Vuurwapenveiligheid – hoe veilig is jou hantering van vuurwapens?

Volgens ervare professionele jagters is daar relatief min risiko om een van die groot VYF te jag. Die oorheersende en immer teenwoordige gevaar is dié van ‘n skietvoorval, met die jagter wat dikwels die probleem veroorsaak.

Nota: vir eenvoud word daar in hierdie artikel net na jaggewere verwys, alhoewel die beginsels van vuurwapenveiligheid ook van toepassing is op alle ander vuurwapens.

‘n “Vreesaanjaende oomblik”!

Professionele jagters praat van daardie eerste keer wat hy ‘n nuwe kliënt ‘n geweer sien hanteer. Hy kan in die volgende paar minute sien of die jagtog wat voorlê ‘n plesier of ‘n beproewing of selfs lewensgevaarlik gaan wees. Volgens ervare professionele jagters is daar relatief min risiko om een van die groot VYF te jag. Die oorheersende en immer teenwoordige gevaar is dié van ‘n skietvoorval, met die jagter wat dikwels die probleem veroorsaak. Volgens die professionele jagters is daar ‘n redelike goeie kans dat jy geskiet kan word indien jy saam met die verkeerde man in die veld beland! Stories van ‘n “vreesaanjaende oomblik” toe ‘n skoot “onbeplan afgegaan het” is volop wanneer jy saam met die manne om ‘n kampvuur gesels.

Relatief min van SA Jagter se lede jag die groot VYF. Ekself het nog nooit nie. Ek aanvaar dat die meeste van ons op een of ander manier kan identifiseer met daardie “vreesaanjaende oomblik” van die professionele jagters. Ek het onlangs so ‘n oomblik op ‘n skietbaan beleef. Ek was deel van ‘n aflossing wat aangetree was op die skietpunt, gereed om met ‘n snelskietoefening te begin, met grendels gesluit, snellervingers langs die sneller en geweerlope 45° na die grond gerig in afwagting op die bevel om te skiet. Voor die bevel om te skiet, het die skut regs van my skielik een of ander probleem ontwikkel en wou die aandag van ‘n baanoffisier trek. Die skut het na links oor sy skouer (in my rigting) gekyk om die baanoffisier se aandag te trek. Hy begin ook sy lyf draai na links in die proses en saam daarmee swaai sy geweerloop in my rigting! Uit die hoek van my regteroog waar ek gereed staan met my eie geweer in my skouer, sien ek dit gebeur en beleef ek my persoonlike “vreesaanjaende oomblik”! Niemand by sy gesonde verstand kyk uit eie vry wil in die loop van ‘n gelaaide jaggeweer nie! Met my verstand is daar niks verkeerd nie en ek weet hoe lyk die wond van ‘n dier wat met ‘n jaggeweer geskiet is!

Ek kan nie enige iets doen nie want ek staan self met ‘n gelaaide geweer in my hande waarop ek moet konsentreer! Voor ek kan praat of uitroep, is daar gelukkig ‘n ervare en wakker baanoffisier op daardie stadium reg agter die skut, wat net soos ek, die probleem sien ontwikkel. Hy tree vinnig vorentoe en waarsku die skut hardop en sorg dat die gelaaide geweer terugswaai in ‘n veilige rigting. Hierdie “vreesaanjaende oomblik” het my op die plek ‘n paar nuwe grys hare besorg!

Vuurwapeneienaarskap is ‘n voorreg!

Ons leef in ’n wêreld waar mense toenemend al minder bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul optrede en daar is altyd ‘n verskoning gereed om negatiewe of onaanvaarbare optrede te regverdig. Die voorreg om ’n vuurwapen te besit, plaas verantwoordelikhede op die eienaar wat hy onvoorwaardelik moet aanvaar! Indien jy ’n vuurwapen besit, is jy te alle tye verantwoordelik vir die gebruik daarvan – maak nie saak of jy dit self gebruik en of iemand anders dit gebruik nie! ....altyd!......sonder uitsondering!

Die verantwoordelike vuurwapeneienaar se vuurwapen is altyd toegesluit in ‘n wapenkluis of onder sy persoonlike toesig en word nie onbewaak gelaat nie – byvoorbeeld onbewaak in ‘n voertuig, op die skietpunt van ‘n skietbaan terwyl die skut na die teiken toe stap en waar kinders dit sonder toesig in die hande kan kry en hanteer.

