| 24 May 2012
Jagtersvereniging maak beswaar teen afgryslike en onwettige jagaktiwiteite in Kalahari
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) maak ten sterkste beswaar teen ‘n uitsending van ‘n KykNET-program, Verre Roetes, op Woensdagaand 16 Mei, wat verskeie onwettige en onverantwoordelike jagaktiwiteite in die Kalahari uitgebeeld het.
Dr Herman Els, bestuurder van Jag en Bewaring by SAJWV, sê hulle beskou die betrokke insetsel in die program as onverantwoordelik en ‘n sensasionele uitbeelding wat die jag en wildbedryf in Suid-Afrika groot skade kan berokken. Die program wys jagaktiwiteite in die Kalahari wat onwettig is en indruis teen die etiese beginsels van jag, naamlik:
- Dit is teen die wet om alkohol te gebruik wanneer ‘n mens gaan jag.
- Dit is ‘n blatante veronagsaming van die gedragskode en etiese reëls vir jag wat alle verantwoordelike jagorganisasies ter wêreld bevorder
- Dit is onaanvaarbaar en verkeerd om jongmense wat ooglopend swak skuts is en wat nie die nodige vaardighede het om ‘n vuurwapen verantwoordelik te hanteer nie, saam te neem op ‘n jag. Dit druis in teen alle veiligheids- en wetlike vereistes van die vuurwapenwet en die nasionale en internasionale gedragskode vir jagters.
Dr Els sê die aktiwiteite wat in die program gewys word, kan baie maklik deur oningeligte kykers as die norm in jagterskringe beskou word. `Hierdie boodskap benadeel jagoperateurs en wildplaaseienaars in die Kalahari wat wettig en eties optree. Ons was veral teleurgesteld om te hoor dat Noord-Kaap Toerisme betrokke was by die produksie van hierdie program en toegelaat het dat hierdie afstootlike en gruwelike jagtonele as die norm in die Kalahari uitgebeeld word. Dit is baie jammer dat die vervaardigers van die program nie in enige stadium van die produksie by een van die jagverenigings vir raad aangeklop het nie. ‘
Els sê verder dat SAJWV en ander jagverenigings in Suid-Afrika selfregulering van die jagbedryf pro-aktief beoefen en bevorder, en dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om onetiese en onverantwoordelike jagaktiwiteite uit te roei.
Die program sou Donderdagmiddag op KykNET herhaal word, maar na SAJWV beswaar gemaak het, het KykNET ingestem om dit van die programskedule te verwyder. `Ons het groot waardering vir die sensitiewe en verantwoordelike besluit van KykNET in hierdie saak,’ het Els gesê.








