Praktiese skietvaardighede vir akkurate skootplasing in die jagveld

Die mens as jagter mag die vergunning gebruik wat jaggeleenthede hom bied om ’n dier dood te maak! WOW!!, besef ons altyd hoe ’n groot voorreg en gepaardgaande verantwoordelikheid dit is? Die oomblik wat die jagter aanlê vir daardie belangrike “eerste skoot” op ‘n dier, rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op sy skouers om ’n vinnige dood vir sy prooi te verseker, met die eerste skoot! Die jagter wat die verantwoordelikheid nie met die nodige erns benader nie, behoort mooi te besin oor sy rol as “moderne jagter” na hy die volgende uittreksel uit die erekode van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging gelees het:

 

  • “met deernis te jag en net uit die natuur te neem wat ek kan benut;
  • my vuurwapens met kundigheid en oordeel te benut en met eerbied vir die lewe aan te wend;”

Die presiese plasing van die skoot word deur twee belangrike faktore bepaal:

  • eerstens die teoretiese kennis van die jagter oor die anatomie van die dier om te weet waar die lewensbelangrike organe geleë is en waar om die koeël te laat tref om dié organe te bereik en genoegsaam te beskadig om die dier so vinnig moontlik te dood;
  • tweedens die jagter se praktiese skietvaardigheid om die skoot onder veldtoestande akkuraat te skiet.

Groot hoeveelhede wild word jaarliks gekwes a.g.v. verbroude skote, wat voorkom kon word! Praktiese skietvaardighede of dán die gebrek daaraan is dikwels die oorsaak van ’n gewonde dier en die onnodige lyding daarvan.

Sommige jagters dink dat die skiet van ’n paar skote op die skietbaan na ’n papierteiken vanuit ‘n gemaklike posisie skietposisie oor ’n skietbank, voldoende voorbereiding vir ’n jagtog is. ’n Paar goeie groeperings op die teiken beteken bloot maar net dat die kombinasie van geweer/teleskoop/ammunisie kombinasie akkuraat is. Dit weerspieël nie die jagter se praktiese skietvaardigheid in die jagveld nie! Die ware toets hiervoor is om onder veldtoestande ’n eenskoot-doodskoot na ’n wildsbok te skiet.

Kom ons illustreer dit met die volgende voorbeeld: ’n Jagter berei homself voor om ‘n koedoe in die bosveld te gaan skiet. Vorige jagervaring het hom geleer dat die hart/longe die grootste vitale area bied en hy maak seker dat hy weet waar om te mik, op dié wildsbok, uit enige moontlike hoek, om dié organe te tref. Hy skiet ’n paar keer op die skietbaan om te verseker dat sy ammunisie (met koeëls geskik vir die jag van so ’n groot wildsbok) akkuraat is in sy geweer. Net voor die jag op die plaas skiet hy weer ’n paar skote na ’n teiken om te bevestig dat sy “geweer nie uit is” na die reis oor die grondpaaie na die jagveld toe nie.

Uiteindelik breek die oomblik aan en die koedoebul waaroor hy so lank gedroom het is in sy teleskoop. ’n Akute aanval van “bokkoors” pak hom beet en alhoewel die koedoe op relatief kort afstand staan, kan hy om die dood nie die geweer stil genoeg hou om met vertroue ‘n akkurate skoot te skiet nie. Die koedoe is nog onbewus van die jagter, maar die wind is onvoorspelbaar en die jagter weet sy geluk kan enige oomblik draai. Hy beweeg vinnig na die naaste boom en kies die eerste beste tak, en rus die geweer se loop op die tak. Die koedoe is besig om onrustig te raak, die bokkoors pla nog en hy staan half gebukkend, maar hy voel nou bietjie meer stabiel, en hy besluit om vinnig te skiet. Toe die skoot klap, slaan die koedoe in sy spore neer. Die jagter is verstom – dit is nie die verwagte reaksie van ’n dier wat in die hart/long area geskiet word nie! Hy stap nader en tot sy onsteltenis sien hy op ’n paar treë hoe die koedoe sy kop begin optel, hy is nie gereed nie en voor hy ’n opvolgskoot kan skiet kom die bok vinnig regop en binne oomblikke verdwyn hy tussen die bome!

Wat het hier gebeur? Hierdie jagter was “goed voorberei”, sy toerusting was reg, hy het selfs ’n rus gebruik om ’n méér stabiele skietposisie te kry maar hy het steeds die koedoe gekwes. ’n Moontlike verklaring is ’n kombinasie van die geweerloop wat op die tak gerus het (’n baie algemene, maar fatale fout), sy skietposisie wat nie gemaklik was nie en die gevolg was ’n skoot wat te hoog getref het, moontlik die koedoe se rugwerwelkolom geraak het, sonder om die rugmurg te breek en dit tydelik verlam. Dit is ’n verskynsel wat gereeld voorkom met nekskote op die groter wildsbokke en ’n bok waar die nekwerwelkolom rakelings getref is, word dikwels nie opgespoor nie, ondanks lang spoorsny en opvolgaksies. Bogenoemde voorbeeld is tipies van ‘n verbroude skoot wat toegeskryf kan word aan ’n gebrek aan praktiese skietvaardighede.