Dit is ‘n wonderlike voorreg om kinders en volwassenes bekend te stel aan vuurwapens en die verantwoordelike gebruik daarvan, maar dit moet egter met groot verantwoordelikheid en veilig aan hulle oorgedra word deur wettige vuurwapeneienaars. Kinders moet vuurwapens te all tye net onder toesig van die vuurwapeneienaar en met toestemming van hulle ouers hanteer.

Dikwels lees en hoor ons van sogenaamde “skietongelukke”. Die werklikheid is dat nalatigheid deur mense skietvoorvalle veroorsaak, dit gebeur nie vanself nie. Wanneer ’n voorval gebeur, is dit altyd die gevolg van die verontagsaming (nalatigheid) van een of meer basiese veiligheidsmaatreëls!

Net soos die nakoming van verkeersreëls vir voertuie, gaan die veilige hantering van vuurwapens oor ’n ingesteldheid en/of houding. Nalatigheid en dikwels ’n traak-my-nie-agtige houding veroorsaak skietvoorvalle. In sekere gevalle word ongelukke selfs veroorsaak deur ervare skuts wat op daardie oomblik nie sy volle aandag wy aan wat hy doen nie – ja, dit is nie net beginners wat ongelukke of foute maak nie. Die ou spreekwoord van “familiarity breeds contempt” is dikwels die rede daarvoor. As gevolg van ‘n herhaling van sekere aksies oor ’n baie lang tydperk, raak die hantering van vuurwapens tweede natuur en neig mense om afgestomp te raak en nie te let op wat hulle doen nie. Die hantering van ’n vuurwapen mag egter nooit so outomaties raak dat daar ’n afwesigheid van gesonde verstand en korrekte optrede intree nie.

Die vier algemene reëls vir vuurwapenveiligheid:

Reël 1: Alle vuurwapens is altyd gelaai. ‘n Vuurwapen werk net as hy gelaai is en daarom moet geen persoon ooit aanvaar dat enige vuurwapen wat hy sien of hanteer, nie gereed is om te vuur nie. Selfs wanneer ‘n “veilige” vuurwapen aan jou oorhandig word, maak self seker dat dit wel veilig is met die grendel oop, en geen patrone in die kamer of magasyn is nie.

Reël 2: Moet nooit die loop van die wapen rig op enige iets wat jy nie bereid is om te vernietig nie. Die feit dat dit nie gelaai is nie, maak geen verskil aan die reël nie. Sien reël 1.

Reël 3: Hou jou vinger af van die sneller tot jou visiere of teleskoop op die teiken is. Vuurwapens gaan nie “af” nie, iemand trek die sneller! Die bevoegde skut se vinger is langs die snellerbeuel totdat hy sy teiken bevestig het. Oortreding van reël 3 is verantwoordelik vir meer as 80% van alle skietvoorvalle.

Reël 4: Bevestig jou teiken! Moet nooit skiet na iets wat jy nie bevestig het nie. Moet nooit skiet na ‘n skadu, geluid, silhouette of enige iets wat jy nie duidelik kan sien en identifiseer nie. Maak ook seker wat is agter jou teiken – wat word van die koeël as dit die teiken mis of dit ten volle penetreer?

Hierdie is die vier algemene reëls vir vuurwapenveiligheid. Dié reëls geld altyd: wanneer jy op die skietbaan is, terwyl jy vuurwapens vervoer, by die huis waar jy dit hanteer, wanneer jy jou wapens skoonmaak, wanneer jy jag of wanneer jy veg om jou lewe (bv. ‘n inbreker in jou huis). Indien jy hierdie vier algemene reëls vir vuurwapenveiligheid bestudeer, sal jy sien dat indien alle mense te alle tye die vier reëls toepas, daar nie iets soos ‘n “vuurwapen ongeluk” kan wees nie.

