So sonder dat ons dit agterkom is die einde van die jaar hier. Die kantoor van SA Jagters sluit Woensdag en dan is 2019 daarmee heen.


Ons het ook oor `n groot deel van die land milde reën gehad die afgelope klompie dae waarvoor ons baie dankbaar is. Sterkte aan die saaiboere wat nou moet werk om die saad in die grond te kry terwyl die res van die mense in die land dink aan vakansie hou.

 

Vuurwapenamnestie

Die nuus van die oomblik is uiteraard die vuurwapenamnestie wat die Minister van Polisie afgekondig het. Ons het in die afgelope week reeds twee nuusbriewe aan lede uitgestuur om u ingelig te hou.


Ons advies bly om baie versigtig met die amnestie om te gaan. Indien u enigsins u wapen waarvan die lisensie verval het wil behou, raai ons aan om nie nou reeds die wapen in te handig nie maar eers te wag en kyk wat verder gebeur.


Ons hou by ons eerste standpunt dat die amnestie onregmatig mag wees.


Indien u die wapen inhandig sal daar van u verwag word om dokumentasie te teken waarin u afstand doen van die wapen, dat dit verbeurd verklaar kan word aan die staat en dat dit vernietig kan word.


Ons het `n baie sterk vermoede dat die bedoeling van die amnestie juis is dat hierdie wapens ingehandig moet word, dat mense moet aansoek doen vir `n nuwe lisensie en dat die aansoek dan geweier sal word. Sou dit gebeur dan het u reeds die wapen weggeteken en word dit verbeurd verklaar en sal dit vernietig word sonder enige kompensasie.


SA Jagters het so pas bevestiging gekry dat NHSA `n dringende aansoek in die Hooggeregshof bring om die vuurwapenamnestie soos uitgereik deur die Minister van Polisie te laat herroep. SA Jagters ondersteun hierdie aansoek van NHSA en ons vertrou dat dit suksesvol mag wees. Omdat dit `n dringende aansoek is mag dit op 17 Desember 2019 reeds aangehoor word.


Ou groen lisensies

Indien u in besit is van enige wapens wat slegs `n ou groen lisensie het en waarvoor u nooit aansoek gedoen het vir hernuwing nie, dan is en bly daardie lisensies steeds geldig.


Lisensie wat hernu is en verval het

Indien u wel `n nuwe lisensie gekry het wat verval het, dan is u tegnies onwettig in besit van die wapen. Hou dit liewer bloot in die kluis en moet dit nie gebruik nie, indien absoluut noodsaaklik. Moet veral ook nie ry daarmee nie.


Indien u wel destyds aansoek gedoen het vir hernuwing, maar nooit `n nuwe lisensie gekry het nie, wees uiters versigtig. Ons het heelwat lede wat glo omdat hulle nie nuwe lisensies gekry het nie, dit nooit uitgereik is nie. U kan `n baie groot fout maak indien u so dink. Doen asseblief navraag by die vuurwapenoffisier (DFO) om op die SAPD se stelsel na te gaan watter lisensies teen u naam aangeteken is. Daar is lede wat nooit `n nuwe lisensie ontvang het nie terwyl die Polisie se stelsel wel aandui dat `n nuwe lisensie aan hulle uitgereik is en dat dit reeds verval het. Moenie net aanvaar dat die ou groen lisensie nog geldig is omdat u nooit `n nuwe lisensie ontvang het nie.


Bevoegdheid

Maak seker dat u bevoegdheid geldig is. In Vrydag se spesiale nuusbrief het ons lede aangeraai om onmiddellik aansoek te doen om die bevoegdheid te hernu indien dit nie geldig is nie. U gaan vir seker geen lisensie kry sonder geldige bevoegdheid nie. Indien u onseker is of die bevoegdheid geldig is, doen navraag by die DFO en maak seker dat u bevoegdheid vir die tipe wapens wat u besit wel geldig is.


Bewaring

SA Jagters is op die laaste vergadering van die Raad van die IUCN toegelaat as lid van die IUCN en ons is nou volwaardige lede van hierdie internasionale bewaringsliggaam. Die IUCN staan vir die International Union for Conservation of Nature.


