SAJWV Overberg tak se Droogtehulp Projek was die idee van Essie Esterhuyse en Frank Esterhuizen. Beide bestuurslede van Overberg tak. Hulle wou op ‘n wegbreek naweek twee bakkies vol mielies na boere in Sutherland neem. Dit was al-om bekend dat die droogte sy tol eis in die Wes- en Noord Kaap. Dorpe soos Sutherland en Fraserburg is weens hulle ligging ver van die hoofroetes af met die gevolg dat hulle min hulp kry van ander droogtehulp projekte.


Die nood is egter met ondersteuning van die voorsitter van die tak op daardie stadium, Justus Harmse, onder die aandag van die tak lede gebring en daar is in Oktober 2017 besluit om die SAJWV-Overberg Droogtehulp Projek van stapel te stuur. As jagters wat oor jare op ‘n verantwoordelike wyse op plase in die Sutherland distrik gejag het vir wildsvleis op die tafel, het hierdie jagters besluit om boere in die distrik te help om hul wild en vee aan die lewe te hou deur ‘n droogte tydperk wat al in sommige areas, meer as vyf jaar voortduur. Op van die plase het dit vyf jaar laas noemenswaardig gereën. Daar is vee en wild wat tans met die hand gevoer word aangesien hul van honger nie verder kan loop na voer of water nie. Hoewel die fokus aanvanklik was op bystand aan diere, het dit gou aan die lig gekom dat daar verskeie families is wat ook nie meer kos op die tafel het nie en die hulp is uitgebrei om ook aan verdienstelike gesinne, kos te voorsien.

 


Lede betrokkenheid:
Die leier span het dit goed gedink om lede van die tak sowel as die publiek te nader vir skenkings van mielies, droogte korrels, lusern pille wat maklik op bakkies en sleepwaens gelaai kan word, sowel as kos, petrol en vervoer. Finansiële skenkings ter ondersteuning van die projek is ook bekom.  Die gemeenskappe in die Overberg streek het hande gevat en saam met die lede van Overberg tak ‘n ongelooflike inisiatief geloods. Finansiële skenkings is en word steeds gebruik om voer van Kaap Agri aan te koop sodat dit na droogte geteisterde gemeenskappe geskuif kan word. Verskeie lede is telkens betrokke om fondse en skenkings te beding, te help met die organisasie van alle aspekte gekoppel aan die  aflewerings en dan ook om die aflewerings te doen.


Mobilisering van die gemeenskap:
Daar is baie organisasies en individue wat te veel is om op te noem, wat genoeg vertroue in hierdie span en die projek gehad het om mildelik by te dra. ‘n Anonieme donateur het byvoorbeeld eenmalig ‘n bedrag van R218 000k geskenk as bydrae tot die inisiatief. Aangesien alle bydraes opreg waardeer word, het die span versoek dat niemand uitgesonder word nie. Meer as twintig besighede en organisasies het egter bygedra, om nie eers die aantal individue te noem nie.


Impak:
Om die impak van ‘n welwillendheidsprojek soos hierdie te bepaal, wat nie net wild en vee raak nie, maar ook mense in hul daaglikse bestaan raak,  is byna onmoontlik. Hier dink ons byvoorbeeld aan elke werker wat ‘n fooitjie gekry het vir hulp om mielies in sakke te sit. Vragmotor bestuurders wat duisende kilometers ry en honderde man - ure se tyd insit.   Sulke helpers se gesinne het ook baat gevind deur die inisiatief.  Die aantal diere wat se lewens gered is, kan nie in geldwaarde omgesit word nie. So ook nie die emosionele impak op mense wat bevoordeel is nie. Hierdie projek het menige boer toegelaat om hul koppe omhoog te hou deur ander mense wat hul ondersteun het om vas te byt  en nie moed op te gee nie.


Die volgende is net enkele statistieke:

AREA

TOERUSTING HUUR

 VOER WAARDE

BRANDSTOF WAARDES

MAN-URE

AANTAL VRYWILLIGERS BETROKKE

PERSONE DIREK BEVOORDEEL

SUTHERLAND 

R27 200

R1 147 000

R831 000

2005

127

669

FRASERBURG 

R44 800

R680 100

R1 106 600

1719

91

344

TOTAL 

R72 000

R1 827 100

R1 937 600

3724

218

1013

Die totale finansiële waarde van die projek oor die periode van twee jaar is ongeveer R4 miljoen, met nog projekte wat in die vooruitsig gestel word. Dit is uitgesluit die tyd van die mense wat deelgeneem het aan die projek.  


Die werk wat die tak doen het ongeveer 2000 mense se lewens direk geraak. Meer as 17000 mense is bereik op FaceBook waar lede van die publiek kon lees van die werk wat jagters in hul omgewing doen. Verskeie artikels is gepubliseer oor die projek en ondersteuning vir die projek het sover as Gauteng gekom.


Hierdie bewaringspan van Overberg tak het aan die mense in hul omgewing, ander lede van SA Jagters en die gemeenskap gedemonstreer dat jagters nie net die wildbedryf verantwoordelik benut in tye van oorvloed nie, maar omdat hulle so na aan die natuur leef, is hulle ook die eerstes om hulp te verleen om die hande te versterk van die rentmeesters wat hierdie diere en hul habitatte bestuur en bewaar wanneer dit moeilik is. Die feit dat hierdie projek nie ‘n verval datum het nie en die leierskorps van Overberg steeds nougeset betrokke is by voortgesette hulp leniging is iets waarop elke lid van SAJWV trots kan wees.


Aan die volgende persone is as leierspan van die Overberg tak se droogtehulpprojek die Orde van die Berghaan toekenning gemaak op 1 November 2019 by die SA Jagters Kongres:

  • Danie de Waal
  • Jacques Supra
  • Andrew Beukes
  • Phillip van Heerden
  • Essie Esterhuyse
  • Jan Conradie
  • Frank Esterhuizen
  • Justus Harms
  • Jacques Goosen

‘n Deel van die Overberg vrywilligers wat die Droogtehulp projek bedryf gedurende die eerste aflewering met hoofsaaklike bakkies en ‘n klein trokkie om te kyk wat gaan werk en daarna is 35 ton trokke gebruik om die groot hoeveelhede veevoer te vervoer.

Konvooi staan gereed om te vertrek na Sutherland – hierdie was die eerste konvooi en het ‘n skenking van R4000 se mielies deur die Kaapagri ingesluit.

Konvooi staan gereed om te vertrek na Sutherland – hierdie was die eerste konvooi en het ‘n skenking van R4000 se mielies deur die Kaapagri ingesluit.

Overberg bestuursgroep en ander vrywilligers help op Sutherland om die massasakke te verdeel in kleiner sakke wat daarna uitgedeel word aan die boere.

Overberg konvooi wag vir ander trokke om Verlatenpas op te kom – die pas is ‘n uitdaging en selfs die gelaaide bakkies kon nie vinniger as 60 km/h teen die pas uit nie.

Overberg konvooi wag vir ander trokke om Verlatenpas op te kom – die pas is ‘n uitdaging en selfs die gelaaide bakkies kon nie vinniger as 60 km/h teen die pas uit nie.

Veevoer word afgelaai op Sutherland

Veevoer word afgelaai op Sutherland