Waterbokvleis – eetbaar of nie?

Die gewone Waterbok (Kobus ellipsiprymnus) kom voor in ’n breë vertikale strook van net suid van die horing van Afrika af, deur Kenia, Tanzania, Mozambiek na Suid-Afrika, met ’n smaller horisontale strook wat wes strek deur Zambië tot by die Caprivistrook van Namibië en ‘n ander horisontale strook deur die suide van Zimbabwe en die Limpopo provinsie van Suid-Afrika tot in die weste van Botswana. Die gewone Waterbok met die kenmerkende wit ring op die boude, het die beskrywende Afrikaanse naam van kringgat.

Die kringgat Waterbok word deur baie jagters slegs as ’n trofeedier gereken (net die bulle het horings) en word selde vir hulle vleis gejag. Die rede daarvoor is dat daar baie stories oor die jare heen vertel is oor die oneetbaarheid van die vleis, synde die algemene uitlating dat die vleis “stink” en dat niks daaraan gedoen kan word nie.

Verskeie ervare jagters het oor die jare opgemerk dat die probleem gesetel is in die vel en hare van die waterbok, wat ’n onaangename olierige reuk en gevoel het. Indien jy egter verseker dat die buitekant van die vel en die hare nie in aanraking kom met die vleis gedurende die afslagproses nie, is die vleis eetbaar (en baie lekker).

Gedurende die winter van 2011 het ek ‘n jong waterbokkoei in die Stockpoort omgewing in die Limpopo provinsie geskiet. Dit was ‘n hartskoot van voor in die kuiltjie en die bok het net ongeveer 50m gehardloop en was reeds dood toe ek by haar kom. Aangesien dit my eerste waterbok was, het ek besluit om baie versigtig te werk te gaan wanneer die bok afgeslag word. Ek het gesorg dat ek heeltyd bystaan en help, terwyl die dier afgeslag word, met ’n bak flou seepwater
byderhand en die twee slagters het hulle hande goed gewas voor hulle begin afslag. Gedurende die afslagproses het een slegs die buitekant van die vel hanteer en houvas (hy mag gladnie aan die vleis raak nie) en die tweede een was die slagter in die ware sin van die woord. Die slagter het nie aan die buitekant van die vel gevat nie. Indien dit wel gebeur het, het ek toegesien dat hy eers weer sy hande en die mes waarmee hy slag, deeglik in die seepwater was, voor hy voortgaan. Voor ons die afgeslagte karkas in die koelkamer ingedra het, het ons weer almal ons hande gewas en toe eers die karkas hanteer.

Ek en my gesin het die meeste van hierdie waterbok se vleis as tafelvleis benut. Selfs daarvan as braaivleis en dit was besonder smaaklik. My vrou eet graag wildsvleis, maar is sensitief daarvoor as dit “wild” sou smaak. Sy het baie van die Waterbokvleis gehou en dit gunstig vergelyk met die vleis van koedoekoeie wat ons gereeld as tafelvleis geniet.

Gregor Woods het in die ManMAGNUM van April 2000 geskryf oor ‘n trofee waterbokbul wat hy geskiet het. Hy het ’n soortgelyke slagproses gevolg, maar hy het verder gegaan en ook die pote by die knieë afgesny (om van die kliere wat daar sit ontslae te raak), onmiddellik na die dier se dood, en sy bevinding met die vleis van die dier was ook baie gunstig.

’n Waterbok moet dus addisioneel, tot al die ander voorsorg wat normaalweg met ’n wildskarkas getref word, met spesiale aandag gedurende die afslagproses hanteer word, om te verseker dat die vleis van goeie gehalte is. Indien ’n jagter ‘n waterbok se vleis wil benut, moet hy/sy nie aanvaar dat die slagters weet hoe om dit te doen nie. Juis aangesien daar so ’n wanopvatting is oor waterbokvleis, weet baie min slagters waarskynlik hoe om dit reg te doen! Staan by en verseker dat die korrekte slagproses, soos hierbo beskryf, wel nagevolg word. Die beginsel soos by alle ander diere (wild en mak) bly dat jonger diere se vleis in die algemeen smaakliker is as die vleis van ouer diere en veral ouer manlike diere, maar selfs daardie trofee Waterbokbul se vleis kan benut word, indien Gregor Woods se ervaring in aanmerking geneem word.

  • Last modified on Saturday, 25 April 2015 19:53
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za