Die IUCN is `n lede-organisasie wat bestaan uit regerings en die burgerlike samelewing. Dit verskaf inligting en dra kennis oor aan openbare, private en nie-regeringsorganisasies ter bevordering van menslike vooruitgang, ekonomiese ontwikkeling en natuurbewaring.


Die IUCN het in 1948 tot stand gekom as die wêreld se grootste en mees diverse omgewingsnetwerk wat kennis en hulpbronne van meer as 1 300 ledeorganisasies en 16 000 kundiges koördineer. Dit neem die leiding in bewaringsdata, analises en impakstudies. Die uitgebreide lidmaatskap stel die IUCN in staat om beste praktyke, hulpmiddels en internasionale standaarde beskikbaar te stel.


Die IUCN bied `n neutrale platform waar diverse rolspelers soos regerings, NRO, wetenskaplikes, die sakewêreld, plaaslike gemeenskappe en inheemse bevolkingsorganisasies saam oplossings vir omgewingsuitdagings kan soek en volhoubare ontwikkeling tot stand kan bring.


Die IUCN se vennote en ondersteuners loods wêreldwyd groot uiteenlopende portefeuljes bewaringsprojekte wat die tradisionele kennis van plaaslike gemeenskappe met die wetenskap kombineer om projekte te onwikkel wat habitatsverlies teenwerk, ekostelsels herstel en mense se welstand verbeter.


Onder die samewerkingsooreenkoms tussen BatsAfrica en SA Jagters, is daar onlangs `n aanbieding oor die migrasie van vlermuise (Bats on the Move – advancing our understanding of movement by Africa’s bats) by die Oppenheimer Simposium gelewer.  SA Jagters se takke sal dalk eersdaags kan deelneem aan hierdie projek en bydra tot die monitering van die migrasie en verspreiding van vlermuise.


Lizanne Nel en Boetie Kirchner is weer amptelik aangestel as lede van die regering se Nasionale Gifvoorkomingswerkgroep (National Poison Prevention Working Group –NPPWG) waar hulle lede en die vereniging verteenwoordig in gesprekke om die vergiftiging van wild te voorkom. Voorvalle van vergifting van wilde diere neem toe regoor Afrika en maak deel uit van die onwettige handel in wildlewe wanneer stropers gif gebruik wat dikwels ook aasdiere laat vrek.


SA Jagters se bewaringsbestuurder is ingesluit by die Minister van Omgewingsake, Bosbou en Vissery, se paneel kundiges wat die Minister sal adviseer; en beleid en wetgewing sal hersien ten opsigte van die bestuur, teel, jag, handel, en hantering van olifante, leeus, luiperds en renosters.


Die regering het SA Jagters versoek om die inleidende aanbieding te doen by die stigting van die Amathole Biodiversiteitsekonomie Nodus in die Oos-Londen-omgewing. Hierdie model van SA Jagters, waar die wildlewe-ekonomie `n leidende rol in landelike ekonomiese ontwikkeling kan speel, word tans in verskeie dele van Suid Afrika geïmplementeer. Mornay Eyre, Streekverteenwoordiger van SA Jagters in dié streek, sal die Vereniging op die komitee verteenwoordig.


Jagsake

Al is die jagseisoen vir die meeste van ons verby is daar wel `n paar bevoorregte lede wat nog so `n jag of twee voor die nuwe jaar gaan inwerk. SA Jagters het daarin geslaag om `n derde buffelkoei te jag te kry en Warrick Diesel het die afgelope naweek sy buffelkoei suksesvol gejag. Ons het ook `n vierde buffelkoei vir lede bekom en die gelukkige jagter is Richard Jelley, een van ons ouer lede (reeds 71 jaar oud) wat so teen naastenby 20 Desember sy jagavontuur gaan aanpak. Weens die gewildheid van hierdie die buffeljagte gaan ons poog om nog `n paar sulke geleenthede vir 2020 te bekom.


Die varkpermitstelsel is nog goed op dreef en daar was selfs in November nog plase wat geregistreer is. Tans is daar 248 plase geregistreer en 865 permitte is reeds uitgereik.  


