het gesels oor skietsake en die dienste wat die vuurwapenlisensiehulplyn lewer. Lizanne Nel, bewaringsbestuurder, het ʼn aanbieding gedoen oor jagverwante sake en bewaring. Lewendige gesprekke het om die braaivleisvure gevolg en almal was dit eens dat daar beslis voortgebou moet word op groter skakeling tussen boerevereniging en SA Jagters se takke om gedeelde belange te bevorder.
Lizanne Nel, bewaringsbestuurder, het onlangs die Bosbok-tak toegespreek oor die jongste navorsing oor die impak van lood en loodammunisie op mense en wilde diere. Die oorsake en gevolge van hoë bloedloodvlakke in kinders en volwassenes is bespreek, asook die maniere om risiko’s vir blootstelling by mense te beperk. Navorsing deur Dr. Xander Combrink oor die impak van loodsinkers op krokodille is bespreek. Lede is ook ingelig oor die gevare wat loodfragmente in vleisreste wat in die veld agterbly vir aasvoëls en bromvoëls inhou. Lede is aangemoedig om ingeligte besluite te neem oor die keuse van ammunisie en karkasbestuur in die veld om die toevallige vergiftiging van wildlewe te voorkom en hulle eie gesondheid in ag te neem.
Die tak het ‘n suksesvolle bewaringsgeleentheid in die Paarlberg-natuurreservaat aangebied. Steven Whitfield, Krugerwildtuin-streeksveldwagter (afgetree), en Lindsay Lewis, reservaatbestuurder, het wonderlike insigte gedeel en kinders geïnspireer om bewaring as ‘n loopbaankeuse te oorweeg. Die Paarl Rotariërs en die tak het verseker dat die kinders genoeg gehad het om te eet en te drink. Die dag het ‘n interessante stap in ‘n gedeelte van die reservaat ingesluit.
.