Spesiale Nuusbrief 18 Junie 2018

GRONDWETHOF UITSPRAAK EN IMPLIKASIES DAARVAN

Geagte kollega

Dit is nou reeds meer as `n week bekend dat die Grondwethof se uitspraak teen ons gedraai het en dat ons die saak verloor het. In die laaste week is ek oorval met oproepe en e-posboodskappe met voorstelle en vrae oor wat ons alles kan doen.

Hierdie onsekerheid word verder aangewakker deur sommige ander verenigings wat uitgesproke beweer dat vir `n wapen waarvan die wit lisensie verval het die ou groen lisensie nog geldig is. Hierdie uitspraak word gemaak op grond van `n regsopinie wat hulle ontvang het. SA Jagters is geruime tyd reeds op rekord dat ons regspan nie met hierdie opinie saamstem nie. Dan is daar ander verenigings wat uitsprake maak oor amnestie en ook ander alternatiewe prosesse wat oorweeg word.

In dieselfde tyd is die Polisie doodstil en behalwe vir Brig. Vish Naidoo wat sekere stellings gemaak het, is daar totale onsekerheid oor wat die Polisie doen en wat hulle instruksies is en wat hulle verwag.

Oor die naweek is `n stel riglyne, klaarblyklik uit Limpopo, beskikbaar gestel oor die Polisie se plan om die inhandiging van wapens te bestuur. Behalwe dat hierdie dokument in die naam van Genl. Masemola nie geteken is nie, is dit vol spelfoute en vreemde leestekens. Ek bevraagteken die geldigheid daarva, en sou dit wel geldig wees, gee dit steeds geen riglyne aan lede van die publiek oor wat hulle te doen staan nie.

Die koerante en berigte oor wat gaan gebeur en waaraan mens skuldig mag wees maak dit ook nie makliker om te verstaan wat gedoen moet word en wat die risiko`s is nie. Baie mense neem wapens na polisiestasies. Tot Vrydag verlede week is mense deur die Polisie weggewys omdat hulle ook nie weet wat hulle nou te doen staan nie.

Tussen al die lawaai is daar onsekerheid en `n mate van paniek onder vuurwapeneienaars en SA Jagters se lede. SA Jagters wil nou standpunt inneem om rustigheid en sekerheid te gee. Sit terug, raak rustig en lees die res van hierdie skrywe aandagtig deur asseblief.

Hieronder volg aanbevelings aan alle persone wat in besit is van `n vuurwapen waarvan die wit kaartjielisensie verval het. Ek spreek ook algemene stellings aan wat die ronde doen en gee advies oor mense nou te doen staan.

Stelling 1

Moet vir die oomblik niks doen nie. Sluit die wapen waarvan die wit kaartjielisensie verval het veilig in die kluis toe, moenie dit gebruik nie, moenie daarmee reis nie, hou dit veilig toegesluit in die voorgeskrewe kluis. Wag totdat daar meer sekerheid is en totdat ons u inlig wat die gepaste optrede sal wees.

Waarom hierdie aanbeveling? Die polisie weet self nie wat om nou te doen nie en het ook nog nie duidelike beslissings en riglyne gekry van hulle hoofkantoor nie. Daarom word sommige mense weggewys wanneer hulle wapens wil inhandig terwyl sommige stasie wel wapens inneem.

Onthou, daar is bykans 470 000 wapens waarvan die lisensies verval het. Die polisie het nie die kapasiteit, mannekrag en veilige stoorplek om nou hierdie magdom wapens in te neem, ballisties te toets en veilig te bewaar nie.

Wanneer daar meer sekerheid is oor enige ander optrede sal SA Jagters lede laat weet wat om te doen. Lees daarom asseblief gereeld ons nuusbriewe oor hierdie onderwerp.

Stelling 2

Wanneer u `n ou groen lisensie vir `n wapen gehad het en dit na `n heraansoek vervang is deur `n wit kaartjielisensie dan is die ou groen lisensie nie meer geldig soos sommige mense beweer nie. Totdat die teendeel sonder enige twyfel bewys word (waarskynlik by wyse van `n aansoek in die hooggeregshof) hou SA Jagters by hierdie standpunt. Intussen ignoreer enige ander advies hieroor.

Stelling 3

Indien u in besit is van `n wapen wat nog `n ou lisensie het en nooit `n wit lisensie gehad het nie (groen kaartjie, groen plakker in groen ID boek, groen plakker in ou blou ID boek of selfs ou lisensie met die hand uitgeskryf en in ou blou ID boek ingeplak) dan is daardie lisensie steeds geldig en is u wettig in besit van daardie wapen. Hieroor hoef u nie te twyfel nie.

Stelling 4

Die kans is skraal dat enige individu in besit van `n wapen waarvan die wit lisensie verval het nou skielik vervolg en toegesluit gaan word. Die Polisie het steeds self nie klarigheid oor wat om te doen nie en totdat hulle duidelike instruksies gekry het moet ons nie verwag dat hulle sal optree nie.

