Uiteindelik het 2019 se jagseisoen aangebreek en skielik gaan dit so effens makliker hier in die kantoor. Lede is nou meer ingestel op jag as administrasie en ons kom dit agter aan die volume korrespondensie wat so `n klein bietjie minder raak die tyd van die jaar. Daar is ook duidelik `n koeligheid in die lug wat aandui dis die tyd om biltong op te hang.

 

Verkiesing
Die verkiesing is afgehandel en die resultate bekend. By die skryf van hierdie nuusbrief is die nuwe kabinet nog nie aangewys nie en ons weet daarom nog nie of ons dalk `n nuwe Minister van Polisie gaan kry nie. Ons sal maar die pers dophou en standpunt inneem soos die tyd ons toelaat vorentoe. Ons glo dat ons nie te lank gaan wag nie.

 

HuntEx 2020
Spesiaal vir al die manne wat met my raas omdat ons nie genoegsaam kennis gee van wanneer HuntEx sal plaasvind nie/ Maak asseblief sommer nou al die aantekening in die dagboek. HuntEx 2020 word beplan vir 24 tot 27 April 2020

 

Bewaring
Luiperd Trofeejag
SA Jagters ondersteun die verantwoordelike benutting van natuurlike hulpbronne en neem aktief deel aan die prosesse om gesprek te voer hieroor. Ons neem daarom aktief deel aan die proses om `n kwota vir trofeejag van luiperds vir die RSA te bepaal.

Die Departement van Omgewingsake nooi lede van die publiek om voor 15 Junie 2019 skriftelike voorleggings aan die Wetenskaplike Owerheid te doen wat uiteindelik die kwota vir trofeejag van luiperds vir die volgende jaar sal bepaal en aanbeveel. Die Departement hou ook `n openbare konsultasiesessie oor hierdie saak op 4 Junie 2019 om 13h00 by Manhattan hotel which is located at 247 Scheiding Street, Pretoria. Meer inligting is hier beskikbaar.

 

Leeubeen-kwota
Die Departement van Omgewingsake bepaal jaarliks `n kwota vir die getal skelette (bene) van leeus wat uitgevoer mag word, grootliks na Sjina. Hierdie saak word ook op 4 Junie 2019 van 08h00 tot 12h00 by `n openbare werkswinkel bespreek. Die adres is Manhattan hotel which is located at 247 Scheiding Street, Pretoria

 

Olifantbestuursprogram
Lizanne Nel sal SA Jagters van 4 tot 6 Junie verteenwoordig by `n werkswinkel oor olifantbestuur by die Wildlife College. Die werkswinkel vorm deel van `n proses vir die formulering van `n nasionale strategie vir die bestuur van olifante deur die Departement van Omgewingsake. As deel van die proses, sal die Vereniging ook deelneem aan `n drie jaar navorsingsprogram onder leiding van Professor Rob Slotow en Dr Enrico Di Minin wat deur DEA aangestel is om navorsing te doen om olifantbestuur in Suid Afrika te ondersteun.

 

Internasionale Verwikkelinge en Skakeling
Gedurende die afgelope maand het heelwat internasionale standpunte bekend geraak na wysigings aangebring is.

  • Botswana se regering het besluit om weer trofeejag toe te laat as deel van die bestuursprogram van veral olifante.
  • In Zimbabwe is die besluit geneem dat buffels wel met `n boog gejag mag word om toereisme te bevorder en inkomste vir natuurbewaring te genereer.
  • In Kenia is die besluit geneem dat die kommersiële benutting van wildsvleis aanvaar en bevorder sal word.

Meer inligting oor die bostaande onderwerpe is beskikbaar op SA Jagters se Bewaring Facebook blad by https://www.facebook.com/Tinyarhi

Lizanne Nel het ook opgetree as gasspreker by die CIC se jaarlikse kongres wat in Namibië gehou is. By hierdie geleentheid het sy gepraat oor die toekoms van bewaring in Afrika. `n Kort uittreksel uit die sessie is hier beskikbaar.

 

Jagsake
Algemene Nuus
As verantwoordelike Jagters het ons die plig om onsself te vergewis van die jagregulasies in die betrokke area waar ons gaan Jag . Klik hier vir die jongste beskikbare inligting soos uit ons Jagsake kantoor aangestuur. Die skrywe handel ook met die invoer van vleis vanuit sekere buurlande.

 

Afrika Varkpes
Ons herinner lede wat gaan jag oor die uitbreek van Afrika Varkpes in vier provinsies, nl. Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. Die vervoer van enige lewende varke is daarom beperk in die provinsies en in geheel verbied in die distrikte waar die siekte bevestig is.

Ten opsigte van die vervoer van gejagte varkvleis geld die volgende. Varkvleis mag vervoer word indien die karkas vergesel is van `n permit van die Departement van Landbou (soos SA Jagters se geregistreerde lede uitreik) en indien daar ten volle voldoen is in die vereistes soos dit in die permit gestel word (geen kop, pote, vel of binnegoed mag saam met die vleis vervoer word nie. Die limfknope (kliere) moet uit die vleis verwyder word.)

Met die uitbreek van Afrika Varkpes kom padblokkades voor. Daar sal ernstig opgetree word teen individue wat varkvleis vervoer sonder `n permit en waar die vereistes van die permit nie nagekom word nie.

 

Miltsiekte in Lesotho
Ons het vandag (28 Mei) bevestiging gekry dat miltsiekte in Lesotho in die Maseru-distrik uitgebreek het. Daar is reeds `n verbod geplaas op die verskuif van alle spleethoewige diere tussen Lesotho en die Vrystaat. Lede in die Oos-Vrystaat in gebiede aanliggend aan die grens met Lesotho moet asseblief baie versigtig wees met diere wat uit Lesotho oor die rivier kom. U sal weet dat miltsiekte dodelik is en ook erg aansteeklik is. U kan meer inligting hier kry.

 

SAL: Heffing op vervoer van wapens
Lede en beroepsjagters moet let op die heffing wat SAL op 15 Mei 2019i `n werking gestel het vir die hantering vir vuurwapens, plaaslik en internasionaal. SAL het skielik `n addisionele heffing van US$ 100 per vuurwapen geplaas op alle lugvervoer van vuurwapens. Ons probeer met SAL kontak maak om die skielike instelling van die heffing te bespreek. Ons verwag dat dit `n redelike groot impak op beide die jag- en sportskietbedryf kan hê. Lees gerus hier vir meer inligting.

 

Buffeljag vir R50
Die Mangalana stam naasliggend aan die Sabie Game Park in Mosambiek het een van die buffels uit hulle jagkwota aan SA Jagters toegeken. Die Sabie Game Park is geleë net oorkant die grens met Mosambiek en `n mens kan daarheen ry om te gaan jag.

Die jaggebied is die omgewing van die Sabie Game Park in Mosambiek wat grens aan die oostekant van die KNP met Mosambiek waar die Sabierivier in Mosambiek vloei. Die omgewing is ideaal geleë en dra `n redelike groot buffelbevolking.

As `n tweede prys in hierdie trekking het die Raad van SA Jagters aangebied om `n geslypte diamant ter waarde van R28 000 beskikbaar te maak. Hierdie diamant is geskenk deur die Diamant-tak van SA Jagters.

Koop asseblief u kaartjie deur die volgende te doen:

  1. Plaas R50 of veelvoude van R50 (wat u meervoudige kanse sal gee) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
  2. Gebruik net u eie selfoonnommer en Buffel as verwysing.

Inskrywings vir hierdie trekking sluit op 31 Julie 2019. SA Jagters sal u selfoonnommer gebruik om die trekking van die gelukkige wenner van hierdie jag te doen.

Fitch and Leedes het ook toegetree tot hierdie geleentheid as borg en sal vir ons `n klompie troospryse borg.

Die voorwaardes van toepassing op hierdie jaggeleentheid sal u hier kry.

Tiervisvang
Jagsake bied ook `n tiervisvang geleentheid aan. Vir R50 staan u die kans om `n tiervis avontuur te wen by Komatipoort in die Komatirivier. Die prys is vir vier persone. Die boot, gerei, aas en gids is ingesluit vir twee sessies (1 van 12 ure en 1 van 6 ure). Die boot is ook rolstoel vriendelik.

Uitgesluit is u eie vervoer na en van Komatipoort, verblyf en etes. Daar is `n kampterrein met ablusieblok met warm water en elektrisiteit beskikbaar op die perseel, asook nabygeleë lodges.

  1. Plaas R50 of veelvoude van R50 (wat u meervoudige kanse sal gee) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
  2. Gebruik net u eie selfoonnommer en Tier as verwysing.

Die trekking vir hierdie kompetisie sal op 13 Augustus 2019 gedoen word.

 

Permitte vir Vervoer van wilde varkvleis
Lede wat nog hul plase wil registreer vir die uitreik van permitte vir die vervoer van wilde varkvleis kan gerus op ons webwerf onder Jagsake meer inligting oor die proses bekom.

 

Video Jagtrip
Daar is onlangs `n musiekvideo bekendgestel deur Arno Jordaan met die titel “Jagtrip”. Hierdie video het heelparty jagters en lede van SA Jagters warm onder die kraag. Die video sluit heelwat materiaal van Safari Outdoor in.

By my navraag het Marco van Niekerk, die besturende direkteur van SO, bevestig dat hulle bemarkingsafdeling wel toestemming gegee het vir die gebruik van hulle logo en die opname van filmmateriaal in een van die winkels, maar dat hulle nie verantwoordelik is vir storielyn van die video nie en dat dit nie `n bemarkingsvideo vir SO is nie.

Ek het ook die moeite gedoen om Arno Jordaan self te kontak en hy het duidelik ander bedoelings gehad met die video. Sy persoonlike siening oor jag verskil duidelik van die negatiewe boodskap wat dalk met die video oorgedra mag word. Na `n gesprek met Arno het hy sy standpunt oor jag en die bedoeling met die video met ons gedeel. Die bedoeling van die video was eintlik om die storie te vertel oor `n man wat `n vrou soek met speelse gebruik van jagterme in veral die woorde van die liedjie.

Persoonlik is ek van mening dat ons sekerlik as jagters ons tyd beter kan benut deur konstruktiewe werk te doen en jag te bevorder as verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne, as om nou te probeer derms uitryg oor een voorbeeld wat na ons mening jag benadeel. Gedane sake het geen keer nie en ek dink elkeen van ons leer sekerlik uit hierdie proses. Ons behoort baie goed te dink oor hoe ons optree en wat die boodskap is wat ons uitdra oor jag.

 

Skietsake
`n Paar lede van SA Jagters het so pas op Bisley in Engeland deelgeneem aan die Phoenix skietgeleentheid.

Johan Griesel het teruggekeer met `n goud, silwer en bronsmedalje in die sak en Jors Humpel het teruggekom met `n goue en `n bronsmedalje.

Jors het in die Limited Bolt action dissipline `n goud- en in die 5785 `n bronsmedalje gewen.

Johan Griesel het in die kleinkaliber (.22 Randslag) medaljes gewen in die volgende dissiplines. In die 50m presisie – goud, in die 25m Presisie – silwer, en in die tyd-en-presisie – brons.

Baie geluk aan die twee manne wat SA Jagters se naam hoog gehou het in Engeland tussen van die wêreld se beste skuts. Hulle bydrae hiermee word opreg waardeer.

 

Die Sewentigste herdenking van SA Jagters
Ons het nou reeds die onderskeie projekte wat verband hou met die sewentigste verjaardag van SA Jagters beskryf.
Gedenkboek
Die ontstaan en geskiedenis van SA Jagters is nog nooit gepubliseer nie. Prof. Pottie Potgieter een van ons oud-presidente, is die argivaris wat inligting, dokumentasie en foto’s versamel vir só `n boek. Stuur asseblief alle nuuswaardighede uit die verlede, inligting en foto’s aan Prof. Pottie. Herman Jonker is die redakteur en verantwoordelik vir die samestelling van die boek.

Ons verwag dat die boek teen die einde van die jaar gereed sal wees vir verspreiding. As u nog enige bydrae wil lewer dan het u nou `n laaste kans om dit te doen.

 

Juwele
Die eerste stukke van die reeks juweliersware wat Maryna de Klerk van M2 Juweliersware vervaardig, is reeds beskikbaar. U kan foto’s van die juwele hier kry.

Elke stuk is gemerk met `n nommer en prys. Hierdie is individuele juwele en daar is slegs van enkele daarvan meerdere identiese stukke beskikbaar.

Indien u enige van hierdie ivoorjuwele wil koop afkomstig uit die ivoor van Nico van Rooyen, skakel asseblief met Realda Goosen by (012) 808 9300. Maak seker dat u die nommer van die stuk of stukke beskikbaar het. Die juwele word aangebied op die grondslag dat die persoon wat eerste die bestelling plaas en betaal die betrokke juwele sal kry.

Hou in gedagte dat ons die stukke per versekerde pakkie per koerier sal aanstuur wat ook addisionele koste sal meebring. U sal versoek word om `n elektroniese deposito te doen met die verwysingsnommer van die juwele en u naam. Na ontvangs van u deposito sal die juwele na u aangestuur word.

 

Messe
Daar is `n beperkte reeks van 500 messe met ivoor op die hef beskikbaar teen R1 000 elk. Dit is Buck-knipmesse met ivoor op die hef en met SA Jagters se logo op die hef graveer. Die messe sal vanaf ongeveer einde Mei beskikbaar wees.

Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur dan `n bewys van betaling met u lidnommer en kontakdetail aan Realda Goosen by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. wat met u sal skakel om die nodige verdere reëlings te tref.

 

Gewere
SA Jagters se Raad het besluit om twee gewere in klassieke kalibers (7 X 57 en 9,3 X 62) te laat bou ter viering van die sewentigste verjaardag. Hierdie gewere word gebou deur Ralph Badenhorst, jnr. en sal ook elkeen met `n gelukstrekking aan lede beskikbaar gestel word. Indien u foto’s wil sien van hoe die bouwerk aan die gewere vorder, kyk gerus hier.

 

Lidmaatskap
Die ledetal van SA Jagters bly konstant op 42 768 opbetaalde lede teen 31 Mei 2019.

Onthou dat elke lid van SA Jagters wat 10 lede in `n gegewe jaar vir SA Jagters werf die volgende jaar gratis lidmaatskap ontvang. Takke wat lede werf kry ook erkenning met `n gedeelte van die ledegeld, bo en behalwe die tak-subsidie wat die Tak ontvang.

Carl Arnold, President van SA Jagters, se doelwit is om SA Jagters se ledetal in 2019 en 2020 met 4 000 lede te sien groei. Kom ons vat hande om hierdie doelwit te behaal.

 

Toegewyde Status
Diegene van ons lede wat toegewyde status het (beide jag en sportskiet) moet asseblief onthou dat u die nodige aktiwiteite moet rapporteer om die status te bou. Die behoud van u vuurwapens kan afhanklik raak van hierdie status.

Uit die 16 759 toegewyde jagters het sover reeds 6 973 genoegsame aktiwiteite registreer om die status te behou.

Uit die 10 815 toegewyde sportskuts het sover slegs 3 476 lede genoegsame aktiwiteite geregistreer om die status te behou.

Onthou asseblief om u aktiwiteite te registreer op ons aanlyn lede-administrasiestelsel.

 

Opleiding
SA Jagters bied in samewerking met die Wildlife College steeds die opleiding in die jag van gevaarlike wild aan. Slegs lede met toegewyde jagterstatus kwalifiseer en kan die opleiding doen.
Die kursusfooi beloop R4 000 per persoon (Olifant, Buffel, Leeu, Luiperd, Hiëna)

Die volgende kursusdatums is beskikbaar vir 2019.