’n Verantwoordelike jagter moet sy beperkinge ken in terme van sy skietvaardighede in die jagveld en hierdie kennis word net opgedoen deur gereeld te oefen en verantwoordelike optrede (toepassing van gesonde oordeel) in die jagveld. Die skietaktiwiteite van die Vereniging op takvlak bied ruim geleentheid vir elke lid om gereëld op ’n skietbaan aan sy vaardighede te werk. Die SAJWV ’n verskeidenheid van jaggebaseerde skietoefeninge vir gebruik op skietbane ontwikkel. Elkeen van hierdie oefeninge is ontwerp om jagtoestande in verskillende omstandighede en uit verskillende skietposisies na te boots. Die klem op die verskillende posisies is belangrik om die jagter te leer om ’n stabiele en gemaklike skietposisie vinnig én instinktief in te neem, vir daardie belangrike “eerste skoot” op ’n prooidier.

Hoekom die beklemtoning van die “eerste skoot”? Met die eerste skoot is die jagter in beheer van die situasie en kan hy tot ’n groot mate die omstandighede bepaal voor hy besluit om die sneller trek. Hy kan wag tot die dier stilstaan, besluit waar sy mikpunt is, ’n gunstige skietposisie inneem en ’n goed geplaaste skoot skiet.

Indien die eerste skoot verbrou word, het die jagter beheer verloor oor die situasie en gaan die omstandighede waaronder ’n opvolgskoot/skote op ’n gewonde dier geskiet word, gewoonlik baie moeiliker wees. Die dier weet nou van jou, is skrikkerig en jy gaan waarskynlik baie vinnig moet skiet uit ’n skietposisie wat nie noodwendig stabiel is nie en dikwels op ’n bok wat beweeg. Die bokkoors is nou ook vervang met pure senuwees, want jy sien hoe jy betaal vir ’n bok wat gaan wegkom. Allermins bevorderlike omstandighede vir akkurate skootplasing!

My persoonlike ondervinding gedurende die jag van vlakte- en bergwild het vir my die noodsaaklikheid van praktiese skietvaardighede bevestig. Ek hou daarvan om so dikwels moontlik te voet te jag, waar die terrein dit toelaat en wanneer die jag begin, is my geweer in my regterhand en my skietstokke in my linkerhand – altyd, geen uitsondering! Jag van vlakte- en bergwild behels gewoonlik verder skote as bv. in boswêreld en behoorlike ondersteuning vir jou geweer is van kardinale belang vir akkurate, herhaalbare skootplasing. Byna alle wildsbokke deur my geskiet onder die omstandighede was vanuit ’n lê- of sithouding met behulp van die skietstokke as rus. Volgehoue oefening en gebruik van die skietposisies op die skietbaan en in die jagveld, het my skietvaardighede ontwikkel tot die punt, waar die besluit om ’n skoot op ‘n wildsbok te skiet – of nie – baie makliker is. Jy ontwikkel ’n gevoel vir jou eie beperkinge, na my mening, een van die belangrikste vaardighede van ’n verantwoordelike jagter. Hierdie is ’n vaardigheid wat jy as jagter lewenslank aan moet werk. Moet nooit in die versoeking kom om dit af te skeep nie!

Ek jag met ’n enkele 1,8 meter lank ligte skietstok vir boswêreld toestande en gebruik dit in die sittende, knielende of staande posisies wanneer ’n skoot op ’n dier geskiet is. As ek terugdink oor elkeen van daardie skote met die lang skietstok, besef ek dat ek byna 50% van daardie skote nie sou geskiet het as ek nie die skietstok byderhand gehad het en so vertroud was daarmee nie en die oorblywende 50% sou ek nie met dieselfde mate van vertroue geskiet het nie. Neem kennis dat die meerderheid van die skote op afstande van minder as 70 meter geskiet is! Daar kan geredeneer word dat in boswêreld jy byna altyd ’n boomstam of –tak kan vind om te gebruik vir ’n rus. Vir my is die voordeel van ’n skietstok, dat jy daarmee kan oefen tot jy dit instinktief kan gebruik – onthou die opmerking vroeër i.v.m. die instinktiewe inneem van ’n stabiele en gemaklike skietposisie.

