Jong Jagters

Met die 2007 jagseisoen op ons drumpel is baie jagters reeds besig met hul voorbereidings, al is dit net met die beplanning van ’n jagtog of twee, drie. Van my beste jagherinneringe is die van voorbereiding en jag saam met my pa as skoolseun. Die opgewondenheid en afwagting soos daar deur die proses gevorder word van die aankondiging deur Pa, die beplanning, die pak van die kortwielbasis Landrover bakkie, die rit na die jagplaas (gewoonlik baie vroeg op ’n koue wintersoggend), die afpak en die jagervaring. Die slaap saam met pa, broer en later swaer in ’n kermisbed onder die sterrehemel in ’n sanderige rivierbed en die Bosveldfisante wat jou met dagbreek luidkeels wakker kekkel. Die trots wanneer aan jou as 14-jarige seun ‘n 1000 hektaar kamp vir die dag toegeken word en jy self besluit hoe laat jy terug kamp toe kom met jou eie jaggeweer oor jou skouer. Jy is maar te bewus dat daar baie verantwoordelikheid saamgaan met die voorreg, soos onder andere, verantwoordelike vuurwapen-hantering en dat indien jy wel skiet, jy sal moet verslag doen vir elke skoot!

In my landwye kontak met ons lede is dit vir my altyd opvallend hoe nou die band tussen ouers en kinders is waar kinders wel op ’n gereelde grondslag saam met pa en ma deelneem aan jag, skiet, kampeer en verwante buitelug aktiwitiete. Ongelukkig is daar ’n baie groot groep van ons jeug wat nog nie betrek word nie vir ’n verskeidenheid van redes, soos bv. verstedeliking, een ouer gesinne, “jag het duur geword” en baie ander sportsoorte waaraan die jeug deelneem. Vir die lede wat nog nie ’n kind of kinders blootgestel het aan die natuur en die wonder en voorreg om te mag jag nie, probeer dit! Die rendement op so ’n belegging kan nie gemeet word nie!

Wie het jou voorgestel aan die opwindende wêreld van jag? Was dit jou Pa, Oupa of miskien ‘n oom wat die grootoog jagtertjie vergesel het op hy/sy se eerste jag. Die aangename herinneringe aan beide die persoon wat jou op die jag geneem het en die jag self, sal met ons bybly vir die res van ons lewe! Daardie ervarings het ‘n reuse bydrae gemaak tot die persoon, bewaarder en jagter wat jy vandag is en het bygedra tot die waardes wat jou tot nou gelei het. Die hoeksteen van jou passie vir jag, skiet en die natuur is in alle waarskynlikheid daar gelê. Jy kan op dieselfde wyse ‘n groot bydrae maak in die lewens van jong, voornemende jagters.

As ‘n jagter weet ek hoe waardevol (letterlik en figuurlik) jagtyd vir elke jagter is en hoe ons die tyd koester wat ons in die natuur kan deurbring, weg van ons modern leefstyl. Een van die mees waardevolle “trofeë” van ‘n jag is die herinneringe daaraan, in die geval vir beide die leermeester en die student. Ons jeug is die toekoms, koester hulle, want in die nabye toekoms moet hulle by ons oorneem, im meer as een opsig. Of hulle toegerus gaan wees vir die taak, gaan afhang van ons, die huidige geslag van jagters!

“In the end we will conserve only what we love;
we will love only what we understand;
and we will understand only what we have been taught.”
Baba Dioum, Africa

 

  • Last modified on Saturday, 25 April 2015 18:03
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za