1 Julie 2022

Ons is nou amptelik in die tweede helfte van die jaar en ook reg in die middel van die jagseisoen. 

Indeling van die nuusbrief

Belangrike inligting en boodskappe verskyn eerste in die nuusbrief en herhalende inligting verder aan.

Lede wat min tyd het om te lees, kan dus op die eerste deel van die nuusbrief fokus vir nuwe inligting en die res vir later los.

 

Nuwe boodskappe

 

  1. International Gallery Rifle Wêreldkampioenskap

 

`n Span van SA Jagters het in Mei 2022 aan die International Gallery Rifle World Championship by Bisley in Engeland as die verdedigende kampioene deelgeneem. Hulle het die geleentheid terdeë geniet en baie goed presteer. Die span het ook `n paar nuwe lede ingesluit.

 

Baie geluk aan die hele span wat maar ook spesifiek die onderstaande spanlede met hulle prestasie. Baie dankie dat julle waardige ambassadeurs was vir SA Jagters en die RSA.

 

  • Annemarie van Tonder – Sy is die nuwe Vroue Wêreldkampioen beide in die algehele kleinkaliber, sowel as die algehele senterslag afdelings.
  • Stoffel Bester – Algeheel vierde in die kleinkaliber afdeling en eerste in die X-klas met `n nuwe baanrekord vir die Phoenix byeenkoms.
  • Flippie van Tonder – in vyfde in die algehele kleinkaliber afdeling en tweede plek in twee van die dissiplines.

Meer uitslae hier.

 

  1. SAJWV Kongres

 

Die Raad van SA Jagters het met die goedkeur van die begroting vir die volgende jaar van 1 Julie 2022 to 30 Junie 2023 die besluit geneem om die Kongres van 2022 weer soos verlede jaar as virtuele vergadering via Zoom aan te bied, uitsluitlik om koste te bespaar vir SA Jagters en lede van die Vereniging.

 

Die Kongres sal op 5 November 2022 om 08:00 plaasvind. Dit word as virtuele vergadering via Zoom aangebied vanaf die kantoor van SA Jagters te Nyathipark in Pretoria. Alle afgevaardigdes sal, soos bepaal in die Interne Reëls, uitgenooi word om die Kongres 2022 virtueel by te woon binne takverband.

 

  1. Begroting en ledegeld

 

Die Raad van SA Jagters het die begroting vir die finansiële jaar goedgekeur vir implementering. Ledegeld verhoog met ongeveer 5% vir alle lede (in sommige gevalle effens minder en andere dalk effens meer). Die nuwe tabel met ledegeld is hier beskikbaar..

 

Lede kan steeds kies om slegs ledegeld te betaal en of hulle ook een of twee van die tydskrifte (SA Jagter en Magnum) wil ontvang.

 

  1. Jagsake

 

4.1.      Bek-en-klouseer

 

 Die beheermaatreëls vir bek-en-klouseer geld steeds in Limpopo en KZN wat die vervoer van enige produkte van spleethoewige diere in, uit, en deur die beheergebied beperk. Ons het die spesifieke protokol verlede maand aangestuur met die nuusbrief.

 

 `n Kopie van die volledige protokol is hier beskikbaar.

 

Intussen het bek-en-klouseer in Noordwes versprei na positiewe diagnoses op 14 verdere plase in die Potchefstroom-omgewing gedoen is. Hierdie plase en omliggende plase is onder kwarantyn geplaas.

 

Lede word aangeraai om seker te maak dat die plaas waar hulle wil gaan jag nie onderhewig is aan die bek-en-klouseer beheermaatreëls nie, en om - waar nodig  - aansoek te doen vir die nodige permitte om vleis in, uit en deur die beheerde gebiede te vervoer.

 

Rig permitaansoeke aan:

KwaZulu Natal Provinsie                       Limpopo Provinsie

Dr. CC Meintjes                                        Dr. JJ Mentz

083 273 5797                                           083 302 1850

This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.                     This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

4.2       Elektroniese uitreik van permitte van wildevarkvleis of karkasse

 

Hierdie fasiliteit is gratis beskikbaar aan enige opbetaalde lid van SA Jagters wat `n grondeienaar is wat sy plaas/plase wil registreer vir die doel om permitte vir die vervoer van wildevarkvleis of karkasse te mag uitreik volgens die Wet op Dieresiektes (Wet No 35 van 1984). Só `n permit is `n vereiste om wildevarkvleis of karkasse deur of vanaf Limpopo, Gauteng, Mpumalanga, Noordwes of gedeeltes van KwaZulu/Natal te vervoer.

