Verantwoordelike jag en “kopskote”

Die skiet van kopskote deur jagters op wild bly ’n kontroversiële onderwerp en menige debatte het al om die kampvuur ontstaan oor die voor- en nadele daarvan. Die term “kopskoot” is per definisie reeds ’n probleem – ’n dier se brein moet genoegsaam beskadig word om dit suksesvol met die eerste skoot te dood. Daar moet dus na ’n “breinskoot” verwys word om te verseker dat ervare en minder ervare jagters dieselfde taal praat en die implikasies verstaan. Hoekom praat ons nie van ’n “voorlyf” skoot wanneer ons na ’n hart/longskoot verwys nie. Eenvoudig, die koeël moet die spesifieke orgaan (hart en/of longe) genoegsaam beskadig en die “voorlyf” is nie spesifiek genoeg wanneer daar oor suksesvolle skootplasing gepraat word nie. Deur te verwys na “kopskote” word daar veral by die minder ervare jagter en leek ’n verkeerde persepsie geskep oor wat regtig bedoel word.

 

‘n Artikel in Magnum tydskrif van April 2008 (The Head Shot – A No-Brainer) vertel van ’n koedoebul wat laatmiddag in tipiese bosveld terrein op kortafstand voor die kop tussen die oë geskiet is met ‘n 375 H & H Magnum geweer met ‘n 270 grein koeël. Die dier het neergeslaan, soos tipies met ’n kopskoot, maar toe die jagter naderstap, het die dier opgespring en weggehardloop! In die naderende donker kon die jagter die koedoe nie betyds opspoor nie. Die dier is die volgende oggend eers opgespoor en doodgeskiet. Die skoot het altwee die bul se oë so beskadig dat hy totaal blind was en baie bloed verloor het, maar sy brein was ongedeerd en dit met ‘n 270gr / 375 H & H Magnum koeël! Stel jouself die dier se lyding voor gedurende die ure wat verloop het tussen die kwesskoot en die genadeskoot!

Die Vereniging se eerste verantwoordelikheid is die opleiding van ons lede en veral juniors om verantwoordelik op te tree - in die geval spesifiek wanneer hulle jag. ’n Verantwoordelike jagter se primêre verantwoordlikheid is om sy prooi met die eerste skoot so vinnig en SEKER moontlik dood te skiet. Indien jy twyfel, moet nie die skoot skiet nie! Skootplasing het twee elemente nl. die teoretiese of anatomiese kennis van waar bv. ’n bok se hart/long area is. Die tweede is die praktiese vermoë van die skut, om onder “jagtoestande” die koeël so te plaas (afhangende van onder andere die hoek waarteen die dier staan) dat die korrekte orgaan bereik en genoegsaam beskadig word, om die dier so vinnig moontlik te dood. Dit impliseer uiteraard ook die gebruik van ‘n geskikte koeël (gewig en konstruksie) vir die spesifieke kaliber met inagneming van die grootte van die spesie om te verseker dat die koeël diep genoeg penetreer om die organe te bereik en te beskadig. My eie ondervinding met ‘n hart/long skoot op wildsbokke , ongeag hul grootte, indien suksesvol uitgevoer, is die dood van die dier binne 10 tot 20 sekondes, na die eerste skoot geskiet is.

Die volgende aanhaling uit die Erekode van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging is hier van toepassing:

  • “met deernis te jag en net uit die natuur te neem wat ek kan benut”;
  • My vuurwapens met kundigheid en oordeel te benut en met eerbied vir die lewe aan te wend”;

Die “voorreg om te mag doodmaak” en gepaardgaande verantwoordelikheid om die dier met die eerste skoot dood te skiet gedurende jagtoestande, moet met die nodige erns deur elke verantwoordelike jagter benader word.

Daar is geen vergelyking tussen wildoes operasies en jag nie! Gedurende oesoperasies is die doelwit om relatief groot getalle wild te skiet onder gekontroleerde toestande deur skuts met gespesialiseerde toerusting wat dit gereeld genoeg doen om te weet wat hul beperkinge is. Die standaarde vir die wildsvleis produk, deur die mark, vereis skoon (geen lyfskote) karkasse en breinskote is die standaard. Die skietposisie is gewoonlik uit ’n voertuig met een of ander vorm van dooierus. Moet nooit oes of uitdunnings operasies vergelyk en/of verwar met jag nie. ’n Persoon wat diere op die manier oes is nie besig om te jag nie, hy is besig met ’n kommersiele operasie. ’n Jagter jag omdat dit ’n passie by hom is, as gevolg van sy liefde vir die natuur, waar die hoeveelheid diere wat geskiet word nie belangrik is nie. Vir ’n jagter behoort die manier waarop die jag uitgevoer word, die hoof oorweging te wees en die riglyne daarvoor is die aanhaling uit die Erekode hierbo. Vir verreweg die meeste van die Vereniging se lede moet die breinskoot onder jagtoestande soos die pes vermy word, die teiken is eenvoudig net te klein, te beweeglik en die risiko van ‘n gewonde dier, te hoog.