Suid-Afrika het vanjaar geen kwota vir luiperdjag gehad nie, maar het verkies om die kwota oor te dra na volgende jaar. Gaan kyk by www.saleopardhunting.com vir baie interessante leesstof oor veral die ouderdom en geslagsbepaling van die gekolde prinse van die bos.  


Skietsake

SA Jagters se Streekskietprogram vir 2020 is teen einde November  bekendgemaak. Dit sluit al die verskillende skietdissiplines in wat op streekvlak aangebied word. Die Streekskietprogram, Universele Reëls, Skietoefening- en skietkompetisiereëls is hier beskikbaar.


SA Jagters help minderbevoorregtes

SA Jagters het tydens die gholfdag in Junie 2019 `n hele klompie gholfhemde bymekaargemaak as deel van `n liefdadigheidsprojek. Elke speler het `n gebruikte gholfhemp saamgebring in ruil van die nuwe een wat hy/sy by die gholfdag kry. Die gebruikte hemde is aan minderbevoorregte inwoners van `n plakkerskamp in Pretoria geskenk.


Gedenkboek

Herman Jonker, redakteur van ons gedenkboek het by die kongresdinee `n baie interessante bydrae gelewer oor hoe die geskiedenis van `n vereniging soos SA Jagters behoue behoort te bly. Dit was insiggewend om te hoor hoe hy as skrywer dink oor die geskiedenis van SA Jagters.


Ter viering van ons 70ste bestaansjaar bied ons `n gedenkboek wat die ontstaan en geskiedenis van die Vereniging boekstaaf aan. Die boek bevat feite, vertellings, foto’s en interessanthede uit `n vergange era. Die boek wat teen vroeg in 2020 beskikbaar behoort te wees, sal `n waardige plek op enige lid se koffietafel of boekrak kan inneem.


Dit is beskikbaar in A4-formaat in twee weergawes: een met `n gewone omslag teen R 300,00 per boek; en `n tweede meer luukse weergawe met `n buffelleer omslag. Slegs 100 van die buffelleer-eksemplare teen R1000 elk sal beskikbaar wees. Plaas bestellings vroegtydig om teleurstelling te voorkom.


Gaan kyk hier vir `n voorsmakie van die boek se Voorwoord en Bladsye.


Vir bestellings, doen die volgende:

  1. Plaas die korrekte bedrag (R 300 vir die gewone boek of R 1 000 vir die leergebinde weergawe) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
  2. Gebruik net u Lidnommer en Boek as verwysing. Maak asseblief baie seker dat u lidnommer korrek is anders kan ons nie die bestelling uitvoer nie.


Takke en Hul Dinge

Die nuwe afdeling op die SA Jagters webwerf oor Takke en hulle Dinge is redelik gewild. Gaan kyk gerus onder Taksuksesse/Branch Accomplishments hierna. Die bedoeling met die afdeling is om takke die geleentheid te gee om suksesverhale te plaas op die SA Jagters webwerf en takke kan voorstelle stuur aan André van der Merwe by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Lees gerus hier waar daar reeds suksesverhale van vier takke geplaas is.

 

Handaflewering van die SA Jagter

Ons het voorheen berig dat die SA Jagter-tydskrif per hand by u woonadres afgelewer kan word. Hierdie aflewering is baie meer betroubaar as die Poskantoor. Ons kan ongeveer 10 000 lede se aflewering van die SA Jagter meer betroubaar maak deur die tydskrif per hand by die huisadres te laat aflewer. Uiteraard is meeste hiervan in stede en groter dorpe.


Om te verseker dat u die tydskrif ontvang, kyk of u woonadres korrek is op die lede-administrasiestelsel en stuur dan `n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.


Indien u enige probleme ervaar met die handaflewering van u tydskrifte stuur asseblief `n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. en verduidelik wat die probleem is. Ons sal Media24 vra om aandag daaraan te gee.


Skietgeleenthede van SA Jagter in 2020

Soos u waarskynlik reeds weet, bied ons tydskrif, SA Jagter weer twee spesiale skietgeleenthede aan in 2020. Op 22 Februarie 2020 word `n spesiale haelgeweerskiet aangebied by Wattlesprings-skietbaan geborg deur Inyathi Sporting Supplies. Skuts kan nou al inskryf vir die kompetisie.


