Jagters bring verligting vir droogtegeteisterde Sutherland

‘n Beskeie welwillendheidsgebaar van ‘n paar sakke mielies vir boere in die droogtegeteisterde Sutherland in die Noord-Kaap, het binne weke gegroei tot 480 ton voorraad om die ergste droogte in 'n lang tyd in hierdie streek te verlig. Tot dusver, word die totale waarde van die droogtebystand op R1,04 miljoen bereken, nadat die gemeenskap in die Overbergdistrik hul harte en beursies oopgemaak het.

Hierdie projek het begin nadat twee lede van die Overberg-tak van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) uit empatie ‘n paar sakke mielies by boere in Sutherland gaan aflaai het. Aangegryp deur die ellende van mense en diere in Sutherland, het Frank Esterhuizen en Essie Esterhuyze besluit om hul mede-jagters vir skenkings te nader sodat hulle meer voer na hierdie streek kon stuur.

Sutherland is een van vele streke in die land waar daar droogte heers, maar weens sy ligging ver van hoofroetes af, kry dit min hulp van ander droogtehulpprojekte. Vervoer is een van die groot struikelblokke om voorraad by hierdie streek uit te kry.

Frank en Essie se uitreikprojek vir die gemeenskap van Sutherland het jagters en ander inwoners in die Overberg aangespoor om geld en voer te skenk. Boere van die omgewing het voer beskikbaar gestel terwyl kontantskenkings ingestroom het om voer en ander noodsaaklike items aan te koop wat die mense van Sutherland broodnodig het. Skenkers kon geld direk in KaapAgri se bankrekening deponeer om vir nog voer te betaal. Kaap Agri het self ook mildelik bygedra terwyl ander sakelui in die omgewing op verskeie tasbare maniere hulle kant gebring het.

“Nie een van ons kon dink dat droogtehulp so vinnig sou groei van twee bakkies na agt bakkievragte nie,” vertel Justus Harms, voorsitter van SA Jagters se Overberg-tak. “Toe ons sleepwaens nodig gehad het, het Jimmy’s Trailers van die Strand ingestem om vyf sleepwaens vir drie dae gratis te verskaf.

“Baie van ons boere, wat begrip het vir die nood in die landbousektor, het sonder om te skroom, voer geskenk om die voertuie vol te pak. Die eerste konvooi voer het op 24 November 2017 om halfagt die oggend uit Villiersdorp vertrek en teen 12:00 was ons in Sutherland. 'n Vyftien-ton-besending is op die skougronde aan Sutherland se droogtekomitee oorhandig wat die voer onder die boere verdeel het.”

Overberg konvooi na Verlatenpas

Dit was egter nie die einde van die storie nie. Twee maande later op 23 Februarie het ons wéér so gemaak. “Overberg-tak het sedert November 2017, reeds 480 ton droogtehulp na Sutherland geneem. Van die plase het onlangs vir die eerste keer in vyf jaar reën gekry, maar dit gaan nog jare neem vir hierdie gebied om te herstel. Die mense kry baie swaar. Party dae is daar nie kos op hulle tafels nie,” sê Justus.

Na sewe konvooie se droogtehulp aan die mense en diere van Sutherland, staan die Overberg-tak se Droogtehulp-projek tans op R1 041 000 wat bestaan uit:  

  • 82 ton mielies ter waarde van R287 000
  • 333 ton strooibale ter waarde van R293 000
  • Kruideniersware ter waarde van R47 000
  • Die totale afstand afgelê deur die konvooie voertuie was 36 000 km
  • Brandstofkoste het R164 000 beloop
  • Kontant skenkings vir die aankoop van voer, kruideniersware, brandstof ens was tot dusver R250 000

Die vervoerkoste sluit net die direkte brandstofkoste in. Die gebruik van die bakkies, vragmotors en sleepwaens is nie hierby ingesluit nie en is deur individue en sakelui van die Overberg geskenk.

Overberg-tak se bestuur en ander helpers verdeel massasakke

Justus sê hulle is baie dankbaar vir al die hulp. Die Overberg-tak het veral groot waardering vir Danie de Waal wat al die logistieke reëlings getref het om die voer en ander skenkings gelaai te kry en te vervoer. ‘Sonder sy toewyding en harde werk sou hierdie projek nooit so ‘n groot sukses gewees het nie.”

Justus hoop dat ander takke van SA Jagters en hulle gemeenskappe hierdie voorbeeld sal volg en ook die hand sal uitsteek om droogtegeteisterde gebiede in ander dele van die land te help. “Ek weet van boere in die noorde van die Oos-Kaap wat hulle plase se sleutels by hulle buurman gaan aflaai het en weggery het. Ek glo daar is voer in die suide van die Oos Kaap wat verligting kan bring.”

Overberg-tak se droogtehulp is met groot verligting en dankbaarheid ontvang. “Jy kon die dankbaarheid in hulle oë lees. Ons as jagters is ook bewaarders. Dít is waarvoor die Vereniging staan. Ek hoop dat die publiek besef dat ons nie net uit die natuur neem nie, maar dat ons teruggee.”

Die droogtehulp-projek gaan voort. Overberg-tak wil nog meer voer bymekaar maak. Mense en ondernemings wat 'n bydrae wil maak, kan met Justus in verbinding tree by 0824974230 of justus@supremespares.co.za

Die nood is steeds groot en enige skenkings aan Overberg-tak se droogtefonds word verwelkom. Geld kan in enigeen van die volgende bankrekenings betaal word:

Kaap Agri bankbesonderhede (gebruik 43308 as verwysing)
ABSA rekeningnommer: 380 000 350
Takkode: 632 005
FNB rekeningnommer: 6210 818 5663
Takkode: 250 655

Overberg-tak se bankbesonderhede (gebruik DROOGTE as verwysing)
FNB
Takkode: 200312
Rekeningnommer. 6211 487 1016

Konvooi op pad na Sutherland



Rate this item
(0 votes)
  • Last modified on Thursday, 06 September 2018 10:42
  • font size

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za