Is duur toerusting jou enigste waarborg vir sukses tydens skietkompetisies?

SA Jagters se skietaktiwiteite bied aan lede die geleentheid om op tak-, streek-, nasionale en uiteindelik ook op internasionale vlak te kan deelneem. Op takvlak is deelname vir almal bedoel (veral as gesinsaktiwiteit) hetsy informeel of op kompeterende vlak. Pret bly 'n belangrike komponent van hierdie aktiwiteite. Verder bestaan die skietoefeninge uit jaggebaseerde skietoefeninge op dierteikens; sportskietoefeninge met 'n verskeidenheid van wapentipes en teikens; en 'n verskeidenheid pretskietoefeninge wat SA Jagters takke self ontwikkel.


President- en Intertak spanskietkompetisies
Tydens skietkompetisies op streekvlak kompeteer skuts hewig teen mekaar en dit is dan ook hier waar 'n mens dikwels die klagte hoor dat dit 'n “equipment race” geword het wat toerusting betref. Daar is al meer as een keer die stelling gemaak dat, indien jy nie 'n geweer-teleskoopkombinasie van R100 000 besit nie, jy nie kan meeding teen die top skuts in bv. die Presidentskietkompetisie vir individue of die Intertak Spanskietkompetisie nie.

Ek deel graag my perspektief en dan kan lesers self besluit of sukses op die skietbaan werklik te make het met die nuutste en beste - oftewel duurste - toerusting op die mark wat geweer en teleskoop betref. Beide die President- en Intertak Span-skietkompetisies bestaan uit twee skietoefeninge naamlik die Bosveld – en die Vlakte skietoefening. Die Bosveld-skietoefening (met drie snapskote bygevoeg op 50m) word drie skote op 150m uit die knielposisie met skietstokke geskiet; drie skote op 100m uit die staanposisie met skietstokke; drie skote op 50m uit die vryhand-staanposisie; en drie snapskote uit die vryhand-staanposisie vir 'n totaal van 12 skote op die blouwildebees of sebra teiken.
Die Vlakte-skietoefening (met drie skote op 100m bygevoeg) bestaan uit drie skote op 300m uit die lêposisie met skietstokke; drie skote op 200m uit die lêposisie met skietstokke; drie skote op 200m uit die sitposisie met skietstokke; en drie skote op 100m uit die vryhand-sitposisie vir 'n totaal van 12 skote op die springbokteiken.

Uit 'n totaal van 24 skote vir die hele skietkompetisies word slegs drie skote op 300m op die springbokteiken en die res van die skote is almal tussen 50m en 200m. Wat toerusting betref, die volgende voorbeeld: 'n Howa-geweer in die kaliber van jou keuse is van die rak af beskikbaar met 'n swaar loop teen ‘n maksimum van R12 000 terwyl goeie teleskope met 'n maksimum vergroting van 14x tot 20x beskikbaar is vir tussen R6 000 en R10 000. Om te kompeteer moet 'n skut dus bereid wees om R20 000 tot R25 000 (2019 pryse) te bestee op die geweer/teleskoopkombinasie en sy of haar eie ammunisie herlaai vir akkuraatheid en ekonomie om genoeg te kan oefen.


Akkuraatheid benodig vaardigheid

Hoe akkuraat moet die kombinasie van geweer, teleskoop en ammunisie wees vir dié doel van die kompetisie'n 'n Kombinasie wat drieskoot-groeperings van bv. 25mm op 100m, 50mm op 200m en 75mm op 300m kan behaal, is 'n goeie begin, maar 'n meer akkurate kombinasie wat drieskoot-groeperings van bv. 15mm op 100m, 30mm op 200m en 45mm op 300m kan lewer, sal die skut kompeterend maak met die topskuts. Die herlaai van eie ammunisie is gewoonlik die enigste manier om by daardie standaard van akkuraatheid uit te kom. Hierdie kombinasie van geweer, ammunisie en teleskoop is al toerusting wat jy benodig. Daar is talle skuts met soortgelyke geweer/teleskoopkombinasies wat gereeld, jaar na jaar kwalifiseer onder die Top 100 vir uitnodiging na die nasionale Presidentskietkompetisie en wat dan daar baie goed vaar.

Die skut se vaardigheid word soms geïgnoreer wanneer stellings gemaak word oor die sogenaamde “equipment race”. Wat bedoel ek daarmee?