‘n Vuurwapen moet in ‘n betroubare werkende toestand wees

Saam met die vier veiligheidsreëls is dit belangrik dat jy moet sorg dat jou vuurwapen in ‘n betroubare werkende toestand is. Daar kan fout gaan met enige meganiese onderdeel soos bv. ‘n veiligheidsmeganisme (“safety catch”) of ‘n sneller. Daarom is daar net twee veiligheidsmeganismes waarop jy kan staatmaak, ‘n goed opgevoede snellervinger (sien reël 3 hierbo) en gesonde verstand (die nakoming van die vier basiese veiligheidsmaatreëls hierbo).

‘n Opgevoede snellervinger

Hou skuts op die skietbaan dop om te sien waar hul snellervinger gehou word nadat die grendel gesluit is. Die snellervinger moet altyd reguit langs die snellerbeuel gehou word. ‘n Snellervinger hoort net op ‘n sneller vir die finale 2 tot 3 sekondes wanneer die skut gereed is om die sneller te trek. Dikwels is ‘n skut se vinger reeds op die sneller terwyl hy/sy nog besig is om rond te skuif om die finale skietposisie te vind, lank voor die skut gereed is om die skoot te skiet. Dit is hier waar onbeplande skote dikwels afgevuur word! Daar word met goeie rede in reël 3 hierbo verwys na die feit dat meer as 80% van alle skietvoorvalle die gevolg is van ‘n snellervinger wat op die verkeerde oomblik op die sneller was en die sneller getrek is toe die skut nie gereed was daarvoor nie. Jy moet sorg dat jy ‘n opgevoede snellervinger het! Indien nie, gaan dit jou een of ander tyd duur te staan kom, met potensieel tragiese gevolge. Stel daardie probleem so gou moontlik reg!

Snellers “te lig gestel”!

Daar is ‘n tendens by jagters en veral kompetisieskuts, om die snellers van hulle gewere so te stel dat baie min drukking op die sneller benodig word om die slagpen te laat val op die slagdoppie en sodoende die skoot te vuur. Hierdie persone “speel met die leeu se stert” en gaan een of ander tyd ‘n onaangename verrassing kry van ‘n skoot wat afgaan wanneer dit nie verwag word nie. Weereens ‘n skietvoorval wat wag om te gebeur met potensieel tragiese gevolge!

Ek het al gesien hoe ‘n skoot by meer as een geleentheid op ‘n skietbaan afgaan (gelukkig met die loop elke keer in ‘n veilige rigting) en die skut wat met ‘n ongelowige/geskokte uitdrukking op sy gesig opkyk en sê: “maar my vinger was dan nie op die sneller nie”. By navraag het die antwoord van die skut dikwels bevestig dat die geweer se “sneller baie lig gestel is” – soms so lig soos 150 tot 200 gram! Gewere met snellers so lig gestel, gaan baie maklik af wanneer bv. die langmou van ‘n hemp of baadjie daarteen skuur en selfs wanneer die grendel toegemaak en gesluit word. ‘n Geweer wat so onstabiel is, is meganies onklaar en uiters gevaarlik! ‘n Skut wat weet van so ‘n probleem op sy geweer, is nalatig as hy die gebruik van so ‘n wapen nie dadelik staak en die geweer deur ‘n wapensmid laat nasien en regstel nie.

‘n Praktiese standaard behoort as ‘n minimum ongeveer 1 200 gram (dit is reg 1,2 kg!) op jaggewere se snellers te wees. Vir perspektief: op handwapens vir selfverdediging is ‘n redelike standaard tussen 1.8 en 2.7 kg om te verhoed dat daar nie skote afgaan omdat ‘n sneller te lig gestel is nie.

Veiligheidsknip (“safety catch”)

Die gebruik van die veiligheidsknip moet nooit ’n vals gevoel van gerustheid veroorsaak nie en die snellervinger moet bv. te alle tye weg van die sneller (langs die snellerbeuel) gehou word, tot jy gereed is om die skoot te vuur. Die praktyk om die sneller te trek terwyl die aksie toegemaak word op ’n patroon in die kamer, is uiters gevaarlik. Die slagpen rus nou teen die slagdop en indien die kolf van die geweer bv. hard op ’n klip neergesit word, kan die stamp die slagpen net hard genoeg teen die slagdop slaan om die skoot te laat afgaan. ’n Ander voorbeeld is waar die jagter agter op ’n jagbakkie sit of nog erger, staan met die kolf wat op die bak rus met die loop wat vertikaal in die lug op wys. Die stamp van die bak teen die kolf kan so ’n skoot laat afgaan, met tragiese gevolge.

