Februarie was warm en droog met die amper tradisionele midsomerdroogte in sommige saaigebiede wat skade aan gesaaides gedoen het. In Maart was daar wel bietjie reën en hier teen die einde van Maart is daar skielik `n koeligheid wat saans trek. Dit beteken dit raak tyd vir HuntEx en die jagseisoen kom nader.
Indeling van die nuusbrief
Belangrike inligting en boodskappe verskyn eerste in die nuusbrief en herhalende inligting verder aan.
Lede wat min tyd het om te lees, kan dus op die eerste deel van die nuusbrief fokus vir nuwe inligting en die res vir later los.
Nuwe boodskappe
1. Jagsake
Omdat ons lede nou begin regmaak vir jaggeleenthede bespreek ons jagsake eerste in hierdie nuusbrief.
Jag van Olifante, Renosters en Luiperds
Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het in `n verklaring die kwotas vir jag en uitvoer van trofeë vir olifante, luiperds en renosters vir 2022 bekendgemaak. Die Humane Society International (Afrika) het `n dringende aansoek gebring om die implementering van die kwota gestel deur minister Creecy te blok. Die Hooggeregshof in Kaapstad het die interdik toegestaan. Daar sal voorlopig tot na hulle hofaansoek aangehoor is geen olifante, swartrenosters of luiperds gejag mag word nie. Humane Society International is bloot besig om met hulle anti-jag sentiment die waarde van wild te vernietig. Dit is `n hartseer dag vir RSA wanneer geen van hierdie wild gejag mag word nie, ten spyte van lewensvatbare populasies in RSA. Tyd sal leer wat hier sal gebeur.
Provinsiale Jagpakkette
Noordwes Parke hou op 1 April 2022 ‘n openbare veiling van 100+ jagpakkette by die Kedar Heritage Lodge op die R565 naby Rustenburg.
Belangstellendes wat aan die veiling wil deelneem, kan vooraf aanlyn registreer deur middel van die SwiftVEE toepassing. Let wel, geen aanlyn registrasies word op die dag van die veiling toegelaat nie. SwiftVEE is ‘n trots Suid-Afrikaanse selfoontoepassing wat ‘n platform verskaf vir die aanlyn registrasie van vee- en wildveilings. Laai SwiftVEE af
Provinsiale jagproklamasies
Met die jagseisoen op hande het meeste van die provinsies reeds hul jagproklamasies in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie proklamasies is veral belangrik vir plase wat nie beskik oor vrystellingsertifikate of sertifikate van voldoende omheining nie. In hierdie gevalle is die wild onderhewig is aan `n bepaalde jagseisoen. Afskrifte van die gepubliseerde proklamasies is beskikbaar as volg: Oos Kaap hier, Limpopo hier, Mpumalanga hier, Noord-Wes hier, Noord -Kaap hier en Wes-Kaap hier.
Proklamasies vir Gauteng, Vrystaat en KwaZulu-Natal is nog nie publiseer nie.
SA Jagters se geakkrediteerde jagbestemmings
SA Jagters bied vanjaar weer aan lede wat eienaars is van jagbestemmings die geleentheid om hul jagte te bemark. Die lys van beskikbare jaggeleenthede sal eersdaags per spesiale nuusbrief beskikbaar gestel word.
Jag van Sandpatryse
As gevolge van `n gebrek aan belangstelling is hierdie jaggeleentheid gekanselleer.
Slangbytserum
Daar is tans `n tekort aan polivalente slangbytteengif. Alhoewel daar voorsiening gemaak is vir voorraad vir mediese noodgevalle, word lede gemaan om slange in hul natuurlike omgewing met rus te laat. Die meeste slangbyte kom voor wanneer persone die slang probeer doodmaak. Indien `n slang per abuis in jou huis beland en jy hom wil verwyder is dit raadsaam om gebruik te maak van `n opgeleide slangverwyderaar. Laai die African Snakebite Institute se Toep op jou selfoon af vir inligting oor dienste soos identifikasie van spesies, lys van opgeleide slangvangers en selfs noodhulp en mediese bystand. Vir meer inligting gaan na die webwerf www.africansnakebiteinstitute.com
Jag in Namibië
Neem asseblief kennis van die departement van landbou se kennisgewing dat hulle voortaan permitfooie van R250 sal hef vir elke permithouer op alle invoere van vleis en ander produkte soos trofeë en velle uit Namibië. Lede wat beplan om in Namibië te gaan jag moet kennis neem hierdie addisionele koste. Meer inligting is beskikbaar by Boetiek@sahunt.co.za
- Skietsake
Kobus Maree is tydens die Kongres van November 2021 verkies as die nuwe visepresident: Skietsake. Hy het `n nuwe skietkomitee saamgestel wat bestaan uit `n dagbestuur en `n groep nasionale skietdissipline koördineerders wat kundiges is in spesifieke skietdissiplines en verwante navrae kan hanteer. Met soveel nuwe en onbekende sportskietdissiplines, lewer hierdie koördineerders `n groot bydrae en ondersteuning aan die Skietkomitee, takke en lede. Kliek hier vir die kontakbesonderhede van lede van die Skietkomitee.
- HuntEx
Hou asseblief die naweek van 22 tot 24 April 2022 beskikbaar en kom kuier vir ons by HuntEx.
