Mites en legends is deel van alle kulture op die aarde. Dit ontstaan dikwels tydens storietyd wanneer Oupa of Ouma die kleingoed aan die slap moet kry of met een of ander groot storie die kleintjies moet vermaak. Dan word alles so effens aangedis en op die ou end is daar ‘n legend. Dit ontstaan ook dikwels as gevolg van onjuiste waarnemings wat dan as evangelie vir al wat leef en beef aangebied word. In die wêreld van natuur en bewaring is daar ook baie mites en dikwels het dit op die natuur ‘n bitter negatiewe impak. Deur die jare heen het ek omtrent alles gehoor, veral as dit kom by stories oor roofvoëls en veral aasvoëls.

“As die aasvoëls draai is daar ‘n dier dood; aasvoëls eet nie aan diere wat deur die weerlig doodgeslaan is nie; aasvoëls dra miltsiekte rond, aasvoëls eet vrot vleis.” Dis maar net ‘n paar van die stories wat in Suid-Afrika onder die landelike mense ontstaan het en vandag as die algemene waarheid aanvaar word. Dis bitter moeilik om by ‘n vergadering van boere of selfs jagters met ‘n stroewe gesig na al hierdie wonders te luister sonder om uit te bars van die lag nie. Hier is iets oor die waarheid van aasvoëls en hulle gedrag:

G’n regdenkende aasvoëls sal sirkel as daar beskikbare prooi op die grond lê nie want dan  verloor hy die kans om vir die kos te kompeteer. As die aasvoëls iets eetbaar opspoor word die vlerke ingetrek, die lugremme losgemaak en die spoed af aarde toe drasties verhoog. Hoe gouer die aasvoël op die grond kom hoe beter is die kans om ietsie te ete te kry. Dis wanneer die karkas kaal gevreet is en die voëls se kroppe vol is wat hulle met swaar lywe die lugstrome opsoek en al hoer en hoër sirkel om terug te vlieg na hulle plek van herkoms.

Aasvoëls sal beslis weerligslagoffers vreet maar as die karkasse nie enige oop plekke het nie, gaan die voëls dit nie benut nie totdat mens of wilde dier die karkas oopmaak. Ek het meer as 60 weerligslagoffers self by aasvoëlrestourante afgelaai en elkeen daarvan is verorber want ek het die vel op verskeie plekke oopgesny sodat die voëls die vleis kon bykom.

Dit is onbetwisbaar dat aasvoëls wel miltsiektespore sal optel as hulle karkasse van miltsiekslagoffers vreet. As die voëls egter die vleis verteer word patogene total vernietig en die mis dra dus nie miltsiekte oor nie. Wat wel moontlik is, is dat miltsiektespore aan die aasvoëls se voete vaskleef en dat die spore by drinkplekke gedeponeer kan word. Daar is egter geen bewyse dat aasvoëls miltsiekte versprei buite die endemiese areas nie. Hulle dra beslis by tot die bekamping van die verspreiding as hulle miltsiekslagoffers opvreet voordat die siekte kan sporileer.

Jare gelede was Monster my eie kransaasvoël ook die proefkonyn vir alles wat ek op aasvoëls wou toets. Hy is in een van die proewe blootgestel aan ‘n keuse van vars, rou vleis, vars gaar vleis, vleis wat effense begin ruik het en vleis wat al ver heen was. Monster het die gaar vleis net een byt gegee en dit met sy nek se slingerbeweging baie ver weg gegooi. Die vars vleis is uitgekies en verorber terwyl die vrot vleis geen aftrek gekry het nie. Sy voorkeur was altyd vars perdevleis of beesvleis en vark is nooit aan geraak nie. Miskien was Monster half-Jood soos sy baas!

Die probleem met mites en legendes is dat mense dit veel eerder glo en aanvaar was wat hulle wetenskaplike inligting aanvaar. Baie mites en legendes oor die wilde diere is uiters negatief en dit laat die diere aan die genade van die mensdom oor. Die Suid-Afrikaanse regering het tot so onlangs as die laat vyftigerjare mense beloon wat aasvoëlkoppe by die landdroskantore ingelewer het: die rede was dat aasvoëls as gemors afgemaak is.

Die geloof wat steeds by baie van die Afrikagemeenskappe heers dat aasvoëls die toekoms kan voorspel lei daartoe dat aasvoëls vir tradisionele medisyne doodgemaak word om die lottery en perdewedrenne se uitkoms te voorspel. Hierdie praktyk kan moontlik die einde van ons land se aasvoëls beteken. Gelukkig vir die aasvoëls is grondeienaars waar hulle voorkom baie erg oor hulle aasvoëls en hulle verleen goeie beskerming aan die aasvoëls. Tyd sal leer of ons die oorlog teen skadelike mites en legendes oor die natuur kan verander....