Dit is die einde van nog `n jaar en groot opgewondenheid heers oor Kersfees wat voorlê. Hierdie is die tyd om liggies te hang, `n Kersboom te versier, geskenke toe te draai en lekker saam met familie en vriende te kuier. Gelukkig het ons reeds die grootste geskenk nóg ontvang. Ons liggies skyn reeds, ons is reeds versier met genade en ons is reeds toegedraai in liefde. Al wat ons nog kan doen, is om in vreugde saam die geboorte van ons Redder te herdenk.

 

Baie dankie vir hierdie jaar wat ons kon saamwerk en ons in SAJWV met al sy fasette kon uitleef. As ons terugkyk was daar tye van swaarkry en hartseer, maar ook tye van vreugde en voorspoed. Dae wat ons gewonder het of alles ooit weer sal normaliseer, maar met die spanwerk wat SAJWV se lede openbaar het, kon ons voortgaan en volhoubaar bou aan dít wat ons almal na aan die hart lê.

 

Dankie vir u tyd en opofferings, u bydraes en lojaliteit en die blymoedige atmosfeer wat heers waar ons as lede van SA Jagters bymekaar is. Dankie vir die wyse waarmee ons mekaar bemoedig waar nodig, maar seker die belangrikste, die wyse waarmee u die Suid Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging met u gesindheid dien.

 

Namens die Raad wens ek al ons lede, takvoorsitters en besture, baanoffisiere, streekkoördineerders, bestuur en personeel, raadslede en almal se families, `n ryklik Geseënde Kersfees toe. Mag dit vir almal `n wonderlike Kerservaring wees.

 

Ons weet nie wat die toekoms inhou nie. Daarom is dit my bede dat 2022 vir u net vreugde, vrede en voorspoed sal inhou, dat al u drome bewaarheid sal word en dat die Seën wat u uit die hand van ons Hemelse Vader sal ontvang, u paaie gelyk sal maak.

 

Bly asseblief veilig en kyk mooi na uself

 

Groete

Basie Bergh

President