Die loop en aksie moet skoon wees en die korrekte kaliber ammunisie moet gebruik word

Die loop en aksie moet altyd skoon wees en alle olie verwyder uit die loop voor ’n skoot afgevuur word. Wanneer ’n skoot deur ’n loop met te veel olie gevuur word, versamel die olie in die loop voor die koeël soos die koeël in die loop af beweeg. Die koeël beweeg baie vinniger as die olie, die olie veroorsaak ’n versperring voor die koeël en die gevolg is ’n beskadigde loop met ’n opswelling (“bulge”) in die loop. Hoeveel is te veel olie? Ek weet nie, maar ek vat geen kans nie en sorg dat ek die loop skoon-/droogmaak van enige olie met ’n droë lappie op die skoonmaakstok voor ek ’n skoot skiet! Dit geld ook vir water en enige ander vullis soos modder wat in ’n geweerloop kan beland tydens ‘n jag. Maak die loop behoorlik skoon na dit gebeur het, voor ’n skoot geskiet word.

Maak ook altyd seker dat jy die korrekte kaliber ammunisie vir jou geweer het voordat jy die kamp verlaat, veral as daar ’n paar jagters met verskillende kalibers in die kamp is. ‘n 308 Winchester rondte pas bv. in die kamer van ‘n 25-06 Remington (ook 270 Winchester) geweer. Wanneer die skoot gevuur word, word ‘n .308 kaliber koeël deur ‘n .257 of .277 kaliber loop geforseer met ’n dramatiese verhoging in kamerdruk. Die gevolg sal ’n beskadigde geweer wees en moontlik ’n beseerde skut en selfs omstanders. Die sterkste aksie kan nie die soort druk hanteer nie. Hierdie tipe voorval het al gebeur en dit sal weer gebeur en kan net verhoed word deur te alle tye “gesonde verstand” te gebruik en te verseker dat die korrekte ammunisie vir elke vuurwapen gebruik word. Vir daardie rede is patrone wat los rondlê nooit ’n goeie idee nie. Die praktyk van plastiek of papier ammunisie houers vir patrone waarop elke kaliber duidelik aangeteken is, bly ’n sinvolle oplossing.

Vuurwapens in die jagkamp

Gewere wat na ’n jagtog in die kamp of huis of enige ander plek gebring word moet veilig gemaak word. Dit is ’n goeie beleid om altyd die geweer en grendel apart te bêre, veral as daar kinders of onervare persone in die jagkamp is. Dit is ook noodsaaklik dat die ammunisie en vuurwapen geskei moet word. Baie jagplase het wapenkluise en dit bly die beste oplossing om ’n vuurwapen veilig weg te sluit wanneer dit nie deur die wapeneienaar gebruik word nie.

Identifiseer jou teiken voordat jy skiet

Idntifiseer jou teiken voordat jy skiet! Die volgende verhaal illustreer hoe maklik dit is om ’n fout te maak: ’n Klompie jare gelede neem ’n pa sy kinders en ’n paar maatjies na ’n gunstelling dassie kolonie om die kinders elk die geleentheid te gee om ’n dassie of twee te skiet vir die plaaswerkers. Gedurende die middag is die 22 Randslag geweer suksesvol onder toesig deur die kinders gebruik om ‘n paar dassies te skiet en die springbok jaggeweer vir daardie langer skote wat die dassies van tyd tot tyd gebied het. Die hele middag is veiligheid beklemtoon en elkeen het die paar uur in die natuur terdeë geniet. Toe die son begin sak stap die groepie terug na die plaashuis al langs ’n reeks klipkoppies. Die boer se tiener dogter sien drie honde ongeveer 120 meter weg teen die klipkoppie al snuffelend tussen die rotse. Elkeen wat iets weet van boerdery, weet dat honde wat los op ’n plaas met wild of vee (veral kleinvee) rondloop, baie gou ’n groot probleem word. Een of ander tyd gaan hulle diere begin doodmaak of vermink. Vir hierdie rede dring boere, wat wel hul werkers toelaat om honde aan te hou, daarop aan dat hulle te alle tye beheer word, met die belofte dat enige hond wat alleen in die veld gekry word, op sig geskiet sal word.

