Storietyd!

“Nee Pa, dit is nie hoe jy laas dié storie vertel het nie!” Ek het die vermaning oor die jare meer as een keer van my twee dogters Karlie en Anita gehoor en elke keer kon ek aan die vonkel in my vrou, Henna, se oë sien hoe sy die hele storievertel ritueel saam met ons kinders geniet.

Het storietyd nog sy regmatige plek in elke huisgesin? Ek was bevoorreg om groot te word met ’n Pa wat ons gereeld op stories getrakteer het, en veral met die jagstories het ons kinders aan sy lippe gehang. Uit een van Pa se jagstories het ek die heel eerste keer geleer hoe gevaarlik ’n gekweste gemsbok kan wees en hoe sy Pa (Oupa Andries) diè les prakties in die jagveld aan hom oorgedra het. ’n Les wat ek en hy nooit vergeet het nie en wat my reeds ’n paar keer betyds herinner het dat enige wilde dier gerespekteer moet word vir sy vermoë om jou te kan beseer of dood! ’n Ander jagstorie het vertel hoe hy as jongman saam met ’n vriend in die wintermaande die bitterkoue nagte oorleef het in die duine van die Kalahari, sonder die luukshede wat ons deesdae aan gewoond is (soos bv. spesiale tente, sub-zero slaapsakke ens). Daar was sy les aan ons: respekteer die natuur en sy elemente! Jy kan baie vinnig in groot moeilikheid beland, indien jy agterlosig raak.

Alhoewel my vrou en twee dogters nie jag nie, het hulle oor die jare saam met my lief geraak vir die natuur en gaan hulle graag saam wanneer ek gaan jag. Die kinders was nog voorskool toe ek begin het met kampvuurstories en toe was die koeël deur die kerk! Wanneer ons rondom ’n kampvuur sit wil hulle stories hoor en aangesien die hoeveelheid stories nie onbeperk is nie, moet daar of nuwes bykom of jy moet een vertel wat al ou nuus is en dit so ’n klein bietjie opkikker! Dit is dan wanneer ek gekorrigeer word oor my weergawe van een of ander spesifieke storie indien ek dit waag om dit ’n tweede of derde keer te vertel met ’n effens gewysigde weergawe! Nou is altwee die dogters getroud en met hulle mans wat nou ook begin jag is dit duidelik dat die jagstories verdere momentum gekry het, want gee enige jagter of visserman net ’n halwe kans en hy vertel sy storie – Mark en Chris (die twee nuwe jagters) is geen uitsondering nie.

Wanneer ons familie kampeer of jag, is die nommer een reël soos volg: televisie, radios, enige ander vorm van musiek, rekenaars en selfone is taboe! Ons poog om weer tyd te maak vir mekaar. Dit is só ironies dat die moderne mens in ’n era leef waar ander kommunikasiemiddels soos televisie, selfone, die gedrukte media en rekenaars, uiters effektief is en ten spyte daarvan, of is dit as gevolg daarvan, is een tot een mondelinge kommunikasie in die algemeen waarskynlik die swakste wat dit ooit was in baie huisgesinne, met al die gepaardgaande probleme en dikwels hartseer. Televisie is veral ’n sondebok indien dit veroorsaak dat huisgesinne nie meer genoeg tyd spandeer om sommer net lekker te gesels nie. Storietyd kan tot groot voordeel gebruik word om families nader aan mekaar te bring en dit is ook uiters belangrik dat kinders die geleentheid kry om hul eie stories te vertel!


Jagstories het ’n baie wyer toepassing en moontlike gehoor. Gedurende 2006 het die Pretoria Oos tak van die SAJWV die tradisie van storievertelling op ’n jaarlikse basis begin by ’n April ledevergadering – Aprilmaand is doelbewus gekies as ’n voorgereg vir die jagseisoen. Met die eerste aanbieding in 2005 is Ron Thomson (’n afgetrede wildbewaarder, grootwildjagter en professionele levitra jagter met uitgebreide ondervinding) genooi om as gasspreker by die ledevergadering sy grootwildjag ondervindings met die lede te deel. ’n Groot lapa by die Rietvlei Natuurreservaat buite Pretoria is gekies as die plek vir die geleentheid. Dit was ’n pragtige maar KOUE aand met ’n skoon sterrehemel en die kampvure het die geleentheid soos ’n handskoen gepas.

Die uitleg van die lapa het toegelaat vir ’n groot vuur in die middel in die sentrale vuurmaakarea en rondom die vuur in groter wordende konsentriese sirkels is daar kleiner vuurmaakplekke waar die gehoor bymekaar gesit het in kleiner intieme groepies rondom vure met vuurmaakhout wat vir die aand verskaf is. Hierdie vure was vir atmosfeer en hitte alleenlik en warm kos en drankies is verskaf om te verseker dat niemand se aandag dwaal gedurende storietyd nie. Natuurlik het diegene wat wou, iets sterker saamgebring om te drink en die koue weg te hou.

Hierdie geleentheid was wyd in die tak adverteer met die versoek om gades, kinders en gaste saam te bring. Op daardie stadium was ek betrokke by die takbestuur en ons was aangenaam verras toe ongeveer 300 mense die aand opdaag met ongeveer 80 daarvan dames, kinders en besoekers! Ons was gewoond aan 100 tot 150 persone per geleentheid by ons maandelikse ledevergaderings! Ron het op versoek gefokus op sy Groot 5 jagondervindinge en vir die volgende 2 ½ ure het almal aan sy lippe gehang met jagstories waarvan elkeen net kan droom – maar is dit nie waaroor stories gaan nie – die geleentheid om te droom! Toe hy die storie oor ’n jag op swart renosters voltooi het, vra hy die gehoor wat hulle volgende wil hoor en ’n dame versoek ’n luiperd jagstorie! Die sukses van daardie aand het hierdie geleentheid ’n jaarlikse instelling by Pretoria Oos tak gemaak.

Jonk en oud, kan by uitstek baat vind by die vertelling van stories, in meer as een opsig. Jagstories is ’n kragtige medium indien dit in die regte konteks gebruik word (’n jagstorie wat ontaard in ’n spogsessie deur die verteller verloor gou sy aantrekkingskrag) rondom ’n gesellige kampvuur, met mense van jou keuse en wat jy ookal verkies in terme van eet- en drinkgoed. Die Eskimo’s, San (Boesmans) en ons eie Voortrekkers is slegs ’n paar voorbeelde van jagkulture waar kennis en ondervindings uiters suksesvol oorgedra is van generasie tot generasie. Hierdie oordrag is hoofsaaklik gebaser op verbale kommunikasie – met storievertellings wat ’n belangrike rol gespeel het – en deur praktiese demonstrasie (wys en vertel).

Wanneer jou kinders vir jou begin sê dat jy verkeerd is, besef jy dikwels dat jou ouers al die tyd REG was! Die enigste probleem is dat jou ouers dalk nie meer daar is, vir jou, om omverskoning te vra wanneer jou jou fout agterkom nie. Ek glo baie sterk daarin dat die verlede uitstekende voorbeelde bevat van ‘n lewenswyse wat werk, ons behoort dit nie te vergeet nie (indien jy wel vergeet, gaan jy hopelik gouer as later jou fout agterkom) en storietyd is een daarvan!

  • Last modified on Saturday, 25 April 2015 17:39
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za