Wanneer daar gejag word is dit dikwels nodig om vinnig te skiet, gewoonlik op kort afstand, van die vryhand staanposisie sonder ’n skietstok of ander hulpmiddel. Dit is ’n baie moeilike en riskante skoot om te skiet en verg baie oefening. Op die skietbaan het ek al dikwels gesien hoe baie ervare skuts nie daarin slaag om ’n akkurate skoot uit die posisie te skiet nie. Die moontlikheid van ’n gekweste dier uit die posisie is te hoog, gebruik verkieslik ’n skietstok of ander hulpmiddel indien moontlik. Indien die dier wegkom in die sekonde of twee, drie wat dit my neem om in posisie te kom met die skietstok, dan gaan ek eenvoudig aan met die jag en wag op ’n beter, sekerder kans!

Die enkel skietstok kan verder geneem word na ’n twee- of driepoot. Ek verkies die enkelstok omdat dit lig en eenvoudig is, en baie vinniger in posisie geplaas kan word as die ander twee. Die ekstra pote is net nog ’n potensiele bron van geraas (die pote kan teen mekaar kap) wanneer daar vinnig reggemaak word vir die skoot. Die afstande ter sprake is so kort dat met die nodige oefening daar vir my bitter min verskil is in die praktiese akkuraatheid waarmee ’n skoot geskiet kan word.

Wanneer ladingontwikkeling gedoen word deur ’n persoon wat sy eie ammunisie herlaai of ’n geweer ingestel word, is dit nét logies om vanaf ’n skietbank te skiet, jy is besig om toerusting en/of ammunisie wetenskaplik te toets, daarom moet jy die menslike faktor so ver moontlik uitskakel. Met jou voorbereiding vir die jag daarenteen moet jy werk aan die menslike faktor (jy as skut!) deur te oefen om jou eie praktiese skietvaardighede vir die jag te verbeter, doen dit so dikwels moontlik en doen dit uit posisies wat jy in die veld sal gebruik. Selfs die gebruik van ’n lug- of ‘n randslaggeweer uit die posisies is baie goeie oefening. Die skietposisies en die skietstokke wat in die skietoefeninge van die SAJWV gebruik word is prakties genoeg vir die jagveld, mits jy dit nie self te veel kompliseer nie. Van die hulpmiddels en tegnieke wat skuts van tyd tot tyd gebruik in dié skietoefeninge op die skietbaan, is nie altyd geskik vir die jagveld nie. Hou die skietposisies so eenvoudig moontlik, gebruik dit oor en oor op die skietbaan tot dit tweede natuur is en kyk na jou resultate wanneer jy dit in die jagveld gebruik. Inligting i.v.m. die skietoefeninge van die SAJWV is beskikbaar by die takke van die Vereniging en by die nasionale kantoor.

Ek neem graag regdeur die jaar deel aan skiekompetisies op die skietbaan, maar ek bly eerstens ’n jagter! Elke tegniek in terme van praktiese skietvaardigheid wat ek onder kompetisietoestande gebruik, is om myself voor te berei om dieselfde tegnieke onveranderd te gebruik wanneer ek jag! My deelname aan die skietkompetisies het een doel voor oë – om van my ’n beter jagskut te maak. Met dié benadering, wat vir my werk, glo ek dat dit verkeerd is om een tegniek, wat ookal, vir skietkompetisies te gebruik en ’n ander tegniek wanneer ek jag. Deur dieselfde tegnieke onder alle omstandighede te gebruik, word hierdie tegnieke met verloop van tyd, soos “om asem te haal”, jy hoef nie daaroor te dink nie en jy pas dit outomaties toe.

Verbeter jou praktiese skietvermoë deur:

  • Die korrekte toepassing van die basiese skiettegnieke soos asemhaling, stilhou van die geweer, konsentrasie, sneller en deurvolg van die skoot;
  • Kom so na as moontlik aan die grond vir maksimum stabiliteit (visualiseer jouself as die skietplatvorm) – lê op die grond, is beter as sit, sit is beter as kniel en kniel is beter as staan in terme van stabilteit;
  • Gebruik ’n skietstok of ander vorm van skiethulpmiddel vir elkeen van die skietposisies om jou stabiliteit en dus jou vermoë om akkuraat te skiet, te verbeter;
  • Oefen die skietposisies by elke moontlike geleentheid tot dit tweede natuur is en jy dit instinktief kan doen (’n analogie is die bestuur van ’n motor – wanneer het jy laas doelbewus gedink wanneer jy van ratte verwissel?)

Die sitposisie met ‘n stel kort skietstokke  waarmee baie akkuraat tot op ten minste 200 meter geskiet kan word – let op die posisie van albei arms se elmboë, bo-op die knieë,  vir nog beter stabiliteit!

Die lêposisie met dieselfde stel kort skietstokke waarmee baie akkuraat tot op 300 meter en verder geskiet kan word;

 

 Die knielposisie met die enkelskietstok vir gebruik op kort afstand in die bos.

 Die staanposisie met die enkelskietstok vir gebruik op kort afstand in die bos – let op die gebruik van die geweerband vir nog beter stabiliteit!

  • Last modified on Tuesday, 28 April 2015 11:57
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za