Weghol-pryse vir wild – ‘n ekonomiese borrel wat groot risiko’s inhou vir bewaring

Die beleggingspotensiaal van wild, veral siektevrye buffels uit oos-Afrika, swartwitpense, bastergemsbokke en Livingstone elande, het onlangs heelwat blootstelling in die pers geniet. Uitlatings van deelnemers in die wildbedryf in Financial Mail van 16 Augustus 2013, dat skommeling in die mark plaasvind wat pryse laat styg en daal, maar dat die borrel nooit sal bars nie; dat prysstyging volhoubaar is; en dat 80% wins per jaar op beleggings in top teeldiere bereikbaar is, plaas hierdie bedryf vierkantig binne die definisie van 'n borrel.

Sir Isaac Newton se woorde:  “What goes up must go down” word algemeen in die finansiële beleggingsmark aangehaal. Dit is nét so van toepassing by ander beleggings met prysstyging van soortgelyke omvang as wat die wildbedryf ervaar. Net soos godsdiens (om 'n eenvoudige voorbeeld te gebruik) op die stryd tussen goed en kwaad gebaseer is, funksioneer markte teen die agtergrond van gierigheid en vrees. Wanneer gierigheid toeneem, heers 'n bulmark; wanneer vrees die oorhand kry, heers 'n beermark. Waneer hoë opbrengste beklemtoon word, stimuleer dit gierigheid, en wanneer risiko's verdoesel word, verminder vrees wat 'n wanbalans skep en teelaarde bied vir 'n ekonomiese borrel.

'n Ander artikel in Moneyweb (9 Oktober 2013) wat lui, “Why do business heavyweights like Johann Rupert invest in buffalo?” gaan verder en vergelyk die opbrengste wat buffels en swartwitpense lewer met die JSE All Share Index en die Dow Jones Industrial Average. Stellings soos: “Even those without the land, skills and knowledge can participate and follow in the footsteps of business giants like (Cyril) Ramaphosa and (Johann) Rupert and reap handsome benefits” is onverantwoordelik en sal beslis die aandag trek van die Raad op Finansiële Dienste indien daar na finansiële instrumente verwys sou word.

Daar is een onveranderbare, onvermydelike feit van enige belegging - hoër opbrengste gaan gepaard met soortgelyke hoër risiko. Wanneer mense begin praat van hoër opbrengste op beleggings sonder om die risiko's in ag te neem, of erger nog, daarop sinspeel dat lae risiko met 'n hoër opbrengs verband hou, moet beleggers uiters versigtig wees.

Daar was talle borrels in die verlede, van die Tulip Mania van 1636/7; die Suidsee borrel van 1771 of die massiewe kommoditeite borrels van die 1970s; die Tokyo bate prys borrel in die laat 1980s; die volstruis borrel in die VSA, Suid-Afrika en Namibië in die vroeë 1990s; en selfs die meer onlangse sub-prima verbandkrisis in die VSA wat grootliks deur die behuising borrel veroorsaak is.

Bogenoemde gebeure was gekenmerk deur beleggers wat vorige finansiële prestasie gebruik het om toekomstige prestasie te regverdig sonder om ag te slaan op die werklike waarde van die onderliggende bates. Al hierdie gebeure, en ek bedoel elke enkele een, is deur 'n voortgesette stroom van nuwe beleggers gedra wat bereid was om in te koop. Toe nuwe beleggers skaars raak, het die prys in duie gestort.

Daar is talle modelle wat verduidelik hoekom borrels ontstaan, waaronder ekstrapolering (wanneer vorige prestasie knaend gebruik word om toekomstige prestasie te regverdig); die groter dwaas teorie (daar is altyd 'n groter dwaas wat die belegging by jou sal oorneem); en die kuddedier-teorie (mense is geneig om die stroom na te volg, bv. koop wanneer ander koop en verkoop wanneer ander verkoop). Kortliks, borrels ontstaan wanneer die prys waarteen 'n bate verhandel, bepaal word volgens vorige finansiële prestasie en nie op 'n in-diepte analise van die intrinsieke of grondliggende waarde van die bate nie. Alle borrels het die volgende in gemeen: bates verhandel teen baie hoër vlakke as die intrinsieke waarde, die vroeë toetreders maak geld, die laatkommers verloor geld, terwyl die oorgang van voortdurende prysverhogings na skerp prysverminderings katastrofiese gevolge het.

Pryse van “top gehalte genetika”, soos diere met buitengewone lang horings, kan nog vir 'n ruk styg aangesien verhandeling byna uitsluitlik plaasvind tussen 'n paar uiters welgestelde individue waar die integriteit van die prys aanvegbaar kan wees. Dit grens ook effens aan oneerlikheid om diere wat vir enkele uitstaande eienskappe geteel word as geneties superieur aan te bied. Hulle word in klein beskutte kampe geteel, kom daagliks met mense in aanraking, en sal uiteindelik noodsaaklike oorlewingseienskappe verloor wat hulle geneties verswak. Hoe minder oor kleurvariasies gesê word, hoe beter. Die diere met langer horings mag oor die kort termyn die aandag van trofeejagters trek. Kleurvariasies soos goue wildebeeste en swart rooibokke kry min aftrek by jagters en hou 'n genetiese risiko in vir wilde bevolkings.

Wat my betref, lê die grootste risiko's van teling vir horinglengte in die uitwerking wat dit op bewaring kan hê. Die ekonomiese volhoubaarheid van wildboerdery (dus bewaring buite geproklameerde wildreservate in Suid-Afrika) is grootliks afhanklik van inkomste uit jag. Volwasse trofeebulle wat reeds hulle genetiese fleur verloor het, kos heelwat meer as die ander diere en maak dus 'n oneweredige bydrae tot die jaginkomste van die gemiddelde wildplaas. Indien internasionale jagverenigings die egtheid sou bevraagteken van trofeediere in Suid-Afrika waarvan horinglengtes kunsmatig gemanipuleer is, sal daar nie onderskeid gemaak word tussen wildplase waar diere natuurlik voorkom en plase waar diere vir horinglengte geteel word nie. Alle trofeë vanuit Suid-Afrika sal dus verdag wees.

Indien 'n mens in ag neem dat private wildplase 20.5 miljoen hektaar beslaan met 'n geraamde 18 miljoen stuks wild teenoor die 7.5 miljoen hektaar met 6 miljoen stuks wild onder regeringsbestuur, is enige ontwikkeling wat die potensiaal het om die inkomste van só 'n groot deel van die Suid-Afrika se totale wildbewaringslandskap te benadeel, van groot betekenis.

Chris Niehaus
Niehaus is 'n voormalige beleggingsanalis, ondervoorsitter van die JSE en HUB van HSBC Securities (Asië). Hy is tans HUB van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringvereniging, die grootste jag en wildbewaringsvereniging in Suid-Afrika.

Rate this item
(0 votes)
  • Last modified on Thursday, 06 September 2018 10:56
  • font size

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za