 

Grondeienaars kan in twee maklike stappe registreer vir magtiging om permitte uit te reik. Die enigste vereistes is opbetaalde lidmaatskap van SA Jagters en  `n rekenaar, drukker en toegang tot die internet. Kry die volledige inligtingstuk oor registreer hier.

 

4.3.      Nasionale Wildsvleisstrategie

 

Die kabinet het onlangs die publikasie van `n konsepwildsvleisstrategie goedgekeur. SA Jagters het insette gelewer in die ontwikkeling van die strategie wat ten doel om die wildsvleisbedryf te formaliseer en te transformeer. Die strategie bevat ook `n implementeringsplan om die sektor te versterk as `n bydraer tot voedselsekuriteit en ekonomiese groei. Sodra die witskrif vir openbare kommentaar gepubliseer word, sal SA Jagters dit aan lede stuur. Die Vereniging sal ook verdere insette gee en kommentaar lewer.

 

4.4.      Toegewyde jagter- en sportskutstatus

 

Lede met toegewyde jagter- en/of sportskutstatus het slegs vier maande oor om aktiwiteite aan te meld en gereeld by te werk op SA Jagters se aanlyn lede-administrasiestelsel.

 

SA Jagters het 16 862 toegewyde jagters waarvan slegs 7 030 reeds genoegsame aktiwiteite registreer het. Dan is daar 13 935 toegewyde sportskuts waarvan slegs 4 064 reeds genoegsame aktiwiteite registreer het om die status te behou.

 

Lede kan ook die App gebruik wat vir die doel ontwikkel is om tred te hou van aktiwiteite wat jaarliks teen 31 Oktober op rekord moet wees om u status te behou.

 

Lede wat vir welke rede ook al nie genoeg aktiwiteite voor 31 Oktober 2022 kan registreer nie (bv. oefen by `n skietbaan of bywoning van ander aktiwiteite), kan die nasionale kantoor skakel vir raad en hulp.

 

Op versoek van lede, het die Raad ingestem dat `n besoek aan HuntEx ook voortaan kwalifiseer as `n aktiwiteit om toegewyde status te behou.

 

4.5.    Vervoer van vuurwapens

 

SA Jagters ontvang toenemend berigte van onrusbarende praktyke rondom die vervoer van vuurwapens, soos bv.:

 

Polisie of verkeersbeamptes trek motoriste by padblokkades af en vra uit oor die besit van vuurwapens en lisensies. Daar word dan beweer dat die vuurwapen nie gebruik mag word vir selfverdediging (Artikel 13 lisensie) indien die lisensie uitgereik is vir jag of sportskiet (artikel 15 of 16 lisensie) nie.

 

Hierdie bewerings is vals. Elkeen van die artikels waaronder lisensies normaalweg uitgereik word synde Art 13 (selfverdediging) of Art 15 (geleentheidsjag of sportskiet) of Art 16 (toegewyde Jag of sportskiet) bepaal dat die wapen gebruik mag word “waar dit veilig is en vir `n wettige doel”.

 

Daar is geen beperking in die Wet op die Beheer van Vuurwapens dat `n vuurwapen net gebruik mag word vir die doel waarvoor die lisensie uitgereik is nie.

 

In die tweede geval gebeur dit dat polisielede of verkeersbeamptes individue aftrek en navraag doen oor vuurwapens (veral handwapens) en die vervoer daarvan. Daar word dan beweer dat die vuurwapen aan die persoon gedra moet word en nie in `n sakkie, houer of holster wat op enige ander plek in die voertuig gehou word, mag wees nie. Die persoon word dan gedreig en moet omkoopgeld betaal om weer te mag vertrek.

 

Ook hierdie stelling is vals.

 

Artikel 84 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens is eksplisiet oor die vervoer van vuurwapens en bepaal dat `n persoon `n handwapen in `n holster of houer wat daarvoor ontwerp aan die persoon moet dra, of in `n rugsak of `n soortgelyke houer vervaardig om `n wapen in te bêre. Die wapen moet volledig bedek wees en die persoon wat die wapen dra moet effektiewe beheer oor die wapen hê.

