| 21 September 2011
PERSVERKLARING DEUR DIE SUID-AFRIKAANSE JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING
DATUM: 20 SEPTEMBER 2011
EMBARGO: GEEN
Wettiging van handel in renosterhoring kan renosterstropery bekamp
Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) doen ’n beroep op die Minister van Omgewingsake Edna Molewa om dit ernstig te oorweeg om die verbod op die nasionale handel in renosterhoring op te hef as die eerste stap om renosterstropery oor die lang termyn te beeïndig. Die tweede stap sou wees vir die Suid-Afrikaanse owerhede om die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) te oortuig om ook sy internasionale verbod op die handel in renosterhoring op te hef ten gunste van goed-gereguleerde, internasionale handelsvoorskrifte.
SAJWV is ’n voorstander vir die verkoop van renosterhoring onder voorwaarde dat elke transaksie onderhewig is aan die uitreiking van ‘n DNS-sertifikaat. Met só ‘n stelsel kan die besonderhede van elke verkoper en koper op die renoster DNS-databasis van die Veterinêre Genetiese Laboratorium (VGK) te Onderstepoort vasgelê word. ‘Dit sal ‘n progressiewe stap wees om onmiddellik die waarde van die lewendige dier drasties te verhoog teenoor die eenmalige ekonomiese waarde van die gestroopte dier se horing,’ sê SA Jagters se president, mnr Fred Camphor.
Donderdag 22 September is Wêreld Renosterdag, ‘n internasionale inisiatief om die mite dat renosterhoring medisinale waarde het die nek in te slaan en sodoende die behoefte aan renosterhoring te probeer uitskakel. `Sulke pogings om bewustheid te skep oor die waarde van ons renosters en om geld in te samel om die diere te beskerm, is prysenswaardig. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat ons ‘n 5000-jaar oue Oosterse opvatting wat renosterhoring as ‘n waardevolle tradisionele geneesmiddel beskou, oornag kan verander.
`Alle aktiwiteite wat ‘n bydrae kan maak om renosters te bewaar moet gesien word as veelvuldige aspekte van ‘n strategie om die wrede slagting van renosters te voorkom. Ons stem egter saam met die standpunt van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (PJVSA) dat ‘n verbod op die jag van renosters nie die stropery sal bekamp nie. Inteendeel, ‘n jagverbod op renosters in Suid-Afrika kan stropery juis laat toeneem,’ sê Camphor.
Dr Ian Player, wêreldbekende bewaringskundige, het verlede Vrydag tydens ‘n vergadering van die KZN-tak van Suid-Afrikaanse Gasvryheidsorganisasie (Fedhasa) ook die wettiging van die handel in renosterhoring bepleit. Dr Herman Els, SA Jagters se bestuurder van Jag- en Bewaringsake het beklemtoon dat die wettige oes van en georganiseerde handel in renosterhoring in Suid-Afrika die enigste lewensvatbare opsie is om ons renosters te bewaar. ‘n Renoster se horing groei binne twee tot drie jaar terug. Dit beteken dat dieselfde dier se horings ‘n paar maal in sy leeftyd benut kan word, sonder dat die dier daaronder ly.
`Die geheim tot die sukses van só ‘n benadering berus egter in ons vermoë om die oorsprong van elke horing te identifiseer om te bepaal of dit wettiglik bekom is of nie. Dit is presies wat die VGL by Onderstepoort kan doen. Dr Player se stelling dat die regering voldoende renosterhorings geberg het om vir ‘n geruime tyd in die wêreldaanvraag te voorsien, is heeltemal korrek. Ons skat dat SANParke gedwing is om renosterhorings ter waarde van sowat R1.5 miljard in hulle kluise bêre omdat hulle dit nie mag verkoop nie. Dit beteken dat hierdie geld nie tans vir bewaringsdoeleindes aangewend kan word nie. Dr Player se aanbeveling om die horings van renosters wat aan natuurlike oorsake dood is te verkoop, is realisties. Ons weet nog nie hoe groot die werklike behoefte aan die produk is nie. As ons hierdie horings in die handel beskikbaar stel, kan dit die sluikhandel in horings ontmasker en misdaadsindikate ‘n gevoelige slag toedien, ’ sê Els.
SA Jagters het in April vanjaar tydens die Huntex-skou by Gallagher Konferensiesentrum sy Rhinos Alive!-veldtog in samewerking met die Onderstepoort VGL van die Fakulteit van Veterinêre Wetenskappe, Universiteit van Pretoria bekend gestel. Hierdie veldtog bevorder die neem van DNS-profiele van alle swart- en witrenosters en renosterhorings in staats- en private besit sodat dit in die VGL se Renoster DNS databasis (RhODIS), gestoor kan word.
Die publiek is ook gevra om geld te skenk om die VGL in stand te hou. Die 67 takke van SA Jagters wil voor die einde van hierdie jaar R100,000 onder hulle lede landwyd insamel sodat die VGL die DNS-stelletjies kan aankoop waarmee die DNS-monsters vir die RhODIS databasis geneem kan word.
Hierdie databasis maak dit moontlik om alle diere en hulle horings te identifiseer en die herkoms daarvan op te spoor. The DNS-databasis sal ‘n deurslaggewende rol kan speel om onbetwisbare getuienis te verskaf in polisie-ondersoeke en hofsake om renosterstropers agter tralies te sit en onwettige jag te bekamp. Terselfdertyd is die databasis ook ‘n handige genetiese verwysingsbron wat vir renostereienaars van groot nut kan wees in renoster-teelprogramme.
`Gedurende die afgelope jaar het besorgde Suid-Afrikaners verskeie pogings aangewend om die renosterstropery stop te sit, maar daar is nie eenstemmigheid oor hoe om hierdie situasie gesamentlik op te los nie. Hoe sal ons ooit internasionaal met renosterhoring kan handeldryf as ons nie kan bewys dat ons ‘n DNS-opsporingstelsel het wat in hierdie land werk nie? Ons is dit te danke aan mense soos dr Ian Player wie se harde werk in Zululand gedurende die middel 1900’s verseker het dat 93% van alle witrenosters in die wêreld in Suid-Afrika beskerm word,’ sê Els.
SA Jagters is deeglik bewus van die groot verantwoordelikheid wat met die nasionale handel in renosterhoring gepaardgaan, en besef die noodsaaklikheid om beheermaatreëls in werking te stel, soos:
- Stigting van ‘n dinkskrum bestaande uit belanghebbendes en amptenary om die nodige maatreëls en prosesse vir behoorlike regulering te ontwikkel;
- Gesprekvoering met betrokke regeringsdepartmente en ander rolspelers oor die beginsels van die saak;
- Verkryging van kennis oor die aanvraag vir die produk;
- Loodsing van ‘n ondersoek om ‘n beheermeganisme vir internasionale handel -soortgelyk aan wat De Beers vir diamanthandel gedoen het – vir die handel in renosterhoring in werking te stel.
REDAKSIONELE NAVRAE: Dr Herman Els by 012 808 9300 / 083 294 7503 oF
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
MEDIA NAVRAE: Magda Naudé by 082 452 5878 of
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
UITGEREIK DEUR DIE SUID-AFRIKAANSE JAG- EN WILDBEWARINGSVERENIGING