Eerstens: Op die verste afstand van 300m word net drie van die 24 skote op die springbokteiken geskiet en dit is by hierdie item waar mense sou kon aanvoer dat duur teleskope moontlik 'n verskil kan maak tussen 'n V-kol-30-telling of net 'n telling van 30 of 20 per skoot. Skote wat slegs 10 of -10, het niks met toerusting te make nie, maar alles met die skut se vaardigheid soos bv. die lees van toestande soos wind of lugspieëling (mirage), verkeerde hoogteverstellings op die teleskoop of ‘n swak skoot deur die skut.

Tweedens: Wat in die praktyk 'n baie groter impak het op goeie of swak tellings, is die nege skote wat uit die vryhand-skietposisies geneem word: drie skote op 100m vanuit die vryhand-sitposisie op die springbok en twee oefeninge van drie skote elk op 50m op die blouwildebeesteiken vanuit die vryhand-staanposisie.

Woon hierdie skietkompetisies by en kyk wat gebeur met die skuts wat gereeld goeie tellings skiet en hoog geplaas is op die ranglyste op streek- en nasionale vlak. Diegene wat die laaste nege skote (hierbo genoem) suksesvol skiet, is diegene wat gewoonlik baie goed vaar. Dieselfde skuts sal vir jou noem dat 'n swak skoot of twee van hierdie laaste nege skote 'n potensieel baie goeie telling kan verander in 'n gemiddelde of selfs swak telling. Hierdie nege skote op kortafstand het niks te make met duur toerusting nie, maar alles met basiese skietvaardighede.


Xander Bailey (12 jaar oud) het tydens die 2018 nasionale President skietkompetisie gekwalifiseer vir sy Platinum toekenning – hier is Xander in aksie tydens die Bosveld skietoefening – 50m vryhand-staanposisie


Skietvaardigheid vra oefening

Basiese skietvaardighede word ontwikkel deur oefening en die ontwikkeling/ bevestiging van basiese skiettegnieke. Senterslag-ammunisie bly relatief duur, selfs al herlaai jy. Gereelde oefening is dus duur! Sinvolle oefening van sekere skietvaardighede kan met ‘n luggeweer of randslaggeweer baie goedkoper gedoen word en dit geld veral vir die nege skote wat uit die vryhand-skietposisies geskiet word.

Sommige mense is krities oor die insluiting van die vryhand-skietposisies en een punt van kritiek is dat dit jaggebaseerde skietoefeninge is, en dat die vryhand-skietposisies nie in die jagveld 'n verantwoordelike skoot op wild is of behoort te wees nie. Daarom, voel hulle, hoort dit nie deel te vorm van die skietkompetisies nie.

Die perspektief daarop is die volgende:

  1. Die oogmerk van die Vlakte- en Bosveld-skietoefeninge is eerstens om skuts te leer en aan te moedig om ondersteuning (bv. skietstokke) te gebruik wanneer gejag word ten einde tydens jagtogte 'n verantwoordelike skoot op wild te kan skiet.
  2. 'n Skoot uit die vryhand-posisie is deel van elke skut se totale skietvaardig-heid. Die besluit en uitvoering van 'n vryhandskoot tydens jag gebeur gewoonlik relatief onbepland en vinnig. Die vermoë om só 'n skoot suksesvol te skiet, verhoog die jagter se veelsydigheid. Die skut gaan voorbereid jagveld toe, gereed om ook skote uit die vuis te skiet, sou so ‘n situasie opduik.
  3. Die vryhand-skietposisies is die fondament vir alle ander skietposisies en indien dit nie behoorlik ontwikkel word nie, skep dit 'n leemte in die skut se ontwikkeling. ‘n Voorbeeld is wanneer 'n afwyking plaasvind van die natuurlike rigting wat jy oor skietstokke inneem. Dit gaan dalk nie ‘n té groot invloed op jou skootplasing hê nie, maar so ‘n fout gaan jou duur te staan kom uit 'n vryhand-skietposisie.


Die toerusting wat ek beskryf het (met ‘n waarde van R20 000 tot R25 000) maak slegs een deel van 'n skut se sukses uit. Die tweede deel is die skut se vaardigheid en daar is gereeld voorbeelde hiervan te sien tydens skietkompetisies.


Benodig jy dus werklik 'n geweer/teleskoop kombinasie van R100 000 om te kompeteer? Besluit self!


Vir meer inligting oor die Bosveld – en Vlakteskiet-oefeninge besoek gerus SA Jagters streekskietprogram 2019 – President- en Intertak Spanskietkompetisies hier.

Vir meer inligting oor skiettegnieke gaan na www.sahunters.co.za – Skietsake – Handleiding vir Skietvaardigheidsontwikkeling vir Jagters