 

Hierdie bepalings van Art 84 geld ten opsigte van die dra van vuurwapens in openbare plekke. Binne jou motor is private ruimte, maar buite die motor is openbare ruimte.

 

Art 84 van die wet lees spesifiek soos volg:

Firearms control Act 60 of 2000

Section 84. Carrying of firearm in public place

(1) No person may carry a firearm in a public place unless the firearm is carried –

(a) in the case of a handgun –

(i) in a holster or similar holder designed, manufactured or adapted for the carrying of a handgun and attached to his or her person; or

(ii) in a rucksack or similar holder; or

(b) in the case of any other firearm, in a holder designed, manufactured or adapted for the carrying of the firearm.

(2) A firearm contemplated in subsection (1) must be completely covered and the person carrying the firearm must be able to exercise effective control over such firearm.

 

Ons raai lede aan om baie versigtig op te tree indien hulle in so `n situasie sou beland. Maak seker dat die vuurwapen hanteer word soos die wet vereis. Geeneen hoef omkoopgeld te betaal indien hulle gedreig word nie. Hou gerus `n afskrif van die spesifieke bepalings van die Wet byderhand.

 

5. Bewaringsnuus

 

1. Save our Succulents bewaringsinisiatief (SOS)

 

Namakwa-tak se Save our Succulents bewaringsinisiatief het 100 saailinghouers aan Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin geskenk vir beskermde vetplante uit die Namakwaland wat by stropers afgeneem is. Volgens Adam Harrower, senior botanis van Xerophytic plantversamelings by Kirstenbosch Botaniese Tuin, het die skerp toename in die stroop van bedreigde plante sekere Namakwaland-spesies wat wild voorkom, uitgewis. Die saailinghouers is van kritieke belang om die gekonfiskeerde plante lewendig te hou en hul voortbestaan te verseker.

 

Lede en die publiek wat hierdie inisiatief wil steun, kan met Lizanne Nel, bewaringsbestuurder in verbinding tree by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

2. Riemland-tak bewaar Ouvolk

 

Ouvolk of Sonkykers word bedreig deur habitatvernietiging en onwettige versameling uit die natuur. Die Riemland-tak het onlangs een diertjie gered en in die natuur teruggeplaas. Sy het binne `n paar dae self `n gat gekies. Twee kleintjies wat agtergebly het in die gat wat stropers toegestamp nadat hulle die ma gevat het, is gered en by `n ander wyfie geplaas wat hul aangeneem het. Fantastiese werk Riemland-tak!

 

Rapporteer asseblief enige onwettige aktiwiteit onmiddellik. Grondeienaars wat wil inskakel by ons Natuurlewe Erfenis projek waar ons hul habitat bewaar, kan navrae rig aan Lizanne Nel, bewaringsbestuurder by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 

SA Jagters dien op die nasionale sonkyker werkgroep waar ons saam met ander bewaringsorganisasies strategies besin oor die bewaring van hierdie spesie.

 

6. Nuwe redakteur vir SA Jagter

 

Johan van Wyk, die redakteur van SA Jagter tydskrif het besluit dat die groener weiveld van Australië aanloklik is. Hy en sy gesin verhuis eersdaags daarheen. Baie dankie aan Johan vir sy goeie werk as redakteur van die SA Jagter.

 

Francois van Emmenes is aangewys om by hom oor te neem.  Francois is `n ou bekende uit Pretoria Oos-tak en ons verwelkom hom as nuwe redakteur en wens hom  sterkte toe vir sy nuwe taak. Ons sien uit na sy ywer om SA Jagter `n groter suksesvolle tydskrif te maak.

 

  1. Munisipale belasting op landbougrond

 

Ons het in die onlangse verlede berig oor die feit dat sommige munisipaliteite belasting op landbougrond (plase) implementeer en veral dat daar nou `n beweging is om plase as kommersiële eiendomme te belas en nie as plaasgrond nie. Lede wat grondeienaars is mag die teiken van sodanige verandering wees.

 

Een van ons lede, prof. Bernard Bekink het sy doktorale verhandeling gedoen oor die herstrukturering van plaaslike regering. Hy is `n kundige ten opsigte van munisipale bestuur, ingesluit munisipale belasting.

