Kersboodskap 2023

Desember 2023

Geagte kollega

Alles in die lewe het iewers ʼn begin en ʼn einde. Só nader ons ook nou die begin van die Kerstyd en die einde van 2023. In hierdie stadium beleef ons die opgewondenheid van die naderende feestyd wat gepaard gaan met versierings in ons huise en in die winkels; die opwinding om vir familie en vriende se kuier voor te berei; en die aankope vir feesgeregte en geskenke. Gelukkig het ons almal alreeds die grootste geskenk ontvang wat daar ooit kan wees: die liefde en genade van ons hemelse Vader. Hierdie liefde wat alle verstand te bowe gaan, kan niemand van ons wegneem nie. Dit is ʼn geskenk wat ons nie kan koop nie. Aanvaar dit net in nederigheid, opregtheid en dankbaarheid.

Die ware betekenis van Kersfees is meer as net die uitruil en oopmaak van geskenke. Dit is veral oor die oopmaak van ons harte vir mekaar. Mag hierdie kosbare Kersfees ʼn fees van hoop wees. Mag God se teenwoordigheid ons harte vul met blymoedigheid en vreugde. Ek wens ons lede en hulle geliefdes ʼn wonderlike en ʼn geseënde Kersfees toe.

Om middernag op 31 Desember 2023 kom die jaar tot ʼn end, en dan begin 2024. Vir hierdie nuwe jaar wens ek julle ʼn ou bekende gesegde toe: Mooi loop! Vir my het dit ʼn besonderse betekenis. Dit kan beteken: kyk mooi waarheen jy gaan, moenie seerkry nie, moenie dat ander op jou trap nie, loop regop en met trots, reis met ʼn doel voor oë, ek dra jou in my hart of, jy is spesiaal vir my.

Daarom vir jou reis in 2024, sê ek, MOOI LOOP! Mag God jou paaie gelyk maak.

 

Groete, Basie Bergh

President, SA Jagters

Kliek om te vergroot

SA Jagters Datums 2023/2024

Neem asb kennis dat SA Jagters se nasionale kantoor op Woensdag, 13 Desember om 12:00 sluit vir die Desembervakansie. Die SA Jagters-winkel bly oop tot 13:00 op 20 Desember 2023. Inyathipark se personeel keer terug op 8 Januarie 2024 om weer sy lede met raad en daad by te staan. Vreugde en seënwense vir Kersfees en ‘n voorspoedige 2024. 

Kalahari-Jagkompetisie

Wen ’n jag ter waarde van R100 000 vir jou en drie jagmaats in die Kalahari se rooiduine van 22-26 Mei 2024! Die wenner en sy/haar drie metgeselle kan elkeen een gemsbokbul en vier springbokramme jag. Jagters kan al die vleis huis toe neem. Die prys sluit verblyf, brandstof, kos en drank, asook die dag-, bakkie- en slagtariewe in. Elke jagter kry ook ʼn geskenkpak.

Dit is verspot maklik om in te skryf. Koop ʼn kaartjie teen R100 vir een kans om die gelukkige trekking te wen. Daar is geen beperking op die aantal inskrywings nie. Hoe meer kaartjies jy koop, hoe groter is jou kans om te wen.

  • Koop jou kaartjie aanlyn op Quicket hier
  • Óf betaal veelvoude van R100 in SA Jagters se bankrekening by: Absa (632005), Rekeningnr. 1443990077 (of 01443990077)

Gebruik KAL en jou selfoonnommer as verwysing.

Sluitingsdatum: 3 Mei 2024

Trekkingdatum: 8 Mei 2024

Jagdatum: 22-26 Mei 2024

Koop soveel kaartjies as wat jy wil! Jy hoef nie by die trekking te wees nie. Ons bel jou as jy wen!

error: Content is protected !!