Jaggids – die eintlike jagter?

Die aangename herinneringe van die afgelope jagseisoen het my weer laat nadink oor die rol van jaggidse. Baie van ons jag op plase waar die gidse wissel, van ’n gewone plaaswerker wat bloot die rol vervul omdat hy die plaas ken, tot ’n opgeleide gids. Die vereistes vir ’n goed opgeleide gids gedurende bv. ‘n Bosveld jag is die vermoë om ten minste met die jagter in Afrikaans of Engels te kan kommunikeer (so jammer dat só baie van ons as jagters nie ’n swart taal magtig is nie), goeie algemene kennis van die plantegroei, die diere se gewoontes, spore en mis, fyn waarnemingsvermoë, korrekte gebruik van die wind en son, die vermoë om stadig en sag te beweeg, spoorsny en opspoor van die teikenwild, vermoë om die jagter in ’n gunstige posisie te kry vir ’n skoot, spoorsny en die opspoor van gekweste wild, hantering van ’n tweerigting radio, behoorlike en higiëniese slag van diere indien daar nie spesifiek slagters vir die doel op die plaas is nie en die vermoë om bv. die kopvel of masker van ’n trofeëdier volgens die korrekte tegnieke, sonder skade aan die vel, af te slag.

Josef Rapala was so ’n gids en nog meer. Hierdie Tswana het op die plaas Dikgakeng in die Ellisras distrik begin werk as jong man en na amper 30 jaar, is hy oorlede binne maande na lewerkanker by hom gediagnoseer is. Met ons familiejag in Junie 2009 op Dikgakeng, het ek en my twee skoonseuns die voorreg gehad om die laaste keer saam met hom te jag. Hy was duidelik reeds baie siek, maar met ’n ysere wil het hy steeds alles probeer doen om sy plek vol te staan as plaasbestuurder en hoofgids. Ons was voorberei daarop deur die plaaseienaar, maar dit was steeds traumaties om die aangename en geliefde persoonlikheid so skielik te sien wegkwyn. Hy is ook toe kort na ons jag oorlede. ’n Beter gids en mentor sou ek nie self kon kies vir die twee seuns nie, wat in 2008 elk hul eerste bok kon skiet, met hom as gids en leermeester.

Ons as jagters is dikwels geneig om die gids as vanselfsprekend te aanvaar. Na my mening is die jaggids, vir die deursnee jagter wat een of tweekeer per jaar in die veld kom, die eintlike jagter. Al die eienskappe van ’n goed opgeleide jaggids hierbo genoem, maak dit uiteindelik moontlik vir die jagter “om die sneller te trek” op ’n suksesvolle jag!

Baie ervare jagters het dikwels baie van dit wat hulle weet, geleer by jaggidse. Met elke nuwe jaggids wat ons ontmoet, evalueer ons hom waarskynlik gedurende die jag. Soms is ons teleurgesteld, meer dikwels is ons aangenaam verras as ons besef hoe kundig die mense is en met hoeveel toewyding en erns hulle hul werk benader. Met die regte ingesteldheid kan jagters baie leer by die jaggidse wat hulle oor die jare vergesel op jagpaadjies. Ek weet dat die drie winters wat ek bevoorreg was om saam met Josef te jag, my kennis geweldig verbreed het.

Josef het nie net met jou gesels nie, hy het ’n fyn humorsin gehad en die vermoë om met jou te kommunikeer oor alles wat julle in die veld teëkom, soms deur net te wys na ’n vars spoor of mis, ander kere deur dit eenvoudig maar effektief te verduidelik soos nodig. Ek onthou hoe ons met Mark, my seun se eerste jag, die oggend vroeg in die bos was met Josef voor, Mark agter hom en ekself heelagter. Ons het voetjie vir voetjie teen die wind in beweeg en baie mooi rondgekyk of ons Mark se eerste rooibok onder skoot kan kry. Na ’n ruk het ons die lyndraad van die kamp voor ons

gesien, Josef het van rigting verander en onmiddellik het sy versigtige voetjie vir voetjie pas verander na ’n stappas met geen poging om stil te beweeg nie. Mark het omgekyk met ’n groot vraagteken op sy gesig en ek het besef hy verstaan nie wat nou gebeur nie, duidelik wou hy weet: “hoekom ‘jag’ ons nie meer nie?” Ek het vir Josef gestop en gevra om vir Mark te verduidelik wat nou gebeur. Op sy beskrywende manier het hy aan Mark verduidelik dat ons nie nou wild sal kry nie, want ons stap nou, ná die rigting-verandering, saam met die wind na ’n punt in die wildkamp waar ons weer van rigting sal verander, om weereens order versigtig teen die wind in te “jag”. Op die manier benut ons weer die wind reg, die diere kan ons nie ruik nie en ons kans is beter om hulle te verras. Hierdie was een van die lesse vir ’n jong jagter wat bereid was om te leer en wat Mark waarskynlik nooit sal vergeet nie, ook nie wie dit vir hom geleer het nie.

Daar is klein blykies van waardering deur die jagter aan ’n jaggids wat ’n groot verskil in die wêreld van ‘n jaggids maak soos bv. ’n pakkie van sy gunsteling tabak en ’n foto van verlede jaar se jag waar hy saam met die jagter op die foto verskyn. ’n Fooi aan die einde van die jag aan sy jaggids is in die jagter se diskresie, maar is vir die jaggids ’n belangrike aanduiding van die jagter se tevredenheid vir dienste gelewer deur die jaggids. ’n Bedrag wat vir die jagter kleingeld mag wees, sal ’n beduidende beloning vir die jaggids wees. Die jagter moet ook nie altyd dat die feit dat alle wild op sy wenslysie nie gekry is, of ’n gekweste bok na ure se spoorsny nie opgespoor is nie, die grootte van die fooi negatief beïnvloed nie! Dit is nie noodwendig altyd binne die beheer van die jaggids nie. Gebruik eerder die gesindheid van die jaggids gedurende die jag, selfs wanneer dinge skeef loop, as maatstaf van hoe tevrede jy met sy insette was en hoe jy hom daarvoor wil beloon.

Kom ons waardeer elke keer hierdie kinders van Afrika vir hul toegewyde bydrae om ons jag suksesvol en aangenaam te maak, by hulle te leer in hulle “werksplek” en bo alles, wys jou waardering. Dit is die kroon op hulle arbeid!

Mooi loop Josef! Mag die veld mooi en die bokke vet wees daar waar jy nou is!

Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za