Die boer se kinders dring daarop aan dat hulle die honde herken, dat hulle weet wie die eienaars is en dat hy die honde moet skiet. Aangesien daar nie enige opvallende skade is nie, besluit die jagter om die honde bloot skrik te maak met ’n skoot ongeveer 3m bokant hulle teen ’n klip. Met die jaggeweer vir ’n groot “skrikmaak efffek”, word die skoot geskiet en die koeël klap hard teen die klip.......... Die volgende oomblik staan twee swart kinders op tussen die honde waar hulle skuldige gewete hul laat wegkruip het tussen die klippe, toe hulle die jagter en die groepie kinders sien aankom het! Skok en ongeloof is die jagter se eerste reaksie en toe hy agterkom dat die kinders ongedeerd is, besef hy hoe gelukkig hulle was. Die swart kinders word huistoe gestuur met ’n waarskuwing en toe die jagter by die plaashuis kom, vertel hy vir die boer wat gebeur het. Daar is ’n Afrikaanse gesegde wat sê: “moenie mak word vir ‘n vuurwapen nie” Hoe meer vuurwapens hanteer word, hoe groter raak die gevaar van oor-gerustheid of te veel selfvertroue – moet nooit gerus raak nie en gebruik altyd “gesonde verstand”.

Die volgende doen jy nie met ‘n gelaaide geweer nie!

Moet nooit met ‘n gelaaide geweer op of af van ’n voertuig klim nie, kruis kontroleer met jou jagmaats dat al die gewere agter op die bak en in die kajuit van die voertuig veilig is.

Moet nooit deur ‘n heining of in ’n boom met ’n gelaaide geweer klim nie. Die skut moet te alle tye beheer behou oor sy geweer en wanneer sy hande besig raak met ander funksies soos om in ’n boom te klim of deur of bo-oor ‘n heining, is jy nie meer in staat om dit te doen nie en is ’n gelaaide geweer op daardie stadium ’n resep vir ’n ongeluk. Moet ook nooit ’n geweer aan sy loop na jou toe nadertrek of optel nie want jy oortree reël 2 – moet nooit ’n vuurwapen rig op enige voorwerp wat jy nie bedoel om op te skiet nie – in dié geval is jy besig om ’n vuurwapen op jouself te rig!

Moet nie na ‘n harde oppervlak of water skiet nie!

Moet nooit na ’n harde oppervlak of na water skiet nie. Die koeël kan wegskram en iemand tref. Maak altyd seker dat daar ’n geskikte sandbank is om die koeëls te absorbeer/vang wanneer daar teiken geskiet word. Dit geld ook in die jagveld waar ’n skoot soms in die hitte van die oomblik geskiet word, voor daar gedink word oor wat agter die teiken is. Hierdie is veral ’n probleem op kleiner jagplase waar mense en geboue dikwels baie naby aan die jagter is. ’n Jaggeweerkoeël is potensieel gevaarlik tot op 5 km afhangende van die kaliber en selfs die ligte 22 Randslagkoeël is gevaarlik tot op 1.5 km! Dit behoort enige vuurwapeneienaar te laat besef hoe potensieel gevaarlik ’n “dwaalkoeël” is.

Gebruik van alkohol of narkotiese middels en die hantering van vuurwapens is verbode en mag nie geduld word nie!

Dit is ‘n misdryf om vuurwapens (windgewere ingesluit) te hanteer terwyl die persoon onder die invloed van ‘n stof is wat ‘n bedwelmende of narkotiese uitwerking op die persoon het. Sien die Wet op Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) – artikel 120 (4) – “Misdrywe”.

Hierdie is een van die redes waarom die reëls op die skietbane onder beheer van takke van SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging baie spesifiek is oor die gebruik van alkohol of narkotiese middels: Geen persoon (skut of toeskouer) onder die invloed van alkohol of ‘n narkotiese middel, mag ‘n skietbaanterrein (by formele of informele geleenthede) betreë nie en geen persoon (skut of toeskouer) mag alkohol tydens ‘n skietoefening (by formele of informele geleenthede) op die skietbaan gebruik nie.