Op 9 Mei 2020 vind `n ghongskiet plaas op Jan “Staal” du Toit se skietbaan tussen Ermelo en Amersfoort. Hierdie kompetisie word geborg deur Safari Outdoor met uitstekende pryse.


Meer inligting oor hierdie twee skietgeleenthede van SA Jagter is hier beskikbaar


Die Sewentigste herdenking van SA Jagters

Die onderskeie projekte wat verband hou met die sewentigste verjaarsdag van SA Jagters is reeds beskryf.


Juwele

Daar is nog enkele juweelstukke beskikbaar in die reeks juweliersware wat Maryna de Klerk van M2 Juweliersware vervaardig het. Elke stuk is gemerk met `n nommer en prys. Gaan kyk hier vir foto’s van die juwele.


Enigeen wat van hierdie ivoorjuwele wil koop afkomstig uit die ivoor van Nico van Rooyen, kan Realda Goosen by (012) 808 9300 skakel. Hou die nommer van die stuk of stukke waarin u belangstel byderhand. Die persone wat eerste bestel en betaal, sal die juwele kry.


Messe

Daar is steeds goeie belangstelling in die beperkte reeks van 500 messe wat teen R 1 000 elk beskikbaar gestel is. Dit is Buck-knipmesse met ivoorinlegsels op die hef en SA Jagters se logo op die lem graveer. Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by ABSA, rekeningnommer 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur die betalingsbewys saam met u lidnommer en kontakbesonderhede aan Realda Goosen by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.


Lidmaatskap

Die ledetal van SA Jagters bly konstant op 42 029 opbetaalde lede teen 1 Desember 2019 nadat `n klompie lede geblok is weens laat of nie-betaling van ledegeld. Ons vertrou dat ons meeste van hierdie geblokte lede sal terugkry.


Werf lede vir kommissie

Die Raad het besluit dat elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, kommissie van tussen R 100 tot R150 per lid sal ontvang. Meer inligting is hier beskikbaar.  


Die Raad het ook besluit om `n aantal agente aan te stel om teen kommissie lede te werf. Lede wat weet van iemand wat nie `n lid is van SA Jagters nie, wat gereeld reis en mag belangstel om lede vir SA Jagters te werf, kan hulle besonderhede soos kontaknommers, fisiese adres, die gebiede waar hy/sy gereeld reis en by welke geleenthede hy/sy lede sou kon werf, stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ons het nog baie min belangstelling gehad in hierdie proses. Ons sal graag `n klompie mense wil aanstel om teen kommissie vir ons lede te werf.


Toegewyde Status

Uit die 16 884 toegewyde jagters is daar 2 721 lede wat nie genoegsame aktiwiteite vir die jaar registreer het om die status te behou nie. Die name van hierdie lede wie se toegewyde status verval het, sal volgende jaar aan die Sentrale Vuurwapenregister rapporteer word.


Uit die 11 430 toegewyde sportskuts is daar 1 812 lede wat nie genoegsame aktiwiteite vir die jaar registreer het om die status te behou nie. Die name van hierdie lede wie se toegewyde status verval het, sal volgende jaar aan die Sentrale Vuurwapenregister rapporteer word


Sommige lede het hulle aktiwiteite per e-pos aangestuur. Ons het egter in `n stadium probleme met ons e-pos stelsel ervaar. Sommige van ons lede wat hulle aktiwiteite per e-pos gestuur het se inligting het moontlik nie by ons uitgekom nie. Volg dit asseblief opvolg. Gaan kyk op u persoonlike profiel op die lede-administrasiestelsel op die webwerf van SA Jagters of u data korrek is.


Ivoorprojek

Die Doctari ivoormes-projek is weer goed op dreef nadat ons effe agter geraak het met bestellings en aflewerings. Die projek behels die maak van messe met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Plaas bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom aangesien slegs 150 messe in hierdie projek gemaak word. Daar is reeds 100 messe verkoop.


Belangstellendes kan R5 500 in die bankrekening van SA Jagters betaal. Die rekening is by Absa en die rekeningnommer is 01443990077; met takkode 632005. Gebruik die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.


