Saamgestel deur: Lizanne Nel (Bewaringsbestuurder SA Jagters), Jaco van Deventer en Hendrik Hagen (Bergriviertak SA Jagters). Junie 2019.

Hondsdolheid is een van die mees gevreesde siektes wat ‘n mens of dier kan opdoen. Alle soogdiere is vatbaar vir die virus, asook mense en infeksies vind plaas deur blootstelling aan speeksel van ‘n besmette dier of mens, soos wanneer gebyt word deur ‘n hondsdol jakkals of hond. Simptome van hondsdolheid sluit die volgende in: spierspasmas, oormatige speeksel afskeiding, waansin en vrees vir water. Indien ‘n mens of dier eers gediagnoseer is met die siekte, is dit basies ‘n doodsvonnis en daar bestaan geen behandeling wat effektief is nie. Dit is gevolglik kritiese van belang om voorkomend op te tree.


Hondsdolheid is inheems aan Suid Afrika en vir die eerste keer in 1928 bevestig na die dood van twee kinder swat deur ‘n muishond in die Wolmaranstad distrik gebyt is. Tussen 1975-1985, het hondsdolheid in koedoes in Namibia gelei tot sterftes van tussen 30 000 to 50 000 diere. Hierdie jaar, is daar reeds enkele gevalle aangemeld in die Oos- en Wes-Kaap, asook in Limpopo, met drie sterftes van mense wat gedokumenteer is nadat hulle deur honde gebyt is. In die Wes-Kaap is twee spesifieke areas waar hierdie gevreesde siekte meer algemeen voorkom as in die res van die provinsie. Die een gebied is in die Swartland (Porterville, Piketberg, Moorreesburg) omgewing en die ander gebied is in die Karoo rondom Beaufort Wes. Bergriviertak van SA Jagters het tydens ‘n onlangse uitbraak in die streek, vinning gereageer om bewustheid te skep by lede en die publiek.

Jakkalse en ander wilde diere soos muishonde, die aardwolf, vlêrmuise en alle meerkatsoorte is draers van die hondsdolheid virus. Alle diere wat hul blyplek of gate deel of deur ‘n positiewe hondsdol dier gebyt word, kan aangesteek word. Nie alle individue van hierdie wilde spesies is egter draers van die siekte nie en hul speel ‘n baie belangrike funksie in ekologiese prosesse soos om byvoorbeeld insekte en knaagdiere te beheer. Honde is die mees prominente draers van die virus met meer as 99% van menslike sterftes wat deur geinfekteerde honde veroorsaak word.

Hondsdolheid is n aanmeldbare siekte. Sodra ‘n wilde dier waargeneem word wat enige abnormale gedrag openbaar, wat “mak” voorkom of sy vrees vir mense verloor het, wat in ‘n erf of plaaswerf ronddwaal of tekens toon van agressie, moet ‘n mens aanvaar dat hierdie dier wel hondsdolheid onder lede kan hê en moet die naaste Staatsveearts onmiddelik gekontak word. Mense en veral kinders en troeteldiere moet verwyder word na ‘n veilige area om kontak met die siek dier te vermy. Die Staatsveearts sal die dier verwyder en wegstuur om vir hondsdolheid getoets te word. Die dier se brein word weggestuur vir die toets, so indien die siek dier van-kant gemaak word, moet die brein nie beskadig word nie. Besmette diere moet onder geen omstandighede hanteer word nie, selfs al is die dier dood. Sou ‘n persoon egter wel besmet word, moet hul onmiddellik behandeling kry en ‘n entstof ontvang wat beskerming verskaf teen die virus indien dit gou genoeg toegedien kan word.

Dit is van kardinale belang dat ons gereeld ons troeteldiere teen hondsdolheid laat inspuit. Wanneer jong troeteldiere ingespuit word teen hondsdolheid vir die eerste keer (3 maande ouderdom), moet dit opgevolg word met ‘n tweede inspuiting binne 30 dae om sodoende effektiewe immuniteit op te bou teen die siekte. Dit is ‘n wetlike vereiste dat alle troeteldiereienaars hulle honde en katte elke tweede jaar moet laat inspuit teen hondsdolheid.

Sodra daar ‘n positiewe hondsdolheid geval in ‘n gebied bevestig word, sal die Staatsveeartse ‘n gratis inspuiting-veldtog van troeteldiere in die betrokke gebied kom uitvoer. Dit is dus van uiterste belang dat alle moontlike gevalle van hondsdolheid onmiddelik gerapporteer word aan die Staatsveeartse.

Vir meer inligting kan ‘n riglyn oor hondsdolheid wat deur Departement Landbou saamgestel is hier geraadpleeg word.