’n Uitstekende artikel deur Gawie Hattingh – “Langafstand-Springbokskiet” – verskyn in die SA Jagter van Oktober 2006. Hierin word sekere elemente vir “langafstand” akkurate skootplasing in detail verduidelik deur o.a te kyk na die akkuraatheid van die geweer en ammunisie, die invloed van afstand (insluitende fout met afstandskatting), en die effek van wind op skootplasing. In die artikel vergelyk Gawie ’n geweer wat 5-skoot groeperings kleiner as 30mm op 100m kan skiet met ’n geweer wat 5-skoot groeperings kleiner as 15mm op 100m kan skiet. Gawie se aanbeveling is dat selfs met die geweer wat 15 mm, 5 skoot groeperings op 100m skiet, moet breinskote op springbokke beperk word op ‘n maksimum afstand van 200m. Vir hierdie model is ’n baie ligte wind van 5 km/u aanvaar. Verhoog die windsnelheid en die praktiese skietafstand krimp verder. In vlakte wêreld waar springbokke en blesbokke tradisioneel geskiet word is winderige toestande al te dikwels ’n probleem waarmee deeglik rekening gehou moet word.

Die lede van die SAJWV wat reeds op die skietbaan deelgeneem het aan die vlakteskietoefening op ’n springbok teiken, kan getuig hoe moeilik selfs ’n goed geplaaste hart/long skoot op 200 en 300 meter kan wees. Op die skietbaan is daar relatief ideale toestande – bekende afstande, windvlae op elke 100 meter om windeffek op die koeël te bepaal, ’n stabiele gemaklike skietposisie, ’n teiken wat “stilstaan” en genoeg tyd om die skoot te skiet.

‘n Onsuksesvolle breinskoot na ‘n dier wat bv. wel in die gorrel of neus tref word, word dikwels nie deur die jagter opgemerk nie – daar word aanvaar die skoot was mis! en die dier gaan ‘n aaklige dood tegemoet a.g.v. infeksie, bloedverlies, dors en honger. Die jagter wat die selfvertroue het om ‘n breinskoot te probeer skiet, het ‘n baie spesifieke verantwoordelikheid om seker te maak dat die skoot wel die hele dier gemis het! Volg op en maak doodseker dat daar nie enige ander deel van die dier getref is nie. Indien jy die selfvertroue gehad het dat jy die ongeveer pomelo grootte brein van bv. ‘n blouwildebees kan raakskiet, hoekom sou jy dan die hele kop van dieselfde dier misgeskiet het?

Dit is nooit ‘n goeie idee om te laat in die dag (met naderende skemer en donkerte) op ‘n dier te skiet nie. Soos met die voorbeeld van die koedoebul hierbo, is dit veral riskant om baie laat in die dag ‘n breinskoot op wild te probeer. Met ‘n kwesskoot onder die omstandighede, selfs al word die kwesskoot verklaar deur die skut, kan die naderende donker verhoed dat die dier opgespoor word en die beste waarop gehoop kan word is om die dier die volgende oggend op te spoor en dood te skiet.

Nog ’n faktor wanneer jagters ’n breinskoot op ’n dier oorweeg onder normale jagomstandighede (nie “oes van wild” nie), is die tipe terrein. Wanneer daar gejag word in vlakte of savanna habitat, kan ’n gewonde dier gewoonlik gesien word oor lang afstande en gevolg word met ’n voertuig, indien nodig, en vinnig die genadeskoot toegedien word. Wanneer daar in bergagtige of bosveld tipe habitat gejag word, is ’n gekweste dier baie moeiliker om op te spoor. Indien die dier opgespoor word is dit dikwels eers ’n dag of ’n paar dae later - reeds dood, of in ’n verswakte toestand. Soms het die jagter reeds die plaas verlaat en betaal vir ’n bok wat nie betyds opgespoor kon word nie. Ten spyte daarvan dat die jagter vir die bok betaal het, is die boer met reg steeds ongelukkig oor die lyding wat die dier gehad het!
’n Uitstekende DVD oor skootplasing is beskikbaar by die Jagterswinkel van die Vereniging by die nasionale kantoor en goedgekeur deur die SAJWV. Die DVD is beskikbaar teen R100-00. Hierdie DVD illustreer verantwoordelike skootplasing uitstekend en in die materiaal word die risikos van “breinskote” baie duidelik uitgewys.

Geniet u jag en ek vertrou u gaan nie rede hê om spyt te wees oor ‘n “kopskoot” wat skeefgeloop het nie

  • Last modified on Saturday, 25 April 2015 17:45
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za