SA Jagters-lede word versoek om deel te neem aan ʼn opname oor die verspreiding van bobbejane en blouape wat SANBI in opdrag van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing onderneem. Die doel van die opname is om te bepaal of uitvoer van die diere nadele vir die spesies inhou.
Die SA Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) doen ’n opname oor die verspreiding van bobbejane en blouape in opdrag van die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing. Hierdie opname is uiters belangrik.
CITES het beide spesies identifiseer vir ʼn non-detriment finding (NDF). ʼn NDF is ’n wetenskaplik-gefundeerde risikobepaling om vas te stel of uitvoere ‘n nadelige impak op die voortbestaan van die spesie in die natuur sal hê. Dit sluit die uitvoer van jagtrofeë in.
Die proses wat Suid-Afrika gebruik om ’n NDF te doen, behels ‘n vraelys van 26 vrae, waarvan nege fokus op die biologie, verspreiding, status, bevolkingstendense en grootste potensiële bedreigings wat die spesie in die gesig staar. Die res van die vrae fokus op die bestuur en aansporings vir bewarings- en beskermingsmaatreëls.
Dit is baie belangrik dat grondeienaars of wildlewebestuurders aan hierdie opname deelneem om te verseker dat die beoordeling op voldoende inligting gebaseer word. In die meeste provinsies is bobbejane en blouape as probleemdiere verklaar. Onvoldoende inligting uit die opname kan beteken dat die maatreëls vir bestuur en benutting van die spesies verander word. Dit neem ongeveer 7 minute om die vraelys te voltooi en dit word anoniem gedoen.
Ons versoek lede om asseblief hierdie vraelys te voltooi.
Ietermagogs is uitsonderlike diere waarvan die voortbestaan in die natuur ernstig bedreig word weens onwettige handel en habitatverlies. Dit is ook op die IUCN se rooilys van ernstig bedreigde spesies.
Danksy die toewyding van individue soos Francois Meyer, ’n SA Jagters-lid (Hardekool-tak), in samewerking met bewaringsowerhede, is daar hoop dat die Suider-Afrikaanse ietermagog kan oorleef en floreer. Lees verder hoe jy kan help om die ietermagog te beskerm hier.
Op 31 Januarie 2024, het SA Jagters se tak in Lichtenburg, die Generaal De La Re-tak, gehelp om ʼn otter te red wat in residensiële eiendom op die buitewyke van Lichtenburg, Noordwes, beland het. Die otter was in die erf vasgekeer en het selfs die huis binne gegaan wat uiteraard groot chaos veroorsaak het. Die otter het selfs gehap na die eienaar se Yorkshire terriër wat maar net sy huis wou beskerm. ʼn Plaaslike veearts is uitgeroep en die provinsie se natuurbewaringsowerheid is dadelik in kennis gestel. Die otter was waarskynlik op pad om ʼn gerieflike wegneemete uit die Khoi dam te vang. Lees verder hier.