Reis met Vuurwapens

Lede wat met vakansie gaan moet seker maak dat vuurwapens veilig in die kluis toegesluit is. Die kluis se sleutels moet ook verkieslik nie in die huis weggesteek word nie. Persone wat hulle handwapens saamneem op reis, moet baie versigtig wees. Moet dit nie in die motor onder die sitplek toesluit indien u iewers stop om iets te eet of te rus  nie. `n Motor is nie `n veilige bêreplek nie. Hou eerder die wapen in `n holster aan u lyf, of in `n rugsak waaroor u behoorlike beheer kan uitoefen.


Kommersiële sake

Spesiale korting aan lede van SA Jagters


Die ooreenkoms met Humansdorp Koöperasie vanaf 1 November is splinternuut en bied steeds unieke geleenthede aan ons lede.


Die openingsaanbod van Humansdorp Koöperasie van 10% korting op Zastava gewere geld ook vir Desember 2019. Hierdie is die ideale geleentheid van daardie geskenk “Van Pa: Aan Pa”. Gaan kyk gerus hier na die reeks van gewere wat as deel van hierdie aanbod beskikbaar is.


Humansdorp Koöperasie bied ook `n hele reeks jag- en skietverwante produkte met 5% korting op hulle gewone pryse aan al ons lede..

Hoe gebruik u hierdie geleentheid?

  1. Gaan kyk op die webwerf van Humansdorp Koöperasie na die produkte waarin u belangstel. Hulle produkreeks is beskikbaar deur een van die volgende webwerwe te gebruik.
    1. humkoop.co.za
    2. co.za en klik op die skakel vuurwapens
    3. co.za en klik op die skakel vuurwapens
  2. Plaas bestelling telefonies en tref reëlings vir betaling of doen dit per e-pos.
  3. Slegs opbetaalde lede kwalifiseer vir die afslag. Verskaf u lidnommer met die bestelling. Alvorens Humansdorp Koöperasie enige korting aan u sal toestaan sal hul kontroleer of u wel `n lid is van SA Jagters en of u ledegeld op datum betaal is.
  4. Plaas u bestelling by Eduan du Toit, Cheryl Coetzee of Riaan Vermaak by een van die onderstaande telefoonnommers of e-pos adresse:
    • Telefoonnommers
      1. (042) 2910431
      2. (042) 2951501
      3. (042) 2951082
    •  E-posadresse
      1. This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
      2. This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Sodra die bestelling geplaas is en betaling ontvang is, sal die Koöperasie die produk per koerier of in sekere gevalle met `n logistiekverskaffer stuur.

Ander voordele aan lede van SA Jagters.

  • Humansdorp Koöperasie
  • Toyota SA
  • Westvaal Nelspruit  
  • Wildman Hunting and Outdoor
  • Hokaai Slaghuis
  • Die Wildshoekie Vleismark
  • LAVA Vakuumverpakking
  • Selftrack
  • MAINSU Kragopwekkers
  • Cens Digital Gehoorbeskerming
  • Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
  • Helle-messe
  • Nitecore Flitse
  • Fitch and Leedes
  • Otterskloof
  • Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
  • Archers Rock Safaris

Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.

 

HuntEx

HuntEx2020 vind van 24 tot 27 April 2020 plaas. Tref betyds reëlings om hierdie skou te besoek.


Kersboodskap van die President

Lees die President van SA Jagters se spesiale kersboodskap hier.


SA Jagters se kantoor sluit

SA Jagters se kantoor sluit op 11 Desember vir die kersvakansie. Ons het lede vooruit waarskuwing gegee van die sluitingsdatum. Noodgevalle sal nog op die laaste dag aandag kry maar dan open die kantoor eers weer op 6 Januarie 2020.

 

Vandag is my laaste dag op kantoor vir die jaar. Ek wil graag hierdie geleentheid gebruik om u een en elk hartlik te bedank vir u ondersteuning, samewerking en begrip gedurende die afgelope jaar.


Mag die vrede en vreugde van Kersfees, saam met familie en vriende ook vir u rustigheid bring. Mooi wense vir 2020.

Vriendelike groete

Fred Camphor

SA Jagters: HUB