 

Bernard het aangebied om enige lede wat probleme mag ervaar met enige aspekte van munisipale belasting by te staan, sou hulle van sy hulp gebruik wil maak. `n Eerste konsultasie sal gratis wees, waarna Bernard en die betrokke lid kan ooreenkom op enige verdere bystand en die koste daarvan.

 

Lede kan navrae aan prof. Bernard Bekink rig by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

  1. Spesiale Aanbod Humansdorp Koöperasie

 

In Julie 2022 bied Humansdorp Koöperasie 10% korting aan lede van SA Jagters op die aankoop van alle Walther lope

 

Herhalende boodskappe

 

Die volgende groep is boodskappe wat u reeds voorheen ontvang het.

 

  1. Fotografieklub

 

Die fotografieklub vanSA Jagters lok steeds wye belangstelling. Gaan lees gerus meer hier oor die klub, geleenthede vir opleiding om beter foto’s te neem en maandelikse kompetisies en pryse. Hierdie verslag verskaf ook inligting oor die beste foto’s van die jaar en die Fotograaf van die Jaar.

 

  1. Spesiale aanbiedings

 

Doctari-messe

 

Die Doctari ivoormes-projek eindig binnekort. Daar is slegs 20 van hierdie messe oor. Plaas u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom as u een van die laaste 20 messe wil bekom.

 

Belangstellendes kan R5 500 in SA Jagters se bankrekening betaal. Die rekening is by Absa en die rekeningnommer is 01443990077; met takkode 632005. Gebruik die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

Gedenkboek

 

Die gedenkboek is steeds beskikbaar in A4-formaat teen R300 per boek. Die leergebinde weergawes is reeds uitverkoop.

 

Bestellings:

  1. Plaas die korrekte bedrag (R300 vir die gewone boek) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by Absa en die rekeningnommer is 01443990077.

Gebruik net u Lidnommer en Boek as verwysing. Maak seker dat u lidnommer korrek is anders kan ons nie die bestelling uitvoer nie.

 

Buck-knipmesse

 

Daar is slegs 59 van die beperkte reeks Buck-knipmesse teen R1 000 elk beskikbaar. Hierdie knipmesse het ivoorinlegsels op die hef met SA Jagters se logo op die hef gegraveer. Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by Absa, rekeningnommer 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur die betalingsbewys saam met u lidnommer en kontakbesonderhede aan Realda Goosen by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

Ondersteuning aan lede

 

Sommige van ons lede is erg geraak deur die Covid-19-omstandighede. Hieronder is inligting van geleenthede wat ons lede aan ander lede bied om mekaar te help.

Goeie droë bosveld vuurmaakhout is beskikbaar teen `n billike prys in die Pretoria-omgewing. Meer detail hier.

 

  1. Lidmaatskap

 

Werf lede vir kommissie

 

SA Jagters se ledetal staan nou op 43 243.

 

Elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, ontvang kommissie van tussen R100 tot R150 per lid. Meer inligting is hier beskikbaar.

 

Die Raad van SA Jagters het ingestel dat Takke wat lede wie se lidmaatskap weens wanbetaling opgeskort is, oortuig om te betaal, ook die bostaande kommissie sal ontvang. Meer inligting hieroor is reeds voorheen per afsonderlike e-pos aan Takvoorsitters gestuur.

 

SA Jagters het weer aansoekvorms vir lidmaatskap aan `n verskeidenheid handelaars verskaf. Aansoekvorms is beskikbaar by Dorothy Els by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

  1. Kommersiële sake

 

Die volledige lys van diensverskaffers wat spesiale pryse aan lede van SA Jagters bied is hieronder beskikbaar.

 

  • Humansdorp Koöperasie
  • Toyota SA
  • Wildman Hunting and Outdoor
  • Hokaai Slaghuis
  • LAVA Vakuumverpakking
  • Selftrack
  • MAINSU Kragopwekkers
  • Cens Digital Gehoorbeskerming
  • Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
  • Helle-messe
  • Nitecore Flitse
  • Fitch and Leedes
  • Otterskloof
  • Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
  • Dovetail Wooden Boxes
  • 4Deadhold Skietstok
  • Die Vleishoekie Vleismark
  • Thermal Imaging Warehouse
  • Pangolin Vuurwapenkluise

Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.

 

Vriendelike groete

 

Fred Camphor

 

SA Jagters: HUB