| 10 July 2012
Wetgewing aangaande jag van wild, besit en vervoer van wildsprodukte
Jagters doen dit wettig, veilig en verantwoordelik en verseker dat hulle nie aan die verkeerde kant van die Wet beland nie!
Toepaslike wetgewing:
- Wilddiefstalwet no 105 van 1991
- Provinsiale jagproklamasies
Jagters moet verseker dat hulle die volgende dokumentasie bekom alvorens die jag ‘n aanvang neem en moet die dokumentasie te alle tye op aanvraag kan toon:
1. Vir jag van wild, besit en vervoer van wildsprodukte op of van ‘n vrygestelde plaas vir:
1.1 gewone wild, word slegs ‘n skriftelike toestemmingsbrief van die grondeienaar
vereis;
1.2 beskermde wild vereis ‘n skriftelike toestemmingsbrief van die grondeienaar en ‘n
permit van die toepaslike provinsiale natuurbewaringsdepartement;
2. Vir jag van wild, besit en vervoer van wildsprodukte op of van ‘n nie-vrygestelde plaas
vir:
2.1 gewone wild, word ‘n skriftelike toestemmingsbrief van die grondeienaar en ‘n
jaglisensie van die toepaslike provinsiale natuurbewaringsdepartement vereis;
2.2 beskermde wild vereis ‘n skriftelike toestemmingsbrief van die grondeienaar
en ‘n permit van die toepaslike provinsiale natuurbewaringsdepartement;
3. Die vervoer van wildevarkprodukte (vlakvarke en bosvarke) het spesifieke beperkinge
a.g.v. die periodieke voorkoms van Varkpes:
3.1 Wildevarkkarkasse moet te alle tye sonder vel, kop, pote en binnegoed vervoer word en dit word aanbeveel dat alle limfknope (kliere) verwyder word;
3.2 Grondeienaars kan aansoek doen vir “varkpermitboeke” en die permitte uitreik aan jagters om die vervoer van wildevarkkarkasse te wettig;
3.3 Indien die grondeienaar nie ‘n “varkpermitboek” het nie moet die plaaslike Staatsveearts die wildevarkkarkas inspekteer en ‘n vervoerpermit uitreik, indien hy tevrede is dat die karkas skoon is.
Bogenoemde dokumentasie kan deur bv. ’n amptenaar van Natuurbewaring, die SA Polisie en/of Doeane versoek word en moet op aanvraag getoon word.
Slaghuise mag nie wildsprodukte ontvang en verwerk sonder die dokumentêre bewyse van jagters dat die wildsprodukte wettig bekom is nie.
Wanneer vuurwapens vervoer word en daarmee gejag word, moet die eienaar te alle tye die vuurwapenlisensies op aanvraag kan toon.