- Bewaring
Snare Busters
Ons vestig graag lede se aandag op die Snare Buster projek, een van die bewaringsinisiatiewe waarby verskeie takke betrokke is. Dit skep geleenthede aan lede van SA Jagters om met ander bewaringsvennote in om strikke in spesifieke wildlewegebiede te verwyder. Hulle help ook diere wat reeds in strikke vasgeval het, te bevry.
Die aantal voorvalle waar strikke in die veld gevind word, asook diere met strikke aan, het die afgelope tyd aansienlik toegeneem. SA Jagters en verskeie bewaringsinstansies teken hierdie gevalle en neem soortgelyke tendense waar.
Om diere te red van `n gewisse en pynlike dood, bestee lede tyd in die veld – soms in gevaarlike omstandighede – om met reddingsoperasies te help en finansiële steun te verleen vir veeartsonkoste soos die verdowing van diere om strikke te verwyder en wonde te behandel.
Daar is juis weer `n seekoeikoei, met `n kalf, wat met `n strik om haar bek in Phalaborwa-omgewing gewaar is. Die koei moet verdoof word om die strik te verwyder. Ons wag vir kwotasies van die beraamde koste. Met die toename in gevalle, raak die koste van só `n aard dat ons lede versoek om `n bydrae te maak sodat ons kan voortgaan om hierdie diere te red. Betaal skenkings elektronies in by Absa-rekeningnommer 4093220340 met Snare Busters as verwysing. `n Belastingsertifikaat kan uitgereik word indien nodig.
- Toegewyde Jagter- en Sportskutstatus
Lede met toegewyde jagter- en/of sportskutstatus word herinner om aktiwiteite aan te meld en gereeld by te werk op SA Jagters se aanlyn lede-administrasiestelsel. Hulle kan ook die App gebruik wat vir die doel ontwikkel is om tred te hou van aktiwiteite wat jaarliks teen 31 Oktober op rekord moet wees om hul status te behou.
Herhalende boodskappe
Die volgende groep is boodskappe wat u reeds voorheen ontvang het.
- Fotografieklub
Die fotografieklub van SA Jagters lok steeds wye belangstelling. Gaan lees gerus meer hier oor die klub, geleenthede vir opleiding om beter foto’s te neem en maandelikse kompetisies en pryse. Hierdie verslag verskaf ook inligting oor die beste foto’s van die jaar en die Fotograaf van die Jaar.
- Spesiale aanbiedings
Doctari-messe
Die Doctari ivoormes-projek word binnekort beëindig. `n Beperkte reeks messe is gemaak met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Daar is slegs 25 van hierdie messe oor. Plaas u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom as u een van die laaste 25 messe wil bekom.
Belangstellendes kan R5 500 in SA Jagters se bankrekening betaal. Die rekening is by Absa en die rekeningnommer is 01443990077; met takkode 632005. Gebruik die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za
Gedenkboek
Die gedenkboek is steeds beskikbaar in A4-formaat teen R300 per boek. Die leergebinde weergawes is reeds uitverkoop.
Bestellings:
Plaas die korrekte bedrag (R300 vir die gewone boek) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by Absa en die rekeningnommer is 01443990077.
Gebruik net u Lidnommer en Boek as verwysing. Maak seker dat u lidnommer korrek is anders kan ons nie die bestelling uitvoer nie.
Buck-knipmesse
Daar is slegs 76 van die beperkte reeks Buck-knipmesse teen R1 000 elk beskikbaar. Hierdie knipmesse het ivoorinlegsels op die hef met SA Jagters se logo op die hef gegraveer. Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by Absa, rekeningnommer 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur die betalingsbewys saam met u lidnommer en kontakbesonderhede aan Realda Goosen by realda@sahunt.co.za
Humansdorp Koöperasie
In April 2022 bied Humansdorp Koöperasie alle Hornady produkte teen 10% korting aan lede van SA Jagters.
- Ondersteuning aan lede
Baie van ons lede is erg geraak deur die Covid-19-omstandighede. Hieronder is inligting van geleenthede wat ons lede aan ander lede bied om mekaar te help.
- Goeie droë bosveld vuurmaakhout is beskikbaar teen `n billike prys in die Pretoria-omgewing. Meer detail hier
9. Lidmaatskap
Werf lede vir kommissie
SA Jagters se ledetal staan nou op 44 080.
Elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, ontvang kommissie van tussen R100 tot R150 per lid. Meer inligting is hier beskikbaar.
Die Raad van SA Jagters bied ook aan dat elke Tak wat lede wie se lidmaatskap weens wanbetaling opgeskort is, oortuig om te betaal, ook die bostaande kommissie sal ontvang. Meer inligting hieroor sal per afsonderlike e-pos aan Takvoorsitters gestuur word.
SA Jagters het weer aansoekvorms vir lidmaatskap aan `n verskeidenheid handelaars verskaf. Vorms is beskikbaar by Dorothy Els by dorothy@sahunt.co.za
- Kommersiële sake
Die volledige lys van diensverskaffers wat spesiale pryse aan lede van SA Jagters bied is hieronder beskikbaar.
- Humansdorp Koöperasie
- Toyota SA
- Wildman Hunting and Outdoor
- Hokaai Slaghuis
- LAVA Vakuumverpakking
- Selftrack
- MAINSU Kragopwekkers
- Cens Digital Gehoorbeskerming
- Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
- Helle-messe
- Nitecore Flitse
- Fitch and Leedes
- Otterskloof
- Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
- Dovetail Wooden Boxes
- 4Deadhold Skietstok
- Die Vleishoekie Vleismark
- Thermal Imaging Warehouse
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB