Jagters se wangedrag pla

Die vennootskap en ’n gesonde verhouding tussen die jagters en wildplaas-eienaars, is uiters belangrik om die langtermyn toekoms van jag, soos individuele jagters en lede van die SAJWV dit ken, te verseker.

Indien die jagter en die wildplaas-eienaar na ’n jagtog tevrede is en elk voel dat hulle waarde vir geld gekry het, was die transaksie suksesvol en lei dit soms tot ’n lewenslange vriendskap.

Redelik vanselfprekend? Ongelukkig nie! Daar vind gebeure op jagplase plaas wat my onrustig stem en die kosbare verhouding tussen jagters en wildplaas-eienaars kan bederf! Al hoe meer wildplaas-eienaars waarmee ek te doen kry, is baie ongelukkig met die gedrag van spesifiek Suid-Afrikaanse jagters op hul plase. Hoe groot die groep “probleemjagters “ is, is moeilik bepaalbaar, maar wat hulle besig is om te veroorsaak, word goed beskryf deur die spreekwoord: een vrot appel bederf die hele kas. Die Engelse weergawe vanuit die ou Latynse spreekwoord is nog meer spesifiek: The rotten apple injures its neighbours.

Ek wil graag vir die nodige perspektief, dit duidelik maak dat baie jagters (hopelik die oorgrote meerderheid) verantwoordelik optree wanneer hulle wildsplase besoek. Indien jy ‘n verantwoordelike jagter is, lees verder sodat jy kan verstaan wat besig is om te gebeur en hoe die wangedrag van die probleemjagters jou en jou kinders se jagtoekoms kan benadeel.

WANGEDRAG
Die voorbeelde van wangedrag is van so ’n aard dat jy wonder waar die mentaliteit van hierdie “jagters” vandaan kom – treë hulle ook so op in hul daaglikse handel en wandel? Die universele beginsel is dat die jagter die gas van die wildplaas-eienaar is en hom/haarself daarvolgens behoort te gedra. Die feit dat jy betaal vir die wild en die jag verander niks aan die beginsel nie.

Die universele klagte is drankmisbruik. Dit laat jagters dikwels onbeskof en arrogant optree, net soos straatboewe. Boere kla ook oor skade aan hul eiendom deur jagters wat onder die invloed van drank was. Drank word dikwels ook gebruik op jagvoertuie terwyl vuurwapens hanteer word!

Nog iets wat wildboere dwars in die krop steek, is onveilige vuurwapenhantering - dikwels gepaardgaande met drankgebruik. Dit kan lei tot die afvuur van nalatige skote, wat moontlik tragiese gevolge kan hê.

Sommige jagters ontken ook hulle kwesskote en weier dan om vir die wild te betaal. Of hulle probeer die gidse omkoop om stil te bly. Dan is daar jagters wat nie na kwesbokke wil soek nie – hulle is bereid om daarvoor te betaal , maar wil dadelik ‘n ander bok probeer jag.

Dikwels is jagters duidelik onvoorbereid omdat hulle te min of geen skietoefening voor die jag ingesit het. Soms is hulle toerusting (geweer/ammunisie of teleskoop) nie op standaard nie, maar hulle dring steeds daarop aan om te jag, sonder om die gevolge van ‘n moontlike kwesskoot te oorweeg.

Nog ‘n probleem is dat jagters wildspesies (of diere van ‘n sekere geslag of ouderdom) skiet nadat hulle spesifiek gevra is om nie sulke diere te skiet nie, byvoorbeeld ‘n besonderse koedoebul of bulle of sekere teeldiere. Die reaksie is dikwels dat die jagter aandring om sulke diere te skiet, want hy kan betaal of hy skiet eenvoudig so ‘n dier en sê agterna vir die boer om die rekening te skryf, maak nie saak hoe groot nie.

‘n Ander voorbeeld is ‘n jagter wat ‘n rooihartbeesbul op sy wenslys gehad het en by die slagplek aangekom het met ‘n rooihartbeeskalf. Sy verskoning was dat die gids nie uitgewys het dis nie ‘n bul nie. “Moenie bekommerd wees nie,” het hy gesê, “ek sal betaal vir ‘n bul”. Sulke jagters wíl nie besef dat die verantwoordelikheid om die finale besluit te neem voor hulle die sneller trek op jagter self rus nie.

Baie jagters besef ook nie (of wil nie besef nie) dat vuurmaakhout ‘n uitputbare hulpbron is. Vuurmaakhout is ‘n produk wat vir die wildplaas-eienaar ‘n handige inkomste kan verskaf en tog word dit op baie plase gratis aan jagters verskaf. Die maak van onnodige groot vure wat berge hout verteer, irriteer met reg baie plaas-eienaars. Dikwels word groot stompe hout kort voor slaaptyd op die vuur gegooi en dan gelos om te brand terwyl almal gaan slaap – ‘n totale vermorsing! Vuurmaakhout is ‘n voorreg wat jagters oordeelkundig moet gebruik. Indien jy dieselfde hoeveelheid hout moet koop, gaan jy waarskynlik tweekeer dink voor jy reusevure maak.

Rommelstrooiery is nog ‘n klip in die wildplaas-eienaars se skoen. Jagters moet net hul spore in die veld agterlaat, nie vullis ook nie. Jagvoertuie wat goedgunstiglik deur die plaaseienaar beskikbaar gestel word, word dikwels misbruik en beskadig. Die plaaseienaar moet dan maar opdok om die skade te herstel.

Daar is verder jagters wat aandring om in kontant te betaal aangesien hulle nie BTW wil betaal nie. Dit skep vir die plaaseienaar ‘n probleem, want indien hy geregistreer is vir BTW moet hy die jagter faktureer en BTW hef. Doen hy dit nie, oortree hy die belastingwetgewing en kan hy vervolg word. Dit is uiters onbillik van die jagter om dit van die plaaseienaar te verwag.

Ek kan ‘n legio ander voorbeelde noem, maar ek dink die punt is gemaak. ‘n Sekere groep mense is besig om vir verantwoordelike Suid-Afrikaanse jagters ‘n snelgroeiende probleem te skep wat alle jagters se reputasie skaad.

Daar is reeds plaaslike en selfs Namibiese plaaseienaars wat nie meer Suid- Afrikaanse jagters op hul plase toelaat nie. Ná hul kwota trofeëdiere gejag is, deur byvoorbeeld buitelandse jagters, word die ekstra getalle wild jaarliks met behulp van oesspanne geskiet óf deur wildvangspanne gevang en lewendig verkoop. Ander wildplaas-eienaars se filosofie is om net ou, goed bekende jagroepe of spesiale vriende te akkommodeer en geen nuwe jagters toe te laat nie. Hierdie tendens hou niks goeds vir jagters in oor die langtermyn nie..

JAGBOEWE
Al hierdie ontstellende voorbeelde getuig van arrogansie, onbeskoftheid, onverantwoordelike optrede, drankmisbruik en al te dikwels ‘n houding dat geld wat stom is, reg kan maak wat krom is. Dit het tyd geword dat sulke jagters uitgewys word vir wat hulle werklik is deur hulle as jagboewe te brandmerk, want jagters is hulle verseker nie.

Verantwoordelike jagters wil nie met hierdie groep geassosieer word nie, want dit is ‘n klad op hulle naam. Dis ons plig om nie met jagboewe te assosieer nie en om hul onaanvaarbare gedrag uit te wys waar moontlik. Indien jy wel kontak het met so ‘n groep of individue, moet jy die nodige opvoedingswerk doen. Verder moet jagters die regte voorbeeld stel vir nuwe jagtoetreders - of dit nou kinders of volwassenes is – om te verseker dat hulle ook as positiewe ambassadeurs vir jagters optree!

Daar rus ‘n soortgelyke verpligting op wildplaaseienaars om nie wangedrag deur jagters te duld nie. Ongelukkig word jagboewe dikwels deur wildplaaseienaars toegelaat om besprekings te herhaal ek ten spyte van hul boewery. Hoekom?

Weens die goeie inkomste wat groepe jagboewe soms verseker, sien wildboere hul wangedrag oor. ‘n Wildsplaas is ‘n besigheid wat ‘n wins moet toon en elke plaaseienaar het die reg om te besluit hoe hy sy besigheid bedryf. Indien ‘n plaaseienaar se filosofie “geld ten alle koste” is, moet hy aanvaar dat hy aandadig is aan ‘n probleem wat gekom het om te bly. Jagboewery kan slegs gestuit word as die wildboer bereid is om standpunt in te neem en op te treë!

Die volgende kernbeginsels uit die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Jagterskode (sien die volledige dokument by www.sahunters.co.za – kliek op Jagsake) is ‘n riglyn van hoe verantwoordelike jagters moet optree:

  • die jagter het respek vir lewe;
  • die jagter het respek vir die natuur;
  • die jagter het respek vir die wet;
  • die jagter het respek vir grondeienaars se regte en
  • vuurwapenveiligheid bo alles!

VEE VOOR EIE DEUR
Sekere wildplaas-eienaars veroorsaak ook maar probleme vir jagters en ek hoor nou al die versoek van jagters dat ons ook daardie probleem moet aanspreek. Ek stem saam, maar kom ons as jagters vee eers voor ons eie deur. ‘n Beduidende deel van potensiële probleme en misverstande tussen wildplaas-eienaars en jagters kan verhoed word indien die jagter sy voorbereiding en huiswerk vir die jag op ‘n nuwe plaas behoorlik doen. Vra die name en kontakbesonderhede van jagters wat reeds op die spesifieke wildsplaas gejag het, volg die verwysings op, vra genoeg vrae, beoordeel die terugvoer en, baie belangrik, vra die wildplaaseienaar vir die pryslys, lys van wild wat gejag mag word en jagreëls (alles op skrif) voor jy ‘n bespreking maak. Indien beide die wildplaaseienaar en jagter by die reëls hou, behoort daar nie misverstande te wees nie. As ‘n wildboer nie die inligting, soos deur die jagter versoek op skrif kan of wil verskaf nie, kry vir jou ander jagplek!

Of dit nou die eerste keer is wat jy op die plaas kom en of dit ’n gunsteling jaarlikse bestemming is, dit bly lekker om op ‘n plaas te arriveer, die vars lug in te asem, om jou rond te kyk en uit te sien na die volgende paar dae in die natuur. Ek kyk terug na die jaggeleenthede wat ek bevoorreg was om oor die jare te beleef en wat vir my uitstaan, is die gasvryheid wat ek op elke plaas beleef het en alles wat my gasheer en gasvrou gedoen het om my jag so vlot en genotvol moontlik te laat verloop.

Die beste bewys dat jy ‘n positiewe indruk op die wildboer gemaak het is wanneer jy teruggenooi word en selfs gevra word of jy jou volgende besoek moontlik kan beplan vir die periode wanneer hy met vakansie wil gaan. Dis die grootste pluimpie wat enige jagter ooit kan ontvang.

In die boek The Old Man and the Boy deur Robert Ruark, sê die oupa die volgende aan sy kleinseun: “I never knew a bad man who was what I’d call a sportsman. I never new a true sportsman who wasn’t a gentleman. So if you are a gentleman and a sportsman, you can’t be a bad man. Is that clear?

Indien jagters hulself suksesvol kan meet aan bogenoemde aanhaling, is hulle op die regte pad!

  • Last modified on Saturday, 25 April 2015 20:14
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za