Enige persoon wat bogenoemde reëls van die SAJWV i.v.m. alkoholgebruik oortree, moet identifiseer word en deur die baanoffisier gelas word om onverwyld die skietbaanterrein te verlaat. Die baanoffisier moet die voorval skriftelik by die takvoorsitter aanmeld wat die oortreding by die Hoof Uitvoerende Beampte van die SAJWV aanmeld vir stappe deur die Dissiplinêre Komitee. Die rede vir die streng reëls i.v.m. die gebruik van alkohol en/of narkotiese middels behoort voor die hand liggend te wees – ongelukkig is daar die enkelinge wat van tyd tot tyd die punt probeer debatteer en dan is hulle dikwels reeds onder die invloed! Net soos met die bestuur van ‘n voertuig, hou ‘n persoon onder die invloed van alkohol en/of narkotiese middels, ‘n onaanvaarbare risiko in vir hom/haarself en veral vir ander persone! Daarom is daar Wetgewing wat altwee aktiwiteite (die bestuur van ‘n voertuig en die hantering van ‘n vuurwapen) onder die invloed van alkohol en/of narkotiese middels verbied, met drastiese gevolge vir die persoon wat die Wetgewing oortree!

Wat vuurwapeneienaars betref, mag die hantering van vuurwapens saam met die gebruik van of onder die invloed van alkohol en/of narkotiese middels, onder geen omstandighede toegelaat word nie en moet daar daadwerklik opgetree word teen individue wat hulself daaraan skuldig maak.

Kies jou jagmaats met groot sorg!

Op die skietbaan is daar baanoffisiere wat verseker dat elkeen by die reëls hou, maar nie in die jagveld nie! Kies jou jagmaats met groot sorg, dit is waarskynlik een van die belangrikste items vir jou jagbeplanning! Onveilige vuurwapenhantering moet nie geduld word nie en die persoon wat hom/haarself daaraan skuldig maak, moet dadelik en in baie duidelike taal reggehelp word. ‘n Jagmaat wat argumenteer hieroor en nie verantwoordelikheid erken vir sy optrede en regstellend wil optree nie, is ‘n skietvoorval wat wag om te gebeur en jy kan dalk die slagoffer wees! Ek sê weer: “Kies jou jagmaats met groot sorg!”

Verwerf ander mense se respek en waardering deur te alle tye onberispelik op te tree wanneer jy ’n vuurwapen hanteer. Dit is altyd ’n plesier om ‘n persoon dop te hou wat ’n vuurwapen konsekwent veilig hanteer. Ek vertrou jy is een van daardie vuurwapeneienaars wat graag deur ander skuts en jagters saamgenooi word na die skietbaan en jagveld, aangesien hulle weet dat jy te alle tye ’n veilige vuurwapenhanteerder is!

Jou keuse as verantwoordelike vuurwapeneienaar

As verantwoordelike vuurwapeneienaar gaan jy met persone te doen kry wat hulle skuldig maak aan een of ander vorm van onveilige wapenhantering en jy kan kies om niks te doen nie of om op te tree! Indien jy kies om niks te doen nie wanneer jy onveilige optrede sien, versuim jy jou plig en indien iemand beseer of gedood word a.g.v. die onveilige vuurwapenhantering van so ’n persoon, gaan jy jouself kwalik neem of jy kan selfs die slagoffer wees van die skietvoorval!

Slegs met ‘n benadering van “geen toegewings nie” en daadwerklike optrede teen oortreders, gaan jy weet dat jy veilig is saam met jou skiet- of jagmaats. ’n Persoon wat volhou met “onveilige” gedrag en weier om dit reg te stel, moet deur medeskuts daarop gewys word dat hy/sy nie welkom saam met hulle is op die skietbaan of in die jagveld nie! Hierdie is ‘n verantwoordelikheid wat dikwels nagelaat word aangesien “jy bang is dat die ander persoon sal aanstoot neem”. Die persoon kan aanstoot neem net soveel hy/sy wil – tree regstellend op of dra die gevolge!

Wanneer iemand raakgeskiet is, is dit te laat vir trane en verskonings!

Vuurwapenveiligheid is elkeen se besigheid!

  • Last modified on Wednesday, 27 May 2015 17:58
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za