Print PDF

Lidmaatskap by die SAJWV – wat beteken dit vir die lid?

Hierdie artikel is die eerste van 8 kort artikels wat handel oor die waarde van SAJWV lidmaatskap.

Om te kan jag in Suid-Afrika en die ander jagvelde van sub-Sahara Afrika, soos dit tans beskore is vir die gemiddelde lid van die SAJWV, is ’n voorreg wat in sy huidige formaat waarskynlik volhoubaar is vir hoogstens nog een geslag! ’n Aanvegbare stelling in die eerste plek, en tweedens, wat het dit te doen met die prys van lidmaatskap by die SAJWV?

Antwoord: Elke sent van jou lidmaatskapfooie word bestee om jou en jou kinders se voorreg om môre en die dag daarna te kan jag, te beskerm!

Bogenoemde intrede tot dié artikel is bedoel om u aandag te trek. Prysstygings is nooit welkom nie, ongeag of die Vereniging moet tred hou met prysstygings op alle terreine van sy bedryf – soos op alle ander terreine in die land. Lidmaatskapfooie van die SAJWV is geen uitsondering nie. Dit is egter vir elkeen van ons belangrik om te weet dat ons waarde vir geld ontvang vir elke produk of diens waarvoor ons betaal.

  • Jagters wêreldwyd, met Suid Afrika geen uitsondering nie, moet dikwels hoor hoe onaanvaarbaar hul aktiwiteite as jagters is. Die kritici is persone of groepe persone nasionaal en internasionaal, wat hulself die reg aanmatig om hulself voor te doen as die enigste mense wat optree in belang van bewaring van diere- en plantlewe.
  • Dan is daar die individue en groepe wat hulself beywer om wettige vuurwapeneienaarskap te beperk en/of te stop gebaseer op hul eie agendas!
  • Beide jag en vuurwapenbesit is wettig in Suid-Afrika en word beskerm in terme van die Grondwet van Suid-Afrika. Vry aangehaal, is daar egter ’n gesegde wat rofweg soos volg lui: “verkondig ’n leuen lank genoeg en dit word later as die waarheid aanvaar en oorvertel!”.

Die omvang van die wêreldwye aanslag op die jag en vuurwapenbesit word deur te veel van ons onderskat. ’n Goeie voorbeeld wat elke lid van die Vereniging se lede (en elke vuurwapeneienaar daarbuite) direk raak, is die probleme (let wel, die probleme en nie die beginsel nie) rondom herlisensiëring van bestaande vuurwapens en/of die lisensiëring van nuwe vuurwapens. Elkeen van die Vereniging se aktiwiteite op internasionale, nasionale, provinsiale en takvlak, is gemik op die beskerming van die belange van ons toekoms as jagters en vuurwapenliefhebbers!

(lees artikel 2 van 9 - Reg om jag te beoefen )