Ons vertrou dat sodra die Polisie duidelike instruksies kry oor die hantering van die aangeleehteid, hulle die publiek korrek en behoorlik sal lig oor wat om te doen.

Daar is ongeveer 470 000 wapens waarvan die lisensies reeds verval het. Die meeste hiervan is wapens vir selfverdediging (en waarskynlik handwapens). Dit is onmoontlik vir die polisie om soveel mense te vervolg. Hulle het nie die kapasiteit om dit te doen nie.

Stelling 5

Daar is persone wat openlik en veral op sosiale media burgerlike ongehoorsaamheid aanmoedig deur mense op te sweep om onwettig op te tree deur byvoorbeeld nie wapens in te handig indien dit vereis sou word nie. Moenie deur hierdie aanhitsing meegesleur word nie. U neem `n risiko om uiteindelik wel vervolg te word. Burgerlike ongehoorsaamheid gaan ons nie help om van hierdie moeilikheid ontslae te raak nie.

Stelling 6

Moenie nou `n wapen waarvan die lisensie verval het by `n handelaar probeer inhandig nie. Die handelaar mag nie die wapen wettig in besit neem nie omdat dit nie wettig gelisensieer is nie.

U kan egter wel `n wapen waarvan die lisensie nog nie verval het nie by `n handelaar inhandig.

Stelling 7

Moet asseblief nie `n wapen beskadig, opsny, die loop buig, die slagpen uithaal of enigiets doen wat die wapen onwerkbaar sal maak voordat u die wapen inhandig nie. Daar is heelwat mense wat oorweeg om wapens te beskadig sodat dit nie werkbaar is nie voordat hulle dit inhandig. Dis onwettig om aan `n wapen te peuter.

Volgens die SAPD, sal alle wapens wat ingehandig word ballisties getoets word om te bepaal of dit met misdaad verbind kan word. Indien u die wapen sou beskadig kan u vervolg word. Artikel 59 van die Wet bepaal dat slegs `n geregistreerde wapensmid aan `n wapen mag werk. Regulasie 105 (13) bepaal dat geen persoon `n wapen mag deaktiveer sonder vooraf magtiging van die Registrateur nie.

Stelling 8

Onthou dat die onus op die Polisie rus om die publiek behoorlik in te lig oor die wet en enige gepaardgaande aksies wat geneem moet word. Totdat dit nie gedoen is nie kan die Polisie nie regmatig optree teen lede van die publiek nie. Art 124 van die Wet vereis byvoorbeeld die volgende:

“The Registrar must –

(g) conduct public education programmes concerning provisions of this Act and all other matters relating to the safe possession and use of firearms.

Stelling 9

Indien die polisie enigsins teen u optree of u wil dwing om enigiets te doen of indien u vervolg word, stel my onmiddellik in kennis by SA Jagters se nasionale kantoor by (012) 808 9300. Indien ek nie dadelik die oproep kan neem nie, laat `n boodskap en ek sal terug skakel. Wanneer u bel, of indien ek u skakel, wees gereed om u SAJWV-lidnommer te gee en te bevestig dat u ledegeld tot op datum betaal is. My verpligting is teenoor aktiewe lede van SA Jagters en nie teenoor enigiemand anders nie.

Stelling 10

Onthou dat SA Jagters op u persoonlike profiel op die lede databasis die vermoë bied om u wapens se detail in te sleutel. Dit sluit in die datum waarop die lisensie gaan verval. Die stelsel sal u dan `n SMS stuur 120 dae voordat die lisensie verval en weer `n verdere boodskap stuur om u te herinner ongeveer 10 dae voor die hernuwing tydperk begin (100 dae voor die lisensie verval

Steling 11

Onthou dat u Art 16 lisensie wat u kry op grond van Toegewyde Status (hetsy as Jagter of Sportskut) afhanklik is daarvan dat u die toegewyde status moet behou. Eienaars van wapens ingevolge Art 16 lisensies mag meer as 200 rondtes aanhou. Toegewyde status beteken nie dat u vir wapens met Art 13 of Art 15 lisensies meer as die toegelate 200 patrone mag aanhou nie.

Daar mag individue wees wat nie meer sekere wapens wil hê waarvan die lisensies verval het nie. Sodra ons duidelikheid het oor die proses vorentoe, staan dit u vry om wel sodanige wapens in te handig om daarvan ontslae te raak.

Ek merk dat my nuusbriewe aan lede baie wyd versprei word, onder andere op allerhande sosiale media (Facebook). Ek versoek u vriendelik om nie hierdie boodskap aan te stuur na persone wat nie lede van SA Jagters is nie en om dit ook nie op sosiale media te publiseer nie.

Vriendelike groete

Fred Camphor
HUB: SA Jagters

  • Last modified on Monday, 18 June 2018 19:19
  • font size

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za