  • 3-6 Junie 2019 (x 3 plekke oop) (Maandag tot Donderdag)
  • 13-16 Junie 2019 (x 3 plekke oop) (Donderdag tot Sondag)
  • 17-20 Junie 2019 (x 6 plekke oop) (Maandag tot Donderdag)
  • 20-23 Junie 2019 (x 1 Plek oop) (Donderdag tot Sondag)
  • 24-27 Junie 2019 (x 4 plekke oop) (Maandag tot Donderdag)
  • 27-30 Junie 2019 (x 1 Plek oop) (Donderdag tot Sondag)

Rig navrae aan Liesel by 012 808 9325 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Die volgende inligting word vereis met bespreking en betaling van die kursusfooi:

  • Naam en van
  • Lidnommer
  • Nommer van Toegewyde Jagterstatus
  • Telefoonnommer
  • Voorkeurdatum vir bespreking

Fotokompetisie
Lede word herinner om deel te neem aan SA Jagters se fotokompetisie. Die doel van die kompetisie is om `n portefeulje saam te stel van die beste foto’s wat SA Jagters se lede geneem het sodat ons dit op die webwerf, in aanbiedinge en advertensies by geleenthede soos die jaarlikse kongres se gala-aand kan vertoon.

Aan die einde van elke maand sal ons foto’s kies om by hierdie portefeulje in te sluit en dit ook op www.sahunters.co.za publiseer. Mei maand se finaliste sal kort na die einde van die maand op die webwerf vertoon word. Lede sal ook erkenning in die vorm van goud, silwer of brons sertifikate ontvang.

Ons borg (Canon SA) het weer `n nuwe kamera as prys vir die algehele wenner beskikbaar gemaak. Die prys word tydens ons kongres galadinee aan die einde van die jaar oorhandig. Ons probeer ook om meer pryse vir die verskillende kategorie wenners te kry.

Kategorieë vir 2019 se kompetisie

  1. Die Jagter (Nie gejagte diere): Foto’s wat `n jagter – mens of dier – in die natuur uitbeeld.
  2. Die Natuur Praat: Foto’s uit die natuur wat met die jou siel praat, bv. Merkwaardige agtergronde of kleure.
  3. Dierelewe: Foto’s wat enige dierelewe (land, voël of seelewe) uitbeeld.
  4. Skiet –`n toegewyde sport: Foto’s wat die aktiwiteit, toewyding, toerusting en voorbereiding van die sportskut uitbeeld.

Lees gerus hier wat u moet doen om in te skryf.

Kommersiële sake
Soos gebruiklik, sluit ons skakels in na ons webwerf vir meer inligting oor spesiale aanbiedings vir SA Jagters se lede. Kliek op die skakel waarin u belangstel.

Ons het in die afgelope maand die volgende borge en ondersteuners bygevoeg op die lys.

Fitch and Leedes is verspreiders van `n bekende reeks koeldranke in verskeie handelspunte. Fitch and Leedes het toegetree as borg vir SA Jagters se gholfdag en ook as borg vir `n klompie troospryse van die Buffeljag geleentheid. Hulle handelsmerk word gesien as lewenstyl handelsmerk en ons waardeer hulle ondersteuning opreg. SA Jagters ondersteun graag handelsmerke soos hierdie onderneming wat bereid is om met ons hande te vat.

Otterskloof is `n bekende en gewilde jagbestemming en ou vriende van SA Jagters. Ons bedank hulle ook graag vir hulle ondersteuning met hulle toetrede as borg van `n paar jagpakkette vir SA Jagters se gholfdag.

Die volgende leweransiers bied spesiale voordele aan lede van SA Jagters.

  • Toyota SA
  • Westvaal Nelspruit
  • Wildman Hunting and Outdoor
  • Hokaai Slaghuis
  • Die Wildshoekie Vleismark
  • LAVA Vakuumverpakking
  • Selftrack
  • MAINSU Kragopwekkers
  • Cens Digital Gehoorbeskerming
  • Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
  • Helle-messe
  • Nitecore Flitse
  • Fitch and Leedes
  • Otterskloof
  